My storie begin by ’n besoek aan “Constitution Hill” in Februarie vanjaar. Hierdie landmerk is nie net die adres van ons Konstitusionele Hof nie, maar het ook ’n museum wat iets van ons land se geskiedenis op soek na ’n regverdige en billike samelewing vertoon.
Dit is op die stoepe van hierdie gebouekompleks dat ek ʼn groot groep vroue aantref wat in skuilings van bruin karton met hulle bondeltjies aardse besittings sit. Ek stap nader en vra na hulle omstandighede: “We have no papers, no place to go, no food. We are migrants”. Hierna is dit asof die agenda van elke groter kerkvergadering (ekumene) saamspan, want die tema van vreemdelinge in Suid-Afrika, duik oral op. Saam met kollega Yolandi Kok van Hoëveld Sinode se diensgetuienis portefeulje, woon ek in Junie ʼn byeenkoms by waar daar oor die uitdagings van vreemdelinge in ons land gepraat word en hoe die kerk daarop reageer.
Migrasie is ’n globale verskynsel gedryf deur verskeie faktore insluitend die soeke na beter ekonomiese realiteite, ontsnapping van konflik en geweld, omgewingsveranderinge, en gesinshereniging. Wêreldwyd beweeg miljoene mense elke jaar oor grense op soek na beter lewens, veiligheid, en stabiliteit.
Volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM) was daar in 2020 ongeveer 2.9 miljoen internasionale migrante in Suid-Afrika. Hierdie getal verteenwoordig ongeveer 4.8% van die land se totale bevolking. Terwyl baie migrante daarin slaag om verbeterde toestande te vind, staar ander beduidende swaarkry in die gesig, insluitend uitbuiting en geweld. In gesprek met Neels Coertse, NG Kerk lidmaat en waarnemende regter van die hooggeregshof in Suid Afrika, pleit hy dat ons nie te vinnig moet oordeel nie. Neels wy ʼn groot deel van sy prokureurspraktyk en tyd daaraan om mense soos hierdie te verteenwoordig. “Luister eers na mense se stories,” sê hy! In die klankbaan hieronder vertel hy een so storie. “Natuurlik is daar ook mense wat vlugtelingstatus uitbuit”. Neels verduidelik dat ʼn mens moet onderskei tussen werklike vlugtelinge, ekonomiese migrante, toeriste wie se visums of werkspermitte verstryk het, mense wat vanweë hul eie landswette burgerskap verloor as hulle te lank weg was, en dan gewoon staatlose mense wat vanweë administratiewe rompslomp nooit by geboorte geregistreer is nie.
Wat my aan die hart gryp, is die “administratiewe geweld” waaraan veral tweede en derde generasie migrante blootgestel word wanneer hulle probeer aansoek doen vir burgerskap.
Dit beteken dat kinders wat in Suid-Afrika gebore word, vanweë hul ouers se onvermoë om burgerskap te kry, nie by geboorte geregistreer kan word nie. So ʼn kind kan nie ʼn identiteitsdokument bekom nie, sukkel om toelating tot ʼn skool en verdere opleiding te kry, kwalifiseer nie vir enige ondersteunende toelaes nie, en het oneindige probleme om mediese versorging te kry. Volgens die Departement van Onderwys in 2019, is daar 880 968 ongedokumenteerde kinders in Suid-Afrikaanse skole. Die probleem kom wanneer hierdie kind ʼn identiteitsdokument nodig het om die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen in graad 12 te skryf. Al hierdie uitdagings bestaan ondanks ʼn ruimhartige Grondwet met gepaardgaande bepalings in ’n Handves van Menseregte.
Daar is ʼn magdom wette, internasionaal sowel as plaaslik, wat die saak rondom migrasie bestuur. In Maart 2020 is die Departement van Binnelandse Sake se vlugtelingekantoor tydens die nasionale inperking gesluit en het eers in April 2022 heropen. Die gevolg is dat daar ʼn geweldige agterstand in die hantering van aansoeke bestaan, wat mense daagliks weerloos laat. Caritas, die barmhartigheidsdiensorganisasie van die Rooms Katolieke Kerk, Lawyers for Human Rights, en verskeie ekumeniese rolspelers beywer hulle deurlopend om praktiese hulpverlening te bied. Hier in Sunnyside in Pretoria is een so ʼn aanmeldingskantoor, genaamd die Desmond Tutu Refugee Centre. Ek vermoed dat ons gemeentes, veral in Pretoria, Johannesburg, Kaapstad, en in dorpe wat teenaan nasionale grense geleë is, meer ervaring het met die saak van migrasie en vreemdelinge. Ek sal graag hul getuienisse wil hoor!
Ek blaai na Psalm 146 en lees weer vers 9: ‘Die Here beskerm vreemdelinge; vaderloses en weduwees help Hy op, maar die pad van goddeloses maak Hy krom.’ Die verskynsel van vreemdelinge in ons land verskil nie van die globale uitdaging nie. Die vraag is hoe ons as kerk ons roeping in hierdie konteks verstaan. Ek praat net vir myself as ek sê ek vermoed dat ek na die klein bietjie blootstelling die afgelope paar maande, nie meer sal kan wegkyk en sê, ‘dit raak my nie’.
Dr Nioma Venter is die algemene sekretaris van die NG Kerk.