Elise Bosch, ’n geliefde LiG-rubrieskrywer, is op 10 Julie aan kanker oorlede.
Haar stories het mense reeds vanaf 1998 aan die hart gegryp. Die egtheid, die hartseer en die wonderwerke wat in die swaarkrymense van Hillbrow se lewe gebeur – dáároor het Elise geskryf.
“Ons sal Elise onthou vir haar aweregse sin vir humor, haar intelligensie en haar groot medelye vir haar medemens. En natuurlik die stories oor haar Hillbrow-mense,” lui ’n plasing wat op 12 Julie op LiG se Facebookblad gedeel is, met ’n hiperskakel na een van die oorledene se rubrieke, ’n skrywe, getiteld God gaan haal sy kinders – selfs in ’n Hillbrow-stegie (7 Desember 2021).
LEES OOK: ‘Ek wil nie hê mamma moet weer my Barbie-pop verkoop nie,’ smeek Hillbrow-dogtertjie
LiG se redakteur, Francine Prins, skryf: “(Elise) het destyds vertel: ‘Dis die ultimate bevrediging om te kan getuig hoe God sorg in moedelose situasies. Dis ’n voorreg om daaroor te kan verslag lewer, van wonderwerk-oomblikke waar Jesus die armes van Hillbrow help.’
“Elise het in 2010 self ’n moedelose situasie in die gesig gestaar toe sy vir die eerste keer met kanker gediagnoseer is. Sy het toe ook ’n ‘kankerdagboek’ in LiG bygehou. ‘Dit was terapeuties om my eie kanker-ondervinding met die lesers te kon deel, my stryd met my gesondheid, my emosies …'”
Elise het twee volwasse dogters en was getroud met die predikant Pieter Bosch.
Geborg