Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Amir Rezanejap Hassanjani laat spaander by die Olimpiese Spele in Parys. Foto: IOC Media via Flickr.com

Hoogtepunte uit Parys: Olimpiese ekstase en teleurstelling boei weer miljoene


Suid-Afrikaanse toeskouers en TV-kykers van vanjaar se Olimpiese Spele in Parys het tot dusver baie gehad om oor te kraai. Vergelyk jou hoogtepunte met hierdie lekker lys, saamgestel teen 8 Augustus deur Fanie Heyns.

 

Bitter-soet vir SA se Akani Simbine

Die 100 meter maak dalk meer emosies wakker as enige ander Olimpiese wedloop. Dit is dalk omdat dit histories al by meer as een geleentheid in omstredenheid gedompel was.

Ben Johnson is in 1988 by die Olimpiese Spele in Seoel gediskwalifiseer weens die gebruik van ’n opkikker net drie dae nadat hy die 100 meter in 9,79 sekondes afgelê en ‘gewen’ het.

Die Amerikaanse vrou Florence Griffith Joyner (ook bekend as Flo-Jo) het die 100 meter in Seoel in 10,49 gewen. Maar ’n Britse roeivaart-legende wat vyf goue Olimpiese medaljes ingeoes het, Steve Redgrave, het in sy boek Great Olympic moments na haar gekap. “Ek het haar (in Seoel) nie van aangesig tot aangesig gesien nie, maar een van my spanmaats het. Hy het gesê daar was tonne van grimering. Dis tipiese tekens van steroïedemisbruik.”

Die 100 meter-eindstryd vir mans het egter vanjaar die banieropskrifte gehaal om ander redes as Johnson se vergryp en Griffith Joiner se vermeende misbruik van opkikkers.

Al agt atlete wat in die eindstryd aangetree het, het binne 0,12 sekondes van mekaar geëindig – tussen 9,79 en 9,91 – en al agt het vinniger tye opgestel as Carl Lewis se Olimpiese wentyd van 9,99 in Los Angeles in 1984.

“Dit was absoluut die beste 100 meter-eindstryd ooit. Al die fanfare oor die eindstryd was die moeite werd. Ons het hierdie asembenemende wedloop gehad waarin jy ’n kombers oor die eindstreep kon gegooi het en nie eers ’n paar minute later geweet het wie het goud gewen,” het die viermalige Olimpiese kampioen Michael Johnson agterna gesê.

Vir die Suid-Afrikaner Akani Simbine was dit hartverskeurend. Hy was in 9,82 vierde, net 0,01 stadiger as die bronsmedaljewenner Fred Kerley van Amerika.

“Dis bitter-soet, maar ek is tevrede. Ek sou nie sê ek is so teleurgesteld soos ek in Tokio was nie. Maar ek is nou ’n gelukkige man,” het Simbine gesê.

Die 30-jarige Suid-Afrikaner was in die Spele by Tokio ook vierde en het daar die brons medalje met 0,04 sekondes misgeloop.

“Ek gaan onder geen omstandighede die sport nou groet nie. Ek het baie laat met die sportsoort begin en ek dink ek kan steeds baie uit die sportsoort haal. Ek is 30. Ek hardloop die vinnigste nog en ek het steeds dryfkrag,” het hy gesê.

’n Eerste vir St Lucia

Sha’carri Richardson van Amerika was die gunsteling om die 100 meter vir vroue te wen nadat sy ’n driekuns aan titels ingeoes het by die Wêreldbyeenkoms verlede jaar.

Julien Alfred het egter ’n droomwegspring beleef en was gemaklik in 10,72 baas in die St Denis-stadion. Sy is die eerste atleet van die eiland St Lucia wat Olimpiese goud omarm het.

“Die goue is ’n betekenisvolle mylpaal vir my en my land. Ek hoop dit inspireer investering in infrastruktuurontwikkeling tuis,” het ’n betraande Alfred agterna gesê. Intussen het sy ook silwer in die 200 meter naelloop vir haar land verwerf.

Berihu Aregawi van Ethiopië het ’n skynbaar volmaakte plan gehad in sy medalje-aanslag – Hy was een van drie Ethiopiese atlete wat vroeg die voortou geneem het in die 10 000. Maar die 27-jarige Ugandees Joshua Cheptegei het ’n rekening gehad om te vereffen. Hy het drie jaar gelede in Tokio ’n silwermedalje op die bors gehad. Die Ugandees het dit opgegradeer na goud danksy ’n briljante eindpoging oor die laaste 600 meter.

DuPlantis plant ’n lang paal

Was daar ooit ’n beter Olimpiese wedloop oor die langer afstande? Altesame 13 van die atlete het in minder as 27 minute van manjifieke hardloopwerk klaargemaak.

“Net 16 jaar gelede toe ek die groot Kenenisa Bekele in Beijing sien wen het, het iets in my hart gegroei. Ek het gesê ek wil eendag Olimpiese kampioen wees. Ek kan nie die gevoel beskryf nie,” het Cheptegei oor sy triomf gesê.

Armand Duplantis, Amerikaans-gebore paalspringer van Swede, is net 24 jaar jonk, maar het reeds nege keer op die wêreldrekord verbeter. Een van die nege was in die Spele in Parys, waar hy op ’n hoogte van 6,25 meter geslaag het. Goeie gene kan ’n seën wees. Duplantis (jr) se pa, Greg, wat hom ook afrig, het in sy loopbaan op ’n hoogte van 5,80 in die paalspring geslaag.

