Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Hulle internskapprogram bring nuwe jong gesigte na KnysnaKerk wat amazing is vir hulle gemeente,” vertel ds Enél Lambrecths soos hierdie gesamentlike diens wat hulle interns saam met Youth for Christ (YFC) onlangs gehou het. Foto’s: Verskaf

Kerk wat werk-reeks | KnysnaKerk ‘Die Here bring die nasies na ons toe’


’n Paar jaar gelede het bosbrande die huise van sowat 60 lidmate van KnysnaKerk in puin gelê. Die trauma hiervan – tesame met die latere Covid-pandemie en ’n brugpredikantproses van meer as ’n jaar en ’n half – het sy merk op Knysna se enigste NG gemeente gelaat. Toe arriveer ’n leraarsegpaar wat saam met die lidmate ’n “nuwe kerk” wil bou wat die beeld het van ’n plek waar enigeen welkom is. “Maar ek sou nie sê ons het al arrive nie,” voeg ds Enél Lambrechts by. Sy deel met Heléne Meissenheimer die ervaring en insigte wat dié gemeente opgedoen het.

Wes-Kaapland: Knysna op die Tuinroete haal deesdae die nuus as ’n dorp waar dinge soos munisipale dienslewering nie reg werk nie, maar by dié gemeente (sowat 1 000 lidmate) kry ’n mens beter nuus soos ’n kankerondersteuningsnetwerk, nuwe vennootskappe binne hulle gemeenskap en ’n mentorskapprogram vir jongmense wat teologiese opleiding wil doen.

Lees ook: Kerk wat werk: NG Gemeente Tygerpoort in Pretoria skep werk vir 50 mense

Geborg

Ds Enél Lambrechts sê die Covid-pandemie was vir hierdie gemeente ’n geskenk. ’n Geleentheid om nuut te dink oor die manier waarop hulle dinge aanpak. “Ons het gesê wanneer die kerk weer oopmaak moet dit ’n nuwe gemeente wees. Die ou seer en vasgelooptheid moet verby wees. Soos ’n kerk wat ons plant,” verduidelik die gemeente se leraar wat sedert begin 2020 hier bedien saam met Francois, haar predikantman. Hy was aanvanklik voltyds vrywillig betrokke, maar het nou ’n betaalde pos in die gemeente wat fokus op media en die bou van netwerke.

Met die Lambrechts-gesin se aankoms was die gemeente pas deur ’n 18 maandelange brugproses.

Die Lambrecht-gesin is, van links, Francois, Lea, Enél en Henru.

Kort tevore was dit die bosbrande wat groot skade in hierdie deel van die Tuinroete aangerig het. Meer as 60 lidmate in hierdie gemeente alleen se huise het afgebrand.

Enél vertel hulle as egpaar het ook seerkry gehad wat hulle moes verwerk. Sy en Francois het ’n paar jaar tevore die besluit geneem om saam by dieselfde gemeente te bedien al is daar net een pos oop. Voor Knysna was hulle vir sewe jaar leraars by verskillende gemeentes in Brakpan en daarna so twee jaar saam by ’n nuutgeplante gemeente in die Kaap. Dit werk vir hulle beter as hulle saam by een gemeente is, was hulle ervaring.

Soos sy dit stel, die pandemie was dus ’n “geskenk” – ’n tyd vir “heelword vir ons en die gemeente.”

KnysnaKerk se historiese kerkgebou in Voortrekkerstraat. Die Kruiskerkkompleks is so ’n blok hiervandaan.

Leierskap van onder na bo

Lidmaatbemagtiging is vir haar en Francois baie belangrik. Met hulle aankoms by die gemeente het hulle die leierskapkultuur beleef as “bemagtigend maar dalk tog met ’n ‘top down’ struktuur. In hulle twee se hart was die behoefte dat dit omgedraai word van onder af boontoe … “Om te erken die Here het nie vir my en Francois kerk gemaak en nou is dit ons werk om te bedien nie. Dit is vir ons belangrik om mense konstant deel te maak en geleentheid te gee om te dien en bedien,” verduidelik Enél.

Geborg

Hulle het verlede jaar saam met ’n visioeneringspan die In Pas-handleiding gebruik wat gemeentes help “om ’n missionale kultuur in die gemeente te vestig,” soos verwoord op die webblad van die NG Kerk.

Hierna gebeur ’n paar nuwe dinge. Die naam NG Gemeente Knysna verander na KnysnaKerk.

Meer mense raak betrokke in bedieninge in die kerk. Hier van links, dr Albert Alberts (kankerondersteuning), Ciffie Stears (pastorale sorg), Esmé Nel (kantoor), Petro Jonker (kantoor), Alta Jordaan (senior lidmate), Heidé Kidd (traumabediening), Felicity Kapp (gebed) en Francois Lambrechts.
Daar is ook lidmate wat op Sondae mense welkom laat voel by die eredienste.

Meer mense raak betrokke in bedieninge in die kerk. So is daar nou ’n afgetrede onderwyser wat saam met ’n groep van 40 vrywilligers verantwoordelikheid neem vir verskillende aspekte van pastorale sorg: Siekebesoeke, hospitaal-besoeke en trauma-ontlonting. ’n Afgetrede onkoloog lei ’n ondersteuningsgroep, bestaande uit mense uit die hulpprofessies, om mense prakties en pastoraal by te staan wat kanker het.

Daar is nog baie meer voorbeelde. By die laaste vrywilligersfunksie het Enél-hulle meer as 200 mense wat op verskillende maniere in bediening betrokke is genooi om erkenning te gee aan die bediening wat KnysnaKerk deur elkeen doen.

