’n Disfunksionele regering aan die stuur van ’n land op ’n fiskale afgrond en met eise op die belastingbetaler wat net toeneem en toeneem.
Dit is die beeld van Suid-Afrika wat prof Jannie Rossouw in ’n onlangse praatjie by ’n aanlyn toerustingsgeleentheid vir dominees en diensleraars voorgehou het.
Die “fiskale afgrond” is die punt waar die regering nie meer geld het om alles te doen wat ’n regering moet doen nie. “Dit is min of meer waar ons nou is,” het Rossouw tydens die veeldagseminaar aangebied deur Excelsus, verbonde aan Universiteit van Pretoria, gesê.
“Die volgende vyf jaar gaan lyk soos die laaste 15 jaar,” het die politieke ekonoom sowat drie weke voor die algemene verkiesing voorspel in ’n voorlegging getiteld “Samelewingsrol van die NG Kerkgemeenskap. Lae ekonomiese groei … We will muddle through.”
Sommige oorblufde toehoorders wou summier opsies vir gemeentebaseerde koffiewinkels en ander alternatiewe inkomstestrome verken met die aanhoor van Rossouw se verduideliking dat bydraes aan gemeentes onder “diskressionêre besteding” val – die einste ding wat harder en harder geknyp word in ’n landsekonomie wat Rossouw glo hoogstens met 1% in die volgende jaar sal groei.
Rossouw se punt was duidelik indien onthutsend: Gemeentes is sentraal tot gemeenskappe en gemeenskappe gaan moet doen wat die regering nie bybring nie. “Ons boodskap (aan gemeentes) moet ook wees, as jy ’n werk het, pas hom op. Dis nie nou die tyd om nuwe truuks uit te dink nie. Wees dankbaar vir jou werk. Pas die ding op. Tye gaan moeilik bly. Ek praat van gemeentefinansies ook. As jou gemeente ’n paar Rand in die bank het, moenie aan planne dink om dit uit te gee, dink liewers aan planne om meer daarvan te kry. Dit is nie ’n goeie tyd om nuwe skuld te kry nie,” het Rossouw gesê.
’n Leraar van Witpoortjie en ander deelnemers het tydens vraetyd moedig idees rondgegooi vir inkomstebronne in die scenario waar diskressionêre bydraes van lidmate gewoon opdroog.
Rossouw, wat die VF+ ondersteun, was uitgesproke oor landsleiers. “Die huidige ANC-regering is ’n rowerbende wat onder die vaandel van ’n politieke party opereer,” aldus Rossouw. Hy is verbonde aan die Wits se Sakeskool en NG lidmaat by ’n gegoede gemeente in Pretoria.
Rossouw voorspel die ANC se steun sal val vanaf sowat 57% (in 2019) tot “iewers tussen 45 en 50%”. Hy het laat blyk dat hy, met verwysing na ’n spotprent, sy medeburgers wat vir die ANC stem, beskou as bome wat vir ’n byl stem net oor dié “ook ’n houthandvatsel het.”
“Koalisies is ons voorland in Suid-Afrika,” het hy aan die sowat 20 seminaargangers gesê.
Rossouw het genoem dat daar wel suksesse is wat ’n mens nie moet vergeet nie. Daar is ses, volgens hom. Instellings wat goed funksioneer (die tesourie, die reserwebank, sekere universiteite), suksesvolle sake-ondernemings en entrepreneurs, die landbousektor wat die bevolking voed, mediavryheid wat groter as onder Apartheid is, geloofsvryheid en sportprestasies.
Rossouw, uitgevat in sy kenmerkende strikdas, het via ’n Zoom-skakel op 7 Mei gesê ’n “ernstige krisis binne die NG Kerk” is dat ons “elkeen baie bewus is van ons eie opinie”.
“Ons sal moet leer hoe om met verskillende opinies saam te leef. Dit is ’n baie belangrike vermoë wat ons sal moet aanleer,” aldus Rossouw.