Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

As ons as dissipels van Christus funksioneer, sal ons weer die klanke hoor van Handelinge 5:13: “… die volk (het) hoë agting vir hulle gehad”.

Brief: Jesus van Durbanville, Zithulele én Nasaret

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Malan Meyer van Kaapstad skryf: JG de Bruin skryf op 3 Julie oor die Durbanville Jesus en die Thatamkhulu Jesus. Durbanville Jesus is die klassieke godheid van godsdienstigheid. Hy preek volle bors oor ’n lys van taboes, moets en moenies. “Hou op rook”. “Wat soek jy in ’n bar?”. “Moenie vloek nie”.

Hy is ook ’n goeie instrument om almal in lyn te hou. ’n Skuldgevoel. Ons kan hom gebruik om die mense wat nie ordentlike kerkmensgedrag toon nie, tot skande te bring.

LEES OOK: Uitreik: Ek het besef dat Jesus klaar dáár is

Tatamkhulu Jesus preek blykbaar glad nie vir mense nie. Hy preek nie, want hy hoef nie. Sy aanhangers is al te lief om te preek oor hoe “daardie godsdienstige mense” al te rassisties, homofobies en wit is. Hy is ’n wonderlike bron van terapie. Hy vra net my gedagtes. Maak geen eise nie. Want als gaan oor my selfvervulling. Daarom probeer hy my nie verbeter nie en hy herinner my gereeld oor hoe goed ek is. Ek kan tog seker nie die skurk in hierdie fliek wees nie, kan ek?

Hy leer my dat my menslikheid my grootste skat is. Alledaagse ervaring en die geskiedenis verwater ongelukkig die waarde van dié skat teen ’n koers hoёr as inflasie.

Tatamkhulu Jesus is ’n persoonlike ontwerp-Jesus van menslike verbeelding.

Dankie tog hy het nooit vir Saulus op die pad na Damaskus teëgekom nie.

Dan is daar Nasaret Jesus. Iemand mag dalk vra: “Het daar al ooit enigiets goeds uit Nasaret uit gekom?”. Hoor my net uit.

Die dude is die unieke Seun van God. Hy het ’n lewe geleef wat ek nie kon nie, ’n dood gesterf wat ek moes sterf en om te bewys Hy is wie Hy sê Hy is, het Hy opgestaan uit die dood en Hy sit aan die regterhand van God die Vader waar alles wat bestaan aan Hom onderwerp is. Hy is Redder en Bevryder.

Hy steek Homself nie weg in die Bybel nie. Hy is die hoofkarakter, die hooftema, die hoofonderwerp. Elke boek in die Bybel wys na of word vervul in Hom. Die held van hierdie fliek.

Hy is besig om ’n kerk te bou. ’n Gemeenskap uit elke ras, volk en nasie wie se lewe deur sy pragtige genade verander is. Die poorte van die hel sal nie daarteen seëvier nie en ons vier die oorwinning elke Sondag saam met mekaar.

Hy preek nie ’n lys van moets en moenies nie, maar Homself as die Weg, Waarheid en Lewe. Ons ervaar Hom nie noodwendig in emosionalisme nie maar in die hoor van sy Goeie Nuus, om in verbondenheid met Hom gedoop te word en om geestelik aan sy liggaam en bloed te voed. In sy Naam hoor ons hemelse Vader ons as ons bid.

Hy hoef nie my aanbidding te benodig of te soek nie. Om Hom te aanbid is eerder my grootste behoefte en waarvoor ek bestaan. Ek is nie meer ’n skroewedraaier wat koffie roer nie.

In Hom is ek goed genoeg en als wat ek benodig is in Hom. Hy is my Grootste Skat wat nie deur motte, roes of diewe weggeneem kan word nie.

Ek is baie meer messed-up en opgeneuk as wat ek kan dink, maar in Jesus van Nasaret is daar baie meer liefde en genade as wat ek ooit voor sou durf hoop. My enigste troos in lewe en sterwe. Welkom by Jesus Christus!


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.