Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

’n Spiritualiteit van tuisteloosheid: huis is niks anders nie as die morsigheid van die lewe


Die lewe is ’n reis … Só hoor ’n mens gereeld. Maar bring dié op-pad-wees enige kalmte en vrede vir ons, vra Marius Maree in dié bespreking van ’n nuwe boek oor die spiritualiteit van Augustinus.

 

“Die lewe as ’n reis” is ’n bekende beeld wat byna in elke preek gebruik word. Die bedoeling is om iets van die opwinding en avontuur van menswees (en ook van die lewe met God) te verwoord. In sy resente werk oor die spiritualiteit van Augustinus, On the road with Saint Augustine, dekonstrueer James KA Smith op sy kenmerkende, skerpsinnige wyse die reismetafoor. Hy maak ’n paar verrassende gevolgtrekkings.

Eerstens, skryf Smith, verraai “die lewe as ’n pad” ’n onvergenoegdheid met die lewe. Daar is iets méér, iets beter. Ek moet dit net soek. Indien dit lank neem om te arriveer waar ek glo ek moet wees, raak ek net moeër en begin blameer. Die oortuiging dat die lewe ’n pad is, is vernietigend. Dit is ’n modernistiese leuse wat mense onkrities as die waarheid aanvaar omdat hulle nie tuisvoel met hulleself nie. Intussen besef ons nie dat die voortdurende op-reis-wees ons nie help om egte gevoelens van hulpeloosheid en selfminagting te konfronteer nie.

Smith maak ’n tweede punt. Indien ek die lewe as ’n reis beskou, bly ek uitsien na ’n volgende uitdaging, ’n volgende dosis adrenalien, ’n volgende oorwinning, ’n volgende avontuur. Die toekoms wink. Dalk ’n groter gemeente met meer geleenthede? As ek gelukkig is, ’n megakerk! Dit spreek vanself dat die beoefening van teologie deel van die reis word. Daarom is die klassieke gereformeerde tradisie lastig op die pad. Dit maak die reis vervelig. Skeptiese, agterdogtige teologie is die oplossing vir ’n opwindende reis. Kortom, “lewe as ’n pad” is my toegangskaart na ’n nuwe wêreld met nuwe lewensmoontlikhede.

Geborg

Smith wys op ’n derde manier waarop ons die gevoel van ek-is-nog-nie-waar-ek-moet-wees-nie hanteer. Die reis word ’n innerlike reis waarin ons poog om die ongemak en die frustrasie weg te steek deur ander toe te laat om aan ons ’n nuwe identiteit te verkoop. Soos Heidegger dit geformuleer het: Ons word “geabsorbeer deur die alledaagse”. Ons gee onsself aan die produsente van vermaak en sukses wat maar te gewillig is om die soeke na die outentieke self uit ons hande te neem.

Smith wys vierdens op die luuksheid van die lewe as ’n reis. Jy moet lekker leef en eet as jy in ’n koffiewinkel wil sit en filosofeer oor “my journey”. Smith stel dit so:”The road is life” is an exhilarating philosophy when you enjoy the comforts of a Parisian café.”

Bring dié op-pad-wees enige kalmte en vrede vir ons? Help dit ons om ’n sinvolle, gelukkige lewe te leef? Die teenoorgestelde is waar. Dit put ons uit, dit maak ons moeg. Dit vervreem ons van onsself, dit maak ons angstig en onseker – wanneer arriveer ek nou uiteindelik? Medereisigers plaas druk op my om te presteer. Ek moet bly soek na ’n nuwe “fix”, ’n nuwe bedieningstyl, ’n nuwe droom. “Die pad is die lewe” verskil nie baie van die leuen wat Joel Osteen aan ons verkoop nie: Your best life now.

Met verwysing na die werk van Albert Camus en Augustinus wys Smith op ’n alternatiewe spiritualiteit wat outentiek is en egte hoop bied: die spiritualiteit van tuisteloosheid. Omarm ballingskap en tuisteloosheid. Belééf die ongemak. Breek met gewoontes wat jou dompel in die homogeniteit van “hulle”. Maak vrede met die feit dat jy nooit gaan arriveer nie, huis is niks anders nie as die morsigheid van die lewe. Om nie tuis te wees nie kan juis die plek word waar jy die fluistering hoor om jouself te wees.

Een van Augustinus se biograwe, Peter Brown, herinner ons daaraan dat Augustinus se hele lewe deur tuisteloosheid gekenmerk is: “Even the fully Latinized African of the fourth century remained somewhat alien in Europe. The opinion of the outside world was unanimous. Africa, in their opinion, was wasted on the Africans.” Met sy terugkeer na Afrika is hy egter met dieselfde agterdog bejeën. Van sy eertydse vriende het hom openlik daarvan beskuldig dat hy deur “vreemdheid” geïnfekteer is. Brown se gevolgtrekking is dat Augustinus se spiritualiteit een van tuisteloosheid was. Hy het binne twee wêrelde geleef sonder om met een van die twee te identifiseer. “He was tainted with foreignness even at home” (Smith).

Die weerloosheid en desperaatheid van die tuistelose bring egter ook (verrassend) die mees intieme aanwesigheid van God. God soek immers die tuisteloses op (Genesis 28:10-22, Lukas 15:11-32). Vreugde bestaan nou in die ervaring van gevind wees deur God. Ons vind blydskap in Hom, want ons hoef nie meer te presteer nie, niks meer te bewys nie. Dié insig eggo in die openingsparagraaf van die Belydenisse aan die einde van Boek 13: “Here, U beskik vir ons vrede; ja ook alles wat ons vermag het, het U vir ons bewerk” (Jesaja 26:12).

Ons status is tuisteloosheid en geluk is om dit te omarm. Dit vra van ons om die eindelose soeke na sin te los, die nostalgie na ’n veilige tuiste, die hoop om te arriveer agter ons te laat. Die geheim is om te leer om sonder enige appél te lewe. Sonder enige aansprake. Sonder enige hunkering na meer en beter. Tuisteloos, weerloos, maar deur God gevind.

Geborg

Ds Marius Maree is leraar by NG Gemeente Vosburg.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “’n Spiritualiteit van tuisteloosheid: huis is niks anders nie as die morsigheid van die lewe”

  1. dankie vir die aftikel, was n oog oopmaker. innerlike vreugde vind jy net by God alleen.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.