Die Be a Nelson-beweging bied wéér ’n unieke geleentheid aan gemeentes om jongmense in townships te help om hulle eie toekoms te ontsluit en hulle gemeenskap te dien. Dr Nico de Klerk vertel meer.
Dit is ’n deurbraak om weer ’n Suid-Afrikaanse townshipspan te kan inskryf (keerdatum: 5 Augustus 2024) vir die kursus in sosiale entrepreneurskap wat aangebied word deur die Open Society University Network (12 universiteite van verskeie lande is betrokke).
Verlede jaar se groep van 36 was die enigste groep nie-formele studente wat toegelaat is tot die kursus. Dit was ’n sosiale eksperiment in 2023 wat uitstekend geslaag het. Hierdie groep Nelsons kom van regoor die hele land en is vandag op ’n totale ander plek met hulleself as ’n jaar gelede.
Die Suid-Afrikaanse jeug bewys weer en weer dat hulle enorme potensiaal het om hulleself en hulle gemeenskappe te bemagtig deur sosiale entrepreneurskap.
Lees meer: Nico se pelgrimstog wil entrepreneurs kweek
Die kerk kan ’n rol speel om dit te help ontsluit.
Die Be a Nelson-program se benadering is gerig op die ontwikkeling van sosiale entrepreneurskap as teenvoeter vir ongelykheid, werkloosheid en sosiale onrus. Dit sluit in om kenners vanuit Europa en die VSA in te bring. Elke student het ’n afrigter. Hierdie blootstelling en ervaring gee die studente nuwe selfvertroue wat weer nuwe energie skep.
Verlede jaar se program het ook afgesluit met ’n sesdagstap in Maart 2024.
Só maak jy om ’n Be a Nelson te nomineer:
Stuur ’n motiverende e-pos waarom jy graag hierdie persoon wil nomineer met enige relevante inligting. Wees gerus kreatief in oor hoe jy die persoon wil voorstel, maar maak seker jy vermeld die volgende: naam en van, gemeenskap, kontakbesonderhede, geslag en ouderdom.
Die koste van die kursus beloop R1 000. Meld asseblief in die e-pos of jou gemeente in staat is om dié bedrag, of ’n gedeelte daarvan, te kan bybring vir genomineerde kandidate.
Stuur alles na dr Nico de Klerk by nico@streetbiz.co.za of WhatsApp hom by 082 566 1484 voor Maandag 5 Augustus 2024.
Die Be a Nelson-beweging is ’n inisiatief van die organisasie StreetBiz Foundation, ’n NPO wat jong entrepreneurs uit townships ondersteun om hulle eie toekoms te ontsluit en hulle gemeenskappe te dien. Vir meer inligting besoek: www.nicodeklerk.co.za, www.nofitmovement.com of www.opensocietyuniversitynetwork.org
Kyk ook na: StreetBiz Foundation