Die Blitsbokke het ’n drie gedruk ná die toeter afgegaan het om Australië in die halfeindronde van die seweskompetisie met 26-19 te sink en so die eerste bronsmedalje te wen vir Span Suid-Afrika.

In bykomende tyd van hierdie spannende stryd het Selvyn Davids se sprankellopie die Blitsbokke binne trefafstand gekry voor hy die bal na Shaun Williams gegee het om agter die pale te druk en die span se medaljedroom te bewaarheid.

“Ek is die eerste Afrikaan wat in die veldren in bergfietsry ’n Olimpiese medalje gewen het, en dis ’n spesiale oomblik. Om dit te bereik is amper ongelooflik vir my,” het die Suid-Afrikaner Alan Hatherly gesê nadat hy die bronsmedalje gewen het, en 11 sekondes agter die gouemedaljewenner Tom Pidcock (Brittanje) klaargemaak het.

Hatherly het net die Hors d’ oeuvre bedien … die hoofmaal vir Suid-Afikaners het aan die swemmer Tatjana Smith behoort.

‘Ek het vir almal geswem’

Die borsslag-koningin was in die eindronde in die 100 meter borsslag stadig uit die blokke. Tang Oianting van China was van meet af voor en het ’n eenmetervoorsprong oor Smith geniet. Smith het egter oor die laaste paar meter teruggeslaan en die muur geraak voor Tang, terwyl Mona McSharry van Ierland derde was.

“Ek dink nie iemand kan verduidelik wat vandag gebeur het nie. ’n Dorp (Engels: village) was nodig om my aan te spoor tot waar ek vandag is. Ek weet hulle sou trots op my gewees het selfs al het ek nie ’n medalje ingeoes nie. Ek het vir almal daar buite geswem wat in my geglo het, en ook in my land.”

In die 200 meter borsslag het die Amerikaner Kate Douglass met ’n taktiese meesterskuif vorendag gekom teen Smith. Sy het vir ’n groot deel van die wedloop die voortou geneem en was met 0,36 sekondes vinniger as die 27-jarige Suid-Afrikaner, al het laasgenoemde so byna in die laaste 20 meter die agterstand uitgewis.

‘Vrees God, en geen mens nie’

Toe Rocco Meiring, Smith se afrigter, agterna gevra is wat sy woorde van bemoediging was voor die 200 meter-borsslag, het hy geantwoord: “Ek het net ’n paar woorde gehad. Vrees God, en geen mens nie.”

Smith, die land se mees bekroonde swemmer met twee goues en twee silwermedaljes, het agterna filosofies geraak toe sy haar uittrede aangekondig het. “Swem is net ’n seisoen van my lewe. Daar is meer as net swem en ek is opgewonde om my lewe ten volle te geniet.”

“Starstruck”, het sy op Instagram gesê terwyl sy en haar man, Joel, in ’n boot op die Seine-rivier gevaar het net ná haar 200 meter-borsslag-eindronde.

Die Springbokke se sege met een punt oor Frankryk in die Wêreldbeker-kwarteindronde verlede jaar, het vir ’n bietjie leedvermaak gesorg by vanjaar se Spele. Een Suid-Afrikaanse Olimpiese joernalis wat met ’n Springbok-pet by die Stade de France gewaar is, is ‘weggewys’ deur ’n Franse veiligheidsbeampte voor die Fransman hom wel glimlaggend ingelaat het.

Biles skud die twisties af

Twee Amerikaanse vroue het by die Spele die kollig gedeel.

Simone Biles het vooraf aangekondig Parys gaan haar “toer van redding” (Redemptive Tour) wees. Dit is nadat sy by die vorige spele in Tokio weens die “twisties” – die verlies aan ruimtelike bewustheid wanneer jy gekompliseerde bewegings uitvoer – en geestesgesondheidsuitdagings nie goed presteer het nie.

Die gimnas het by die Spele in Parys die goue medalje ingeoes in die algehele individuele kompetisie, die spankompetisie en het ook die kompetisie op die perd (Engels: vault) gewen terwyl bekendes soos Lady Gaga en Snoop Dogg haar dopgehou het.

“Ek het hartstogtelik gehuil na die vloeroefeninge,” het sy gesê toe sy die kompetisie met ’n silwer afgesluit het. Sy het nou reeds 30 medaljes by Wêreldbyeenkomste ingeoes en 11 by Olimpiese Speles, waarvan sewe goud.

Die Amerikaner Katie Ledecky was in die 800 meter-vryslag die koningin. Dit was die vierde Spele agtereenvolgens waarin sy in die nommer goud ingoes het. Net Michael Phelps het voorheen in vier Speles agtereenvolgens die septer in een nommer geswaai. Ledecky het ook in die 1 500 meter vryslag eerste aan die muur geraak. Sy spog nou met 14 Olimpiese goue medaljes in die water.

Die groot wenners

Amerika het met die ter perse gaan nog ’n voorsprong bo China geniet. Die Yanks het 86 medaljes om die bors gehang, waarvan 24 goud. China was tweede met 59 medlajes, waaronder 22 goud. Die Franse was derde met 48 in totaal, waarvan 13 goud is.

Fanie Heyns is ’n vryskutjoernalis.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.