In die ooste van Pretoria is ’n gemeente (sowat 3 500 lidmate en ’n personeeltal van 50) wat vir honderde kinders ’n veilige ruimte bied. Hulle bestaande fasiliteite word daagliks gebruik en is so in aanvraag dat hulle nog moet aanbou. Heléne Meissenheimer berig oor Tygerpoort se nuwe bouprojek, Tygerplein, en hoor by een van die leraars meer oor die waarde van die vier C’s (Congregation, Culture, Compassion, Commerce).
As ’n mens op enige weeksdag sou staan by die wye ingang na die NG Gemeente Tygerpoort gaan jy honderde motors sien in en uitry.
Ouers kom om hulle kinders af of op te laai by een van vier opvoedkundige kindersentrums of by die kunstesentrum vir lesse in al die kunsvorms soos musiek of drama. ’n Lidmaat, wat deur die Covid-pandemie haar besigheid verloor het, se koffiewinkel bied ’n gewilde wagplek vir ouers wat kinders in Tygerpoort Laerskool oorkant die pad het. Nie ver van hierdie bedrywige perseel af nie huisves die gemeente (saam met ander vennote) ’n gemeenskapskliniek wat basiese gesondheidsorg en oogsorg aan die gemeenskap lewer.
“Al die bedrywigheid is hoe die gemeente gestalte gee aan hulle leuse, ‘nie ter wille van onsself nie’. Ons wil ’n gemeente wees wat ons hele gemeenskap dien,” verduidelik dr Zander van der Westhuizen, een van hierdie makrogemeente se drie leraars. Hy is die een wat die afgelope paar jaar die nouste gemoeid is met die bestuur van al hierdie projekte. Nie dat hy dit alleen doen nie, ’n hele span kundiges vanuit die gemeente dien saam met hom op ’n uitvoerende komitee en honderde lidmate help op nog verskillende maniere.
Van der Westhuizen sê vir hom beteken goeie rentmeesterskap om met wat jy het te probeer om behoeftes wat jy in jou gemeenskap sien aan te spreek. Soos hy dit stel, “… kerkkombuise wat nie kos maak nie, kerkpersele waar deur die week niks gebeur nie, wat leeg staan om net vir ’n uur op ’n Sondag gebruik te word, ek dink nie ons kan dit meer doen nie”.
Dit het begin by ’n speelgroepie …
So dertig jaar terug was daar in hierdie deel van Pretoria baie plotte met gesinne met klein kinders. Marie Dreyer het die behoefte vir ’n speelgroepie vir voorskoolse kinders raakgesien en een begin. Haar man, dr Danie Dreyer, was toe Tygerpoort-gemeente se dominee.
Soos ’n mens kan lees op die gemeente se webblad, het hierdie eerste speelgroepie oor tyd uitgebrei na ’n volwaardige kleuterskool. Intussen het die laerskool oorkant die kerkterrein se groeiende getalle weer die behoefte aan ’n naskoolsentrum geskep. Ook hiermee het die kerk besluit om te help. Daar is vandag ’n baba-en-peutersentrum, kleutersentrum, grondslagfase naskoolsentrum en interfase naskoolsentum.
Die verskillende sentrums vorm deel van die gemeente se bediening. Dus buiten die drie gemeenteleraars en die gemeente se maatskaplike werker, is die sentrums se personeel ook in diens van die kerk. Vanjaar ’n mooi ronde 50 in totaal. Die gemeente het dus ook ’n werkskepper geword in die gemeenskap.
Die gemeente plaas dan ook groot klem op kinderbediening. Van der Westhuizen meen hulle het tussen 200 en 300 voorskoolse kinders wat by kleuterkerk of ander aktiwiteite inskakel. Daar is ook sowat 500 tot 600 ouer kinders wat by groeigroepe (Sondagskool) betrokke is. Elke erediens het ook ’n kindertyd.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Johan Erasmus: Om eenvóúdig kerk te wees
‘Enige droom of visie verg ekstra druk’
Die groei en uitbreiding bring natuurlik weer uitdagings van hulle eie mee. Soos Van der Westhuizen verduidelik plaas ’n oorgangsfase tot ’n nuwe uitbreiding dikwels druk op die pligte van die gemeentepredikant en die bestaande personeel. “Enige droom of visie verg ekstra ure en ekstra druk. Dit is ’n gegewe,” sê hy.
Só moes hy, buiten sy gewone predikantswerk, al ure se studie insit om meer te leer oor dinge soos verantwoordelike bestuur van personeel en hoe om belastingkorting (vorm 18-A’s) te kan bied op donasies. Die gemeente het vir hierdie rede ’n ekstra nie-winsgewende maatskappy gestig bekend as die Tygerpoort Netwerkfonds.
Dit help dat hulle bekwame lidmate het op hulle kerkraad en die uitvoerende komitee, wat met die projekte se bestuur gemoeid is. Dit sluit in lidmate in professies soos arbeidsreg, prokureurs, geouditeerde rekenmeesters, dokters en kundiges met kennis van eiendomme, belasting, kontrakte en meer. Ander kere sal lidmate hulle in kontak sit met iemand buite die gemeente wat kan help. “Networking” soos Van der Westhuizen dit stel. Verlede jaar het nog 300 lidmate hulle hand opgesteek vir deelname tydens ’n ‘Daag op’-veldtog. In kort, ’n groot groep van die 3 500-sterk gemeente is op een of ander manier direk of indirek betrokke hetsy deur tydens eredienste te help, groepe te lei, met projekte te help of hulle kundigheid te deel.
Die 4 C’s
Soos die omgewing verander het, het die gemeente se bedienings uitgebrei. Buiten die opvoedkundige sentrums, die gemeenskapskliniek en die netwerkfonds is die gemeente betrokke by etlike ander welwillendheidsprojekte.
Dit het hulle as gemeente by ’n plek gebring waar hulle moes nadink oor wat dit beteken om kerk te wees binne hulle spesifieke omgewing. Die Engelse teoloog Samuel Wells en sy “4 C’s” soos uiteengesit in sy boek, A future that’s bigger than the past: Towards the renewal of the church, het hom hiermee baie gehelp, vertel Van der Westhuizen.
Hy omskryf die vier C’s op die gemeenteblad as volg: “Congregation staan vir gemeentelewe. Ons gemeente se vingerafdruk binne ons konteks (Culture), diensbaarheid (Compassion) en volhoubare inkomstestrome om ons bedieninge moontlik te maak (Commerce). Ons wil verseker dat ons gemeente kan voortgaan om nie net ons gemeente nie, maar ook ons gemeenskap te dien. Sodoende kan ons ons roeping uitleef”.
Hulle nuwe bouprojek, Tygerplein, is ontwerp om ’n veeldoelige sentrum te wees wat die gemeente juis hiermee gaan help, om volhoubaar diensbaar in hierdie gemeenskap te bly. Lees meer daaroor op hulle webblad by: https://ngtyger.com/bou-projek/
Dit is vir Van der Westhuizen hulle droom en uitdaging vorentoe.
Hy deel ook graag wat hy in die proses geleer het:
- Droom groot maar weet jy gaan moet bereid wees om hard te werk.
- Doen jou huiswerk en kry kundige advies. Jy het ’n verantwoordelikheid om dinge korrek en volgens die wet en regulasie te doen (“Compliance”).
- Jy moet volhoubare goeie leiers hê – anders begin jy met iets wat jy nie deurvoer nie en dan kry mense seer of personeel verloor hulle werk.
- KOMMUNIKASIE: Dit is ’n massiewe belangrike aspek van gemeentewees vandag. Jy moet jou idee aanbied as mooi netjies verpak, kontekstueel en duidelik – anders kan jy jou gemeente verloor. Jy moet lidmate saamvat terwyl jy leiding neem en voorloop. Kommunikeer goed, effektief, netjies en duidelik.
