Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Mense het hulle optelglas in boksies, rugsakke, kruiwaens, in plastieksakke op draadkarre en wat nog als aangery om dit in te ruil vir kos vertel ds Annatjie Marais van Fraserburg. Foto: Verskaf

Noord-Kaapse gemeente vra hulp met herwinprojek wat ‘kindergesiggies verbly’


Die NG Gemeente Fraserburg kon vir vier maande elke naweek honger mae help voed én hulle dorp help skoonhou met ’n glasherwinprojek, maar toe raak hulle fondse op. “Dit was ’n moeilike Vrydag toe ons vir die mense moes sê ons geld is nou op … maar ons bly hoopvol dat fondse weer beskikbaar sal word,” skryf ds Annatjie Marais, hulle gemeenteleraar vir Kerkbode. Sy vertel hulle storie.

Werkloosheid bring honger mee – dit sien ons telkens hier op Fraserburg, ’n klein Karoo-dorp in die Noord-Kaap. En dit verg goed deurdagte planne om voedselnood aan te spreek.

Nádat ’n droogte van agt jare gebreek is deur welkome reёn het daar ’n sekere bedrag geld oorgebly wat die kerkraad as droogtehulp ontvang het vanaf ander gemeentes. Ons leier-ouderling, die skaapboer Pieter le Roux, het laasjaar toe vir die kerkraad voorgestel dat ons hierdie bedrag (wat nog nie aangewend was nie omdat die reёns gekom het) sal gebruik vir die aankoop van voedsame kos vir die groot getal behoeftiges in die gemeenskap. Werkloosheid hier is skrikwekkend.

Terselfdertyd wou ons ’n verdienstelikheidsbeginsel by die uitdeel van kospakkies inbou. Vanaf Oktober het ons versoek dat mense wat kospakkies wou ontvang enige gebruikte bottelglas (heel of stukkend) bymekaar sal maak en dit dan Vrydagmiddae bring na die ou Hodgsongebou vir inweeg. Let wel: Vensterglas of motorruitglas mag nie ingehandig geword het nie.

Dié projek het gestaan onder beskerming van ons gemeente maar ons het ook baie staatgemaak op skenkings vanaf besighede. Verskeie individue het ook kontantbydraes gegee vir kosaankope.

Lees ook: Kerk wat werk-reeks: ‘Ons glo projekte moet onafhanklik word’ | Fokus op NG Kerk Pongola in KZN

Met die hulp van ’n dieetkundige in ons gemeente, Louise Geldenhuys, is maandeliks ’n voorraad nie-bederfbare kosprodukte soos MagicMeal, vitamienverrykte pap, brood, appels asook ’n bietjie lekkernye vir die kinders aangekoop. Sy en haar span het dit dan in maaltydporsies verpak en van die plaas af ingery dorp toe.

Teen die tweede Vrydagmiddag was die Hodgsongebou op ons dorp ’n miernes van bedrywighede. Mense het hulle optelglas in boksies, rugsakke, kruiwaens, in plastieksakke op draadkarre en wat nog als aangery.

Ons was self verbaas dat die mense soveel glas bymekaar gemaak het. ’n Glaskoeldrankbottel van 1,25 liter weeg presies 1 kg. Vir elke 1 kg glas kon die persoon dan kos kry ter waarde van R2. Met net ’n R2 kon iemand ’n appel of ’n piesang of ’n handvol toffies kry. Almal het na ’n rukkie by die asgate gaan glas optel!

Vir ons het dit kophou en flinkvat gevat om die lang ry klante se glas eers in te weeg, dan vinnig op ’n papiertjie die inruilbedrag te skryf voordat dit by die “kostoonbank” ingegee word vir die kos van hulle keuse. Die dankbaarheid en trots op elke grootmens- of kindergesig wanneer sý sak glas ingeruil word vir iets voedsaam om te eet – dit is iets wat ’n mens nooit vergeet nie.

Een van ons senior lidmate, oom Gys van Schalkwyk (93), het elke Vrydagmiddag om 13:30 met sy stootkarretjie vanaf die ouetehuis gestap om te kom help met die uitdeel van die pakkies. Sy woorde telkens was “dis so verrykend vir ’n mens om die blydskap op die kindergesiggies te sien as hulle iets kry om te eet”. Oom Gys het vroeёr vir 70 jaar in die Fraserburgdistrik geboer.

Vir vier maande het die oorblywende Droogtehulpgeld deur hierdie projek regtig ’n verskil gemaak in die lewe van die armer gemeenskap van ons Karoodorp. Honger magies kon gestil word op ’n Vrydagaand en selfs vir die hele naweek. Daarmee saam was die dorp en ook die asgate skoongemaak van glas en bottels. In totaal is 29 ton glas ingebring!

Dit was ’n moeilike Vrydag toe ons vir die mense moes sê dat ons geld nou op is, dat ons nie meer fondse het om kosvoorrade aan te koop nie – dit is asof hulle dit nie kon glo nie.

’n Lidmaat het sy groot vragmotor beskikbaar gestel om die glas na ’n herwinningsmaatskappy in Kaapstad te vervoer. Nog ’n boer het ’n vurkhyser op sý onkoste gehuur om die groot sakke op die vragmotor te laai. En natuurlik, die ongeluk bly ook nie uit nie. Twee sakke se bodem het geskeur met die ophys en al die glas het op die sypaadjie beland! Ons moes van voor af weer al daardie glas bymekaarmaak en in twee heel sakke gooi. ’n Hele paar flukse kinderhandjies het met grawe help optel. Laatmiddag het die volgelaaide vragmotor met ’n vrolike getoet Kaap toe vertrek. Meer as ses maande en baie korrespondensie later wag ons steeds dat die herwinningsmaatskappy ons vir die glas vergoed …

Ons wil graag hierdie projek hervat, maar ons moet eers weer fondse bymekaar maak sodat ons die aankoop van voedsel en dies meer kan bekostig. Ons bly hoopvol dat fondse weer beskikbaar sal word, want die winter is nog lank en die werkloosheid bly met ons.

  • Die storie is ingestuur vir Kerkbode. As jy meer wil uitvind of betrokke wil raak, maak gerus kontak met ds Annatjie Marais by 073 236 0971 of Pieter le Roux by 082 390 6699.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.