Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Naas 'n indrukwekkende gemeenskapstuin, het NG Kerk Pongola in KwaZulu-Natal hul eie CMD (Christelike Maatskaplike Dienste) gestig en self 'n maatskaplike werker aangestel. "Ons dink dat dit baie uniek is. Die meeste maatskaplike kantore word deur staatsubsidie en ringe gefinansier. Ons kry nie staatsubsidie nie en word net deur ons gemeente en donateurs uit die gemeenskap gefinansier," vertel ds Petrus Botha. "Kerk wat werk" is 'n artikelreeks waarin Kerkbode vanjaar berig oor die wyse waarop lidmate in gemeentes op allerlei uitdagings in hul omgewing reageer. Ons wil die respons in detail verstaan, hoor hoe die bepaalde gemeente "sukses" of vordering meet en ook uitvind of daar bepaalde lesse of wenke vir ander lesers is. Ons maak 'n punt daarvan om ook te vra na die perke van die respons en hoe die gemeente daaroor dink. Indien jy 'n storie het wat jy met ons wil deel, stuur 'n e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za. 

Kerk wat werk-reeks: ‘Ons glo projekte moet onafhanklik word’ | Fokus op NG Kerk Pongola in KZN

As jy lidmate bemagtig, kry jy ’n kultuur van deelname eerder as ’n lys projekte. Dit hoor jy by hierdie plattelandse gemeente as hulle vertel van als van sop-aande op Hemelvaart, bande met die Zoeloesprekendes, tot kurperkompetisies en afvlerkvoëltjies. “As jy projekte het wat na binne gerig is, hou dit nie lank nie. Dit help nie jy groei maar jy het nêrens om dit gaan aflewer nie,” vertel* ds Petrus Botha vir Le Roux Schoeman.

 

Pongola: Agter die suikergordyn

“Ons het nie flieks en sulke goed nie,” vertel ds Petrus Botha oor die lewe op Pongola. “Ons is op onsself aangewese. Die gemeenskap is op mekaar aangewese. Hier is ander kerke, maar dis klein (gemeentes).

Ondanks pogings is integrasie met Zoeloes en ander gelowiges beperk, vind ’n mens uit. “Ons het nou al Zoeloemense wat ons dienste gereeld bywoon. Die grootste barrier is taal,” meen ds Petrus Botha. “By ons is die eenheidsding (tussen kerke) meer om saam te werk.”

Pongola, met sy Zoeloenaam wat sinspeel op oorvloed, lê naby die grens met Eswatini en so net oor die 200 km van Ponta do Ouro in Mosambiek, tussen Maputo en Richardsbaai. Die veelheid van wildsplase en suikerrietland in hierdie streek is dalk te verwagte vir die verre Noord-Natal aan die land se Ooskus, maar Pongola spog met ’n paar uniekhede: Die Pongolarivier is die enigste rivier in Suid-Afrika waar jy tiervis kry. En die leraar by NG Kerk Pongola, het beide groen vingers én ’n kop vir syfers! Botha is ’n kranige orgidiee-versamelaar in sy subtropiese lushof van ’n tuin. En wanneer hy nie tuinmaak of gemeentebou nie, sorg hy as “finanspersoon” vir KZN asook die Algemene Sinode Moderamen, via die Algemene Taakspan Fondse en Bates, dat daar op toeganklike wyse oor die NG Kerk se geldsake verslag gedoen word. “Almal (in die NG Kerk) wat die begroting sien, moet presies weet wat is wat,” verduidelik hy. “Hoeveel het hulle en wat hulle daarmee kan doen,” sê Botha (55).

’n Bybelstudiegroep wou meer doen as lees. “Hulle het groot gegaan,” onthou ds Petrus Botha oor dié geval van so ’n paar jaar gelede. Die lidmate het ’n pandjieswinkel (“Mot en Roes”) begin wat vandag op sy eie bene staan.

Gemeentes se uitdaging: Afgeleë dorp en minder leraars in ring en streek

Die Ring van Vryheid se vier gemeentes en drie predikante stuur af op veel groter interafhanklikheid, namate die lidmaattal en aantal voltydse predikanteposte wat gevul word krimp, meen Botha.

“Ons kry in KZN nie meer aansoeke vir predikantsposte op die platteland nie,” verduidelik hy. Werksoekers wil glo stede toe. Of wil by ’n gemeente wees en dan aanskuif na ’n universiteit of ’n makrogemeente, raai Botha. “Hier, as jy predikant word, word jy ’n grondwerker … Dis langtermyn en glad nie wat jy op universiteit geleer het nie.”

“Ons maak ons deure al vir jare oop vir almal,” vertel Botha, wat al 21 jaar hier leraar is. Voor dit was Botha, wat op Potchefstroom grootgeword het, op Newcastle, maar hy klink asof hy floreer waar hy tans woon en werk.

Die aand ná die Hemelvaartsdiens word die hele gemeenskap genooi vir ’n saamkuier rondom sop, brood en melkkos.

Reaksie tot die uitdaging: Betrokkenheid van bemagtigde lidmate

“Toe ek hier gekom het, het die dagbestuur alles gereël. As die kerkraad oor goed besluit het, het die dagbestuur herbesluit.” Dit het oor die jare verander en Botha meen dit is deurslaggewend vir sukses. “Hoe meer mense betrokke is, hoe meer kan ’n ding werk.”

Mettertyd is die dagbestuur daarmee heen. Ons sit nou met ’n kerkraad van 40 mense uit 720 lidmate (doop- en belydende lidmate saam). Dit is die ouens wat voorloop.”

Botha sien hoe sukkel ander gemeentes in die ring met klein kerkrade. “Hier bied (lidmate) hulleself aan. Daar is ’n sterk jongmensgroep (30-45 jaar) wat weer kom boer hier in die distrik. Hulle raak ongelooflik betrokke by die skool, veiligheid en die kerk, vertel hy.

Hoe meet ’n mens sukses? Rig projekte na onafhanklikheid

Botha glo die motivering vir betrokkenheid by gemeentelewe werk só: “Omdat lidmate sien daar gebeur iets in die gemeente en deur die gemeente in die gemeenskap. Ons is sigbaar betrokke oral in die gemeenskap.” Hoe? “Steundienste aan bejaardes en enkelouers wat nie beter met inkomste kan doen nie,” is een voorbeeld wat Botha noem. En dan verklap hy een van hulle beginsels: “Ons glo ’n projek mag nie ’n projek bly nie … dit moet onafhanklik word.”

Ondanks die gemeente se relatiewe swaar begin in die 1950s, slaag lidmate sowat 70 jaar later daarin om met ou staatmakers soos die basaar en nuutjies soos ’n kurperkompetisie, groot geld in te samel en die kerk se spaarvark vet te hou.

Voorbeelde en wenke uit die gemeente

 

Stig ’n pandjieswinkel

’n Bybelstudiegroep wou meer doen as lees. “Hulle het groot gegaan,” onthou Botha oor dié geval van so ’n paar jaar gelede. Die lidmate het ’n pandjieswinkel (“Mot en Roes”) begin wat vandag op sy eie bene staan.

Stig ’n onafhanklike CMD

“Ons gemeente het ons eie CMD (Christelike Maatskaplike Dienste) gestig en ons eie maatskaplike werker aangestel. Ons dink dat dit baie uniek is. Die meeste maatskaplike kantore word deur staatsubsidie en ringe gefinansier. Ons kry nie staatsubsidie nie en word net deur ons gemeente en donateurs uit die gemeenskap gefinansier. Die CMD bied verskeie dienste. Ons gee aan verskeie gesinne kospakkies, berading, terapie en ander maatskaplike dienste. Ons het ook ’n hele klomp hulpmiddels wat ons by die kerk stoor en gratis aan mense uitleen, onder andere hospitaalbeddens, rolstoele ens,” verduidelik Botha.

