Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Elders gesien | In memoriam: Tot siens, oom David


Die NG sendeling en later VGK-leraar, kerkleier en skrywer, ds David Botha, is Sondag 26 Mei op 99 in Tulbagh oorlede. Sy begrafnisdiens was Saterdag 8 Junie by die VGK Cloetesville op Stellenbosch.

“As oudste seun van die Nigeriese pioniersendelingspaar, Johan George Botha en sy vrou, Fransina, sou David Petrus Botha in sy 99 jare hier op aarde baie diep spore in die NG Sendingkerk (later die Verenigende Gereformeerde Kerk) trap. Hy beklee verskeie leierskapsposies in die NG Sendingkerk, soos die van aktuarius (1958-1974) en moderator (1974-1982). Tydens sy bediening bring hy mense uit verskillende gemeenskappe bymekaar, was segsman vir die onderdrukte en het opgestaan vir versoening,” skryf Mariëtte Odendaal wat vir Getuienisaksie* met sy seun, David (jnr) gesels het oor hulle pa se lewe.

By navraag hoe hy sy pa se nalatenskap aan hulle as sy kinders en kleinkinders sal beskryf, antwoord hy as volg:

“My pa het die NG Sendingkerk beskou as die ruimte waarin hy ’n voorbeeld kon stel vir die teendeel van apartheid. Ons is geleer om respek vir ALLE mense te hê, ongeag ras, kleur of taal.

“In ons huis was daar nie apartheid nie. Almal was onvoorwaardelik welkom. Ons as kinders het proefondervindelik geleer dat daar ’n wêreld sonder apartheid is. Tabieta Scholtz wat as huishulp sedert ons vertrek van Clanwilliam permanent deel van ons huishouding geword het, was nie ’n bediende nie – sy was ’n dogter en suster.

“Pa en Ma het ons met streng dissipline grootgemaak vanuit ’n sterk klem op die gesin as verbondseenheid. Pa was met oorgawe en onbeskroomd die hoof van die huishouding. Ons gesinslewe was volkome in diens van sy roeping. Ma het hom hierin volledig gesteun. Dit het onder andere geïmpliseer dat ons ’n afwesige pa gehad het. Die kerk en gemeente het eerste gekom. Vakansies het hy en ma moeite gedoen vir lekker saamwees-ervarings, maar andersins was hy besig met ‘die Here se werk’.

“Al ons kinders het by Pa en Ma geleer om lief te wees vir Jesus Christus en sy Woord.”

  • Die oorspronklike artikel het verskyn op die webblad van Getuienisaksie wat op die blad omskryf word as ’n “eenheidsheidsbediening van VGKSA Streeksinode Kaapland, NG Kerk in Suid-Afrika en die Reformed Church in Africa”.  

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.