In hulle eie bediening sien ’n mens ook ’n uitleef van Enél en Francois se unieke gawes. Soos sy dit verduidelik: “Ek is meer geneig tot sisteemdenke/groter prentjie en Francois implementering en meer detail”. Dit is dan ook waarom hulle besluit het dat Enél vir die leraarspos by Knysna-gemeente sou aansoek doen.

‘Sien jou Sondag’

So is daar ook lidmate wat op Sondae mense welkom laat voel by die eredienste. Omdat dit belangrik is dat mense van verskillende agtergronde kan tuis voel in Knysna, is daar intensioneel mense uit alle agtergronde deel van hierdie span.

Geborg

“Dit is vir ons baie belangrik om die (spreekwoordelike) deure van ons ingangsportaal so wyd as moontlik oop te maak,” verduidelik Enél. Die gaping tussen ryk en arm is groot op hierdie dorp wat so ’n gewilde toeristebestemming is. Hier bly van miljoenêr-sakepersone en middelklasgesinne tot boswerkers asook ’n klomp haweloses. Iets van hierdie diversiteit begin sigbaar raak in hulle dienste, “maar ek sou nie sê ons het al arrive nie,” voeg sy by.

Lees ook: Brixton: As mens sukses sou meet aan getalle en geld, sou jy dink dié gemeente is onsuksesvol. En tog…

Elke Sondag is daar twee dienste, een meer tradisioneel met orrelmusiek in die historiese kerkgebou in Voortrekkerstraat en ’n tweede met ’n band wat Engelse en Afrikaanse Gospelliedjies speel in die Kruiskerkkompleks in Fichatstraat. Vir die kinders is daar Liggieskerk in dieselfde tyd as die Kruiskerkdiens.

Al die dienste is in Afrikaans. “Ons voel ons is geroep vir Afrikaans,” sê sy en voeg by dit is omdat daar min Afrikaanse kerke op die dorp is.

Die kerk se saal word ook deur die week gebruik deur Christ in Action (soortgelyk aan die CSV).
Buitelugsangdiens met Paasfees op Buffelsbaai.

Die vrug op hierdie nuwe maniere van doen is om te sien dat mense wat die kerk gelos het weer dienste bywoon. Op ’n goeie Sondag kom so 250 mense kerk toe. Onder hulle is heelwat jong gesinne. En nuwe gesigte.

Nuwe jong gesigte

Onder hierdie nuwe gesigte tel ook die groepie jongmense wat ingeskryf is vir die leierskapkursus wat Francois, Enél se man, aanbied. Die jongmense doen sy kursus gelyklopend met ’n aanlyn kursus in ’n teologiese rigting by Hugenote Kollege.

Geborg

Lees meer in: Hugenote Kollege vier eerste ‘eie’ gradeplegtigheid

Verlede jaar het drie vroue ingeskryf op hierdie internskapprogram. Jodene Pedro vir die bedienaarskursus in Jeug- en Familiebediening en Amy Stuurman vir pastoraat. Mariëtte Cloete het later deel van die program geraak en slegs ’n gedeelte van die leierskapskurrikulum voltooi. Amy en Mariette is nou beide ingeskryf vir BTh-graadkursusse onder mentorskap van KnysnaKerk.

Vanjaar het vyf jong Xhosa-persone van die VGK in Khayalethu ingeskryf. Daar is dus ’n groep van sewe studente hierdie jaar in die bediening, gelyklopend met hulle studies, by KnysnaKerk. Dit bring ’n reuse-verandering.

“Dit is amazing vir ons gemeente,” vertel Enél. “Skielik is ons nou oop vir ander kulture. Die Here bring die nasies na ons toe.”

Kerk moet ’n plek wees om te gaan wanneer dinge moeilik raak

Nog ’n manier waarop hulle die spreekwoordelike deure wyer oopmaak is deur brûe te bou. So is daar vandag verskeie plaaslike organisasies en instansies met wie die gemeente in vennootskap staan. Dit sluit in die VGK-gemeentes in Khayalethu en Hornlee, Badisa Gesinsorg en die plaaslike ouetehuis, Loeriehof. By een laerskool neem die Lambrechtse deel in die weeklikse interdenominasionele bediening en by Hoërskool Knysna werk hulle saam met ’n plaaslike jeugorganisasie Youth for Christ (YFC) Knysna. Die kerk se saal word ook deur die week gebruik deur Christ in Action (soortgelyk aan die CSV).

Nou die dag by ’n saalopening sê die skoolhoof vir Francois “dis jou kinders ook”. Dit is kosbaar vir Enél. Sy vertel dit is belangrik dat jou beeld as kerk in die dorp een moet wees van hier is ’n plek waarheen jy kan gaan wanneer dinge moeilik raak.

“Ons is ’n gemeente waar ons regtig glo die beste ding wat met jou kan gebeur is om die verlossingsboodskap van Christus te aanvaar. Wat hand-aan-hand hiermee loop is om deel te word van die plaaslike geloofsgemeenskap.

Daarom is die boodskap deurentyd “Sien jou hierdie Sondag – so help KnysnaKerk jou om te kan behoort in die geloofsgemeenskap en jou roeping uit te leef”.

  • Die artikel vorm deel van ’n reeks, Kerk wat werk. In hierdie reeks wil Kerkbode stories vertel van gemeentes met ’n grensverskuiwende gemeenteprojek wat hulle help om op voetsoolvlak ’n nood in hulle gemeenskap aan te spreek. Het jou gemeente so ’n storie om te vertel – of julle groot of klein is, platteland, voorstedelik of stad, ons hoor graag van jou. Kontak ons by kerkbode@tydskrifte.co.za

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.