Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sandy Schoeman, wenner van vanjaar se Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk, vir haar boek Rooiletterkind.

Kinders het hulle eie storie en hulle eie reis

Tilana Meyer-Morkel het namens Kerkbode gesels met Sandy Schoeman, wenner van vanjaar se Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk, vir haar boek Rooiletterkind.

 

Wat maak van ’n vrou ’n ma? Dit is die vraag waaroor ek en Sandy Schoeman begin gesels in ons Zoom-kuier.

Sandy antwoord my vraag met haar eie vraag: “Wat maak van ’n kind, ’n kind?” Is dit biologie? Ouderdom? Keuse? Sy raak vir ’n oomblik stil. Die bymekaar, netjiese vrou se oë is sag soos sy vertel van haar Rooilettergesin.

“Om ’n ma te wees is om te release,” draai die gesprek uiteindelik. Sandy het al die tradisionele rolle van ma-wees in haar dogter, Dani, se lewe probeer vervul. Hulle is deur pleegsorg, aanneming, hoogte- en diep laagtepunte en uiteindelik deur ’n reis waarin sy, as ma, moes besef: “Die ma gaan die een wees vir wie sy kies”.

Sandy en Nico se pad is vol afdraaipaaie. Sy vertel hoe sy moes besef dat sy hulp moes kry. Professionele hulp. Sy moes teen haar vrees vir verwerping veg en nuwe roetes in haar brein vestig. Haar “ma-wees” hang nie net van haar af nie, maar ook van Dani.

“Ons maak ’n fout as ons dink ’n kind is ’n blank canvas wat jy kan inkleur soos jy wil en op ’n dag lyk sy net soos die kunswerk wat jy wil hê”. Dit is die grootste les wat enige ouer moet leer. Kinders het hulle eie storie en hulle eie reis. Ons kan net kies om saam met hulle op hulle pad te loop.

Een van die deurbrake in Rooiletterkind is wanneer Sandy vir Dani vra om haar eie storie te skryf. Dani kry kans om haar stem te laat hoor. Om gehoor te word as kind, is krities vir ontwikkeling, maar dikwels ’n uitdaging. “Die ouers is so gebroke dat ons nie meer die kinders kan hoor nie. Die eerste ding wat moet gebeur vir ’n kind om ’n stem te kry, is die ouer moet genees, sodat die ouer die stem kan hoor sonder dat daar twintig triggers is”.

Sandy moes haarself uitdaag: As Dani haar nie sou kies nie, sou sy oukei wees daarmee, met wie sy is en wat sy gedoen het as ma? Sy moet vertrou dat haar enigste “superpower” haar moederlike instink is, vir haar gegee deur die Heilige Gees. Dit bring nuwe lewe, geboortes, in gewone stories. Nie biologies nie. Geestelike, emosionele en gesinsgeboortes, waar ons foto’s van God se genade kan neem. Rooiletterkind is ’n verhaal vol foto’s van God se genade, en Sandy se reis getuig daarvan.

Ds Tilana Meyer-Morkel is predikant by die NG Kerk Paarl-Vallei.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top