Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
David Magerman van Komaggas skryf:
Daar is baie kere wat ek soos die psalmdigter moet sê: “ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie.” Dit is hoe ek nou voel, die tragedie in Soebatsfontein het my stom. Die dood van hierdie drie kinders het my stom. Maar as ek probeer om woorde te prewel, is dit juis om sin te probeer maak. Hierdie verskriklike nuus het ek vroegoggend ontvang. Dit was oorweldigend. Hierdie tragedie het nie net vir Soebatsfontein getref nie, maar die hele Namakwaland. Dit het diep geslaan! Dit het hard geslaan. Dit het seer geslaan.
Ek dink heeltyd aan die woorde van die lied “Net ’n mens” wat Juanita du Plessis sing …
“As die donker om my vou
En die nag se kloue my vashou
As die verlange deur my boor
Met die koue besef
Ek het jou verloor
Mag ek dan stil raak
My siel se vensters oop maak
Myself net toelaat
Om te weet
Ek’s net ’n mens
Ek gooi vanaand my traan
Teen die maan
Wie sal die pyn
In my verstaan
Waar sal my hart
Weer troos kan vind
Want jou weggaan
Laat my huil soos ’n kind
Die vrees oorrompel my
Hier waar ek alleen agter bly
Waar die bang wees om my vou
Oor dit wat was
En wat die toekoms hou”
Dit is sulke nuus, wat maak asof jy nie asem kry nie. Wat jou hele wêreld op sy kop keer. Wat jou fondasie laat skud. Dit is sulke tragedies wat jou hele lewe verander. Hierdie moeder, vader, familie se lewe sal nie weer dieselfde wees nie. Woorde kan nie beskryf wat in die hart en gemoed van die ouers en familie is nie. Dit is asof dit ’n slegte droom is, jy dink jy gaan nou enige oomblik wakker skrik. Dit voel vir my asof dit hel kan wees. Maar Goddank nie! Want die Here is nog steeds hier. God is nog steeds in beheer! Ek weet dit lyk en voel miskien nie so nie. Maar God is mos Immanuel. God by ons. Immanuel is hier! Selfs in die vlamme …
Sadrag, Mesag en Abednego is in die vuur gegooi. Later sien hulle vier persone in die oond. Die vierde EEN het gelyk soos ’n hemelse wese. Hy het gelyk soos God self. Want God was daar. Die Here het die drie vriende van Daniël gered uit die oond. Nou mag ons vra, hoekom het die Here nie ook hierdie kinders gered nie? Ek weet nie. Al wat ek weet is – God was daar tussen die vlamme. Alhoewel ons nou nie verstaan nie – eendag sal ons verstaan. “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”
My hart gaan uit na die moeder van hierdie drie kinders, die vader en res van die familie. Ek het die seer gesien in die oë van Soebatsfontein se mense. Maar ek het ook vir God daar gesien. Ek het gesien hoe hulle hande vat. Hoe hulle saam huil en saam bid. Hoe hulle hierdie familie toemaak. Ek het gesien hoe hulle mekaar se laste dra. Ek het gesien hoe hierdie gemeenskap, mekaar het. Ek het gesien wat liefde in aksie is – liefde het hande en voete gekry.
Mag die drie engeltjies se siele in vrede rus …