Sowat 38 gemeentes van die NG Kerk Vrystaat betaal tans geen bydraes vir sinodale werksaamhede aan dié streeksinode van die NG Kerk nie.
“Ons verstaan dat daar verskillende redes hiervoor is, onder andere dat ’n aantal gemeentes klein geword het en finansieel regtig swaarkry,” skryf ds Jan Lubbe in ’n “skrywe aan gemeentes”.
Aan besluitnemers by gemeentes wat egter doelbewus bydraes weerhou weens meningsverskil binne dié teologies gespanne sinode, het Lubbe gesê die “hele kerkverband in die Vrystaat (ly) onder die nie-betaal van hierdie bydraes: Netwerke in belang van gemeentes en hulle opbou; die bestuur van fondse in belang van leraars en gemeentes; projekte vir noodleniging en ons getuienis in die breër gemeenskap, ook saam met ons familiekerke (die NGKA en VGK). Kom, laat ons praat en saam ’n plan maak,” lui die beroep aan die betrokke gemeentes.
Daar is sowat 153 gemeentes (in 15 ringe verdeel) binne die grense van NG Kerk Vrystaat, volgens die NG Kerk se jongste Jaarboek-data.
Lubbe se brief roer ’n breë spektrum van onderwerpe aan en gee konteks vir ’n tweede dokument wat kerkleiers hoop die “frustrasies en meningsverskil” wat steeds onder predikante en lidmate bestaan, sal help verlig. (Lees die volledige dokumente hieronder. – Red)
Dié dokument heet “Verklaring van Welwillende Voorneme”. Die inhoud daarvan sal die weg moet baan wanneer Vrystaters op 3 Oktober vir ’n tweede buitengewone sinode byeenkom.
Vrystaat se vorige sinodesitting was in Maart 2022 en die eerste Buitengewone Sinode was in April 2023, ses maande voor die Algemene Sinode wat laat verlede jaar vergader het.
Nou het die moderamen van die NG Kerk Vrystaat besluit om die “Verklaring van Welwillende Voorneme” as “vertrekpunt en raamwerk vir ons verdere gesprekke oor die NG Kerk Vrystaat as kerkverband te neem en só te kommunikeer”.
Lubbe en kollegas doen in dié dokument moeite om gedeelde grond uit te karteer (Skrifbeskouing, gereformeerde belydenis, ens), so-ook die beroep teenoor gespreksgenote asook eie verbintenisse ten opsigte van gespreksvoering puntsgewys op skrif te stel. En, laastens, vyf meer logistieke besluite wat die moderamen geneem het met lesers te deel rondom die hele boel prosesse wat nou tegelyk plaasvind terwyl die NG Kerk besig is om homself intern ter herorganiseer. Laasgenoemde kom hierop neer: “Die besluit van die Algemene Sinode 2023 om Artikel 32 van ons Kerkorde te wysig sodat gemeentes by ’n ander (geografiese) sinode van die NG Kerk kan inskakel, is deur die Algemene Taakspan Regte (ATR) bestudeer en ’n prosedure is daarvoor voorgestel en na die onderskeie sinodes deurgegee. Dit word nou hier by ons in die Vrystaat deur ons Sinodale Taakspan Kerkorde (STK) en die Interimkomitee bestudeer, om ons kommentaar daarop voor 30 April na die ATR deur te gee. Dié sal dan al die terugvoer uit die sinodes verwerk, dit aan die ASM vir goedkeuring voorlê en dan kan dit as ’n opsie vir gemeentes geïmplimenteer word (2e helfte van 2024),” luidens die moderamen se brief aan gemeentes.
Lees die volledige dokumente hieronder.
Verklaring van Welwillende Voorneme 2024-03-11April_2024_Skrywe van die Moderamen aan Gemeentes