Skep ruimtes en nooi binne

Die aand ná die Hemelvaartsdiens word die hele gemeenskap genooi vir ’n saamkuier rondom sop, brood en melkkos. Daar is 23 potte sop – seekos, biltong en vele meer, 40 liter melkkos en baie tuisgebakte brood. Die punt is egter dat dit ’n gemeenskapsete is, vertel Botha. “Ek is ’n ou wat nie lank preek nie.” Geleenthede soos hierdie sopaande, is sy kos, hoor ’n mens. “As jy projekte het wat na binne gerig is, hou dit nie lank nie. Dit help nie jy groei maar jy het nêrens om dit gaan aflewer nie.”

Dan voeg hy by: “Die wonderlike is dat al hierdie genoemde projekte deur bemagtigde gemeentelede bestuur word. Nie een van hierdie projekte is eintlik meer gemeenteprojekte nie.”

 

Waar lê die perke?

Ondanks pogings is integrasie met Zoeloes en ander gelowiges beperk, vind ’n mens uit. “Ons het nou al Zoeloemense wat ons dienste gereeld bywoon. Die grootste barrier is taal,” meen Botha. “By ons is die eenheidsding (tussen kerke) meer om saam te werk.”

Die verhouding met die Uniting Reformed Church behels onder meer die betaal van twee leraars se salarisse. “Ons het saam met hulle ’n gemeenskapstuin begin en hulle bestuur dit nou onafhanklik.

Sterkpunte en insigte: ’n Oue se waarneming

Ondanks die gemeente se swaar begin**, slaag lidmate sowat 70 jaar later daarin om met ou staatmakers soos die basaar en nuutjies soos ’n kurperkompetisie, groot geld in te samel en die kerk se spaarvark vet te hou.

Wanneer ’n mens Botha pols oor die insig wat hy in die bediening agter die suikergordyn opgedoen het, sê hy: “Wat vir my alles laat sin maak, was ’n ouer persoon wat vir my gesê het: ‘Hier is plek vir almal. Julle het plek gemaak vir afvlerkvoëltjies soos ek ook’. Wanneer iemand iets wil doen, moet om hemelsnaam nie in hulle pad staan nie, moenie voel asof jy nou nie meer goed genoeg is nie. Dien saam!”


Vinnige Feite: NG Kerk in KZN: Klein in getal

Die NG Kerk in KwaZulu-Natal was nog altyd iets van ’n buiteperd vergeleke met die groter samestellende kerke, oftewel streeksinodes, van die NG Kerk.

In die eerste 100 jaar van sy bestaan, was daar slegs 11 gemeentes in die destydse provinsie van Natal, volgens ’n Kerkbode-artikel in Maart 1955.

Daar was wel tekens van groei – veral rondom die versorging van armes. In 1919 is die Greytown-kinderhuis begin en in die twintigerjare is ’n “spoorwegleraar” aangestel vir die bearbeiding van lidmate “ver van kerklike sentra”. Maar tot vandag is die refrein wat ’n mens dikwels by NG leiers in KZN hoor: “Ons is ’n klein speler hier.”

Pongola: Groot deelname van lidmate

**Die gemeente is in 1953 gestig en die beginjare was finansieel moeilik vir die dorp, wat as ’n soort bemagtigingsprojek onder bewind van die Nasionale Party gevestig is. Teen die jare ’60 was daar meer as 600 lidmate en dit blyk betrokkenheid was reeds kenmerkend van die gemeente, met kerkkoorlede wat soveel as 20 myl aflê om te kom oefen. Ds JE Cilliers het in 1964 uitgewerk dat die 16 koorlede van Pongola met elke oefening 144 myl aflê, oftewel altesaam 5 760 myl per jaar om die 40 oefeninge by te woon, het Kerkbode destyds berig.


*”Kerk wat werk” is ‘n artikelreeks waarin Kerkbode vanjaar berig oor die wyse waarop lidmate in gemeentes op allerlei uitdagings in hul omgewing reageer. Ons wil die respons in detail verstaan, hoor hoe die bepaalde gemeente “sukses” of vordering meet en ook uitvind of daar bepaalde lesse of wenke vir ander lesers is. Ons maak ‘n punt daarvan om ook te vra na die perke van die respons en hoe die gemeente daaroor dink. Indien jy ‘n storie het wat jy met ons wil deel, stuur ‘n e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za. 

 

Lees nog artikels in hierdie reeks:

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top