Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Badenhorst van Brackenfell skryf: Kerkwees kom neer op dissipelskap, die navolging van ons Here Jesus Christus. Twee gedagtes hieroor.
- Kategese. Die kerk wêreldwyd is in sy penarietoestand grotendeels omdat ons jeug nie voorberei word vir die kerklike lewe as dissipelskap nie. In die kategese moet dit oor een saak gaan, naamlik lewe in navolging van Christus. Dit behels ook dat die kerklike leer behandel word, maar nooit sonder die praktiese gerigtheid om Jesus te volg nie. Die leer gaan immers oor die evangelie van Christus, en hierdie evangelie bring ons by die nuwe lewe wat daar in Christus is. Hierdie nuwe lewe in Christus gebeur ook nooit sonder die gemeenskap van die gelowiges nie. Dit is kerkwees. Kategete moet dus dissipelmakers wees, ook om ’n kategeseklas te lei as ’n groep dissipels.
- Verskilmakers. As ’n gemeente bestaan uit ’n skare dissipels, dan is ons ’n aksiegroep wat paraat is om die wêreld in te gaan en mense se lewe aan te raak.
Ek en my vrou was ’n paar jaar lank in Japan – tot 2010. Ons indruk was dat die kerk in Japan ’n oorlewingstryd stry. Dit maak dat die kerk baie na binne gekeer is en nie positief na buite kyk nie. Dit was die posisie tot die tsoenami van 2011. Na die tsoenami moes die kerk eers vergaderings hou (bv sinodaal) om te bespreek wat gedoen kon word. Totdat ’n jong dominee besluit het dat hy handtastelik gaan ingryp. Hyself – met helpers – het gegaan en mense (nie net Christene nie) se huise wat oorstroom is skoongemaak. Die Japanse kerk het in daardie land van vele rampe nie so iets geken nie.
Ook in ons land: Hoekom hoor ons met rampe dat Gift of the Givers op die toneel verskyn? Waar is die kerk? Hoe paraat is ons om onmiddellik die nood aan te spreek? Met droogtes en vloede skep ons geleenthede om skenkings te maak, maar hoe dikwels is ons dadelik op die toneel?
Ek herinner my dat in ons kweekskooltyd daar in die Suid-Kaap oorstromings was – 1975? Een van my klasmaats het spontaan ’n groep begin om dadelik prakties in die rampgebied hulp te verleen. Dit is dissipelskap. Watter verskil kan dit maak as die kerk daar is waar die nood is? As ons as dissipels van Christus funksioneer, sal ons weer die klanke hoor van Handelinge 5:13: “… die volk (het) hoë agting vir hulle gehad”.