Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Cornelia Liebenberg laat nie toe dat swak sig haar keer om maratons te hardloop, driekampe te doen of Ystermankompetisies aan te pak nie. Foto's: Verskaf

‘As ek terugkyk op my lewe kan ek sien hoe God my gehelp het’ – blinde Ystermanatleet vertel haar storie


Cornelia Liebenberg van Bellville is geklassifiseerd blind, maar dit keer haar nie om aan ekstreme sportgeleenthede soos die Ystermankompetisie deel te neem nie. Heléne Meissenheimer het met haar gesels.

“As ek nou met my jonger self kon praat sal ek vir haar sê net omdat jy nie so goed kan sien soos ander kinders nie beteken nie jy hoef bang te wees vir die toekoms nie.”

So gesels Cornelia waar ons in die klein tuinwoonstelletjie sit wat sy deel met Athena, haar swart Labradorgidshond. Vir my, wat skaars ’n meter van haar af sit, kan sy glad nie sien nie. So ook nie vir Athena wat haar lê en dophou vanaf ’n kussing op die vloer nie. Sy kan net die helder middaglig sien wat by die agterdeur instraal.

Geborg

Haar blonde hare is in ’n poniestert en sy het nog haar oefenklere aan. Vir Cornelia is fikswees ononderhandelbaar deel van haar lewe. Sy en Athena is ’n bekende gesig in die strate van Bellville asook by ’n plaaslike gymnasium waar die hond geduldig langs die swembad wag terwyl Cornelia lengtes oefen.

Hierdie fyngeboude 48-jarige lidmaat van die NG Gemeente Bellville-Wes laat nie toe dat swak sig haar keer om maratons te hardloop, driekampe te doen of Ystermankompetisies aan te pak nie.

Sy is juis nou weer besig om hard te oefen vir 2024 s’n (haar derde Ysterman) wat in April gebeur. Dit maak haar een van net ’n paar blinde driekampatlete wat al meermale saam met ’n gidsatleet aangetree het vir hierdie ekstreme sportuitdaging wat neerkom op byna 4 km in oopsee swem om daarna  ’n draf- en fietsrymaraton te voltooi.

“God het my die vermoë gegee om vas te byt,” vertel sy toe sy ook onlangs haar getuienis gedeel het met LiG vir die God se krag in my krisis-videoreeks.

Cornelia sê dit is wat die lewe haar geleer het: “As jy heeltyd vaskyk in die ding wat jou keer om dit te doen dan gaan jy nêrens kom nie. Daar sal altyd iemand wees wat ’n hand uitsteek en sê kom ek help jou.”

Haar jonger self, na wie sy pas verwys het, was die swaksiende tiener wat bykans 20 jaar terug na matriek gewonder het hoe sy gaan regkom met studeer en daarna werk as sy nie kan sien nie. Haar sig was toe so 3-4% (normaal is 100%). “Baie beter as nou,” sê Cornelia. Sy verduidelik dat dit omskryf kan word as funksionele visie of soos sy dit stel, “genoeg om met genade op jou eie fiets te kan ry veral as jy die omgewing goed ken”.

Cornelia en Athena is ’n bekende gesig in die strate van Bellville

Sy was nege toe sy en haar ouer broer Chris gediagnoseer is met ’n oorgeërfde oogkondisie bekend as makulêre degenerasie. Dit beteken jy verloor jou sentrale sig maar behou tot ’n mate jou periferale visie. Hulle is vertel daar is nie mediese behandeling hiervoor nie. Die gesin het uit KwaZulu-Natal na die Kaap verhuis sodat die twee kinders by die Skool vir Blindes op Worcester kon skoolgaan.

Geborg

Cornelia was al in haar 30’s toe ontdek is dat sy verkeerd gediagnoseer was. Die degeneratiewe oogkondisie wat sy het word genoem retinale pigmentosis. Dit lei tot verlies van periferale sig terwyl die sentrale visie verdof – so ’n “Vaseline-agtige vaal voorkoms”, verduidelik sy. Haar sig het oor die jare soveel verswak dat sy vandag met minder as 1% sig geklassifiseerd blind is. Sy moet haar selfoon reg voor haar oë hou om enigiets te kan sien, selfs dan steun sy sterk op die apparaat se ‘blikstem’ om die regte knoppie te kry.

Dit het ook beteken dat sy na net ’n paar jaar moes ophou werk as kleuterskoolonderwyseres. ’n Paar jaar terug het selfs om in ’n oproepsentrum te werk vir haar te stresvol geword het want sy kan nie op die rekenaarskerm sien waarheen om oproepe deur te sit nie. Sy oorleef op ’n ongeskiktheidstoelaag, maar sy kla nie.

“Om te hardloop is my happy place,” sê Cornelia.

“Jy moet net wat jy het waardeer. As ek stap sê ek vir die Here dankie dat ek vandag kan stap. Dankie dat ek die son kan voel skyn, dat ek gesond en veilig is. As ek terugkyk op my lewe, dan sien ek hoe die Here my gehelp het,” sê sy.

Sy sien ook God se Hand in al die mense wat oor haar pad kom en haar op allerhande maniere help. Op haar Facebookblad noem sy hulle die “angel kisses” wat haar help om staande te bly te midde van haar hartseer omdat sy besig is om selfs die bietjie sig wat sy het, ook te verloor.

“These angel kisses is like an invisible hand holding on to me through life. Sometimes life is difficult but when I think clearly again and look beyond the difficultness I see the Angel kisses,” skryf sy.

Saam met vriendskappe, is om te kan swem, draf en fietsry haar lewe. “Om te hardloop is my happy place,” sê Cornelia. In lyn met wat al meer kenners ook sê, het sy ook ontdek dat wanneer omstandighede druk of ’n mens bloot net ongelukkig voel, dit help om jou lyf in beweging te kry sodat die adrenalien kan pomp en die betervoel-endorfiene kan vloei.

Toe sy dus nege jaar terug in hierdie tuinwoonstel in Bellville naby Kaapstad kom bly het, het sy geweet daar is twee plekke waar sy wil aansluit om mense te ontmoet: die kerk en die plaaslike atletiekklub.

Geborg

Eers het sy net saam met lede van die klub aan padwedlope soos die Two Oceans en later ook die Comrades deelgeneem. “Dit gee my so ’n hoendervleisgevoel om saam met ander so te hardloop,” sê sy. ’n Paar jaar terug is sy genooi om saam te kom op ’n driekamp (swem, draf en fietsry). Dit was haar eerste oopwaterswem en dit was traumaties, onthou sy. “Ek het daai dag gedink ek gaan verdrink.” Maar Cornelia is nie een vir touopgooi nie. Sy het besluit sy kan beter doen. “Dit het half my missie geword,” vertel sy en so het sy in die plaaslike gimnasium haar swemtegniek gaan oefen. Swem is nou lekker – “daai gevoel van onafhanklikheid. Jy vra niemand vir hulp nie. Jy is vry.”

Swem is nou lekker – “daai gevoel van onafhanklikheid. Jy vra niemand vir hulp nie. Jy is vry.”

In 2019 het sy vir ’n halfysterman saam met ’n vriendin ’n nuwe fiets gekort. Toe samel haar vriende geld in en koop een vir haar. ’n Dag na hierdie uitdagende driekamp, kry sy ’n oproep van Cornel Botha, wat gidsatleet was vir nog ’n blinde driekampatleet, David Jones. Hy vra haar toe of sy kans sien om die Ysterman saam met hom te doen.

Om die Ystermankompetisie te doen beteken jy doen basies drie maraton-events in ’n halwe dag: 3,8 km swem in oop see, 180 km fietsry en 42 km hardloop – alles binne 17 ure.

Sy het so twee maande hieroor gedink en toe sê sy ja, want dit is wat die lewe haar geleer het … jy hoef nie bang te wees nie, want daar gaan altyd ’n opening oop. Dit is nie noodwendig ’n deur nie, dalk ’n venster of ’n kraak in ’n muur.

Of ’n “engel” kom en help jou.

  • Berig is aangepas na publikasie.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.