’n Nuwe akademiese jaar het begin; so ook die lesings van die MDiv-studente by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Hulle is almal dominees in wording: NG, VG, Hervormd, Luthers. ’n Dosent en studente** vertel meer …
Die studente en dosent dink saam oor eredienste en prediking. In die middel van ons module vier ons Aswoensdag. Die een been van die module is dus in Epifanie (die viering van verskyning) en die ander been is in Lydenstyd (die herdenking van lyding). Die studente gaan almal dominees in Suid-Afrika wees, die dosent is reeds een, so ons vra doelbewus die vraag: “Hoe preek en lei ’n mens eredienste in ’n konteks van ongelykheid, armoede en geweld?” Eredienste en preke is praktyke vir verskyning. Die praktyke word uitgevoer in ’n konteks van lyding. Maar, so besef ons soos die module vorder, soms is die verskyning in die lyding. Ons gesprekke wissel dus voortdurend tussen lyding en verskyning.
Elke oggend begin met ’n klasopening wat die studente waarneem.

Een groep wys ’n foto wat tydens die Tweede Wêreldoorlog geneem is. ’n Katolieke priester het die enjinkap van ’n weermagvoertuig in ’n altaar omskep en bedien van daar af die Mis in ’n oorlogsone. Ons vra kritiese vrae oor die gepastheid van dit wat ons sien. Ons spreek waardering uit vir die pastorale potensiaal van die viering. Maar, meer nog, ons besef dat te midde van die lyding van ’n oorlog nagmaalstafels op weermagvoertuie kan verskyn, maar ook dat nagmaalstafels soms weermagvoertuie van lyding word.
Die volgende groep vertel vir ons met statistiek hoeveel mense in ons land onder die broodlyn leef. Dit is ontstellend, maar statistiek op ’n PowerPoint raak my nie regtig nie. Dan hoor ons baie arm mense oorleef op suikerwater. Uit plastiekglasies drink almal suikerwater. Statistiek word sakramenteel.
Nog ’n groep wys ’n foto van die nagmaal wat in ’n tronk deur die tralies van ’n seldeur bedien word aan ’n gevangene in eensame afsondering. Die priester roep die gebeure in herinnering: “The food slots were locked … Anything we wanted to share had to be sent under the door. I put the host on the floor, on a piece of paper. He pulled it back under the door. This, I thought, is the holiest moment of my life. This is what reverence for the blessed sacrament means: to set the broken body of Christ on the filthy concrete floor as Christ reaches down from heaven and the cross to embrace all people.” Verskyning in ingeperkte lyding.
Nog studente doen hulle dagopening terwyl beeldmateriaal gespeel word oor wat op hierdie oomblik in Gasa gebeur. Die klank is hard. Bomme val. Trane vloei. Mense, ook baie kinders, hardloop vir skuiling. Een student lees te midde van die lawaai Psalm 140: “Red my, Here, van slegte mense; hou my veilig teen geweldenaars …” Die studente kies nie kant nie, maar praat reguit en verduidelik dat die nagmaal vir só ’n konteks ingestel is. Dit is ’n Nagmaal, dit is juis bedoel vir die “nag”tye van die lewe. En miskien gaan die ellende wat Psalm 140 verwoord vanoggend nie oor ons nie. Epifanie meng opnuut met die Lydenstye van die lewe.
’n Ander groep maak ons stil met ’n klein liturgie gebaseer op die Belharbelydenis. Een student speel viool terwyl aangrypende stukke uit die Belharbelydenis vertoon word. Donker skyfies benoem wat verkeerd is en vat saam: “In essence, these words from the Belhar Confession serve as poignant reminders of the human toll of injustice and the urgent need for solidarity, compassion and reconciliation. They stir the soul, igniting a flame of empathy and urging us to stand against oppression in all its forms.” Ligter skyfies volg en verwoord en verbeeld moontlikheid: eenheid, versoening, geregtigheid. Die laaste beeld is ’n gedekte tafel met hande wat uitnooi om te kom aansit.
“Just as it often happens that one person is not on speaking terms with another, so too it sometimes happens that one person is not on listening terms with another,” skryf Nicolas Wolterstorff in The God we worship. In die klas besef ons ons is “on speaking terms” oor onsself en ons eie probleme. Maar ons twyfel of ons werklik “on listening terms” is met ’n wêreld in nood. Wanneer ons die woorde “klag” of “lament” hoor, is ons default posisie om te dink dit is ons wat moet kla sodat almal kan hoor van ons ellende. Ons besef, soos wat die oggendopeninge vorder … dalk is die klag nie altyd vir ons bedoel nie. Soms is dit wat van ons verwag word, om ons oop te stel vir ander se klag. En om bereid te wees om werklik daarna te luister en dit ter harte te neem.
Die teoloog Jakub Urbaniak skryf tereg: “One has to ask, however, if the time (Kairos) has not come for South African theologians to listen more carefully to, and allow themselves to be informed by, the angry voices of those who feel that the post-apartheid socioeconomic system has failed them and betrayed them.”
En die teoloog John Witvliet is van mening dat dit dikwels oor die boeg gesien word dat die Psalms juis ook in die erediens moet funksioneer sodat ons ander se lyding kan hoor. Maar hoekom sal ’n mens dit wil doen? Hoekom sal jy jou bewustelik oopstel vir ander se lyding? Wolterstorff skryf: “The suffering of the world is also an epiphany of God – sometimes of the anger of God, sometimes of the gift of God, but always, I suggest, of the suffering of God.”
Dit is nie lekker om die nood van ander te hoor nie. Maar miskien, miskien is daar soms ’n verskyning in lyding.
** Bydraers tot hierdie artikel: Lindiwe Baartman, Jörgen Barnard, Nicolette Bester, Chaldin Bezuidenhout, Christiaan de Klerk, Rutendo Gora, Christian Heath, Gerrit Hugo, Marlon Petro, Elizabeth Rossouw en prof Cas Wepener, dosent: Homiletiek, aan die Universiteit Stellenbosch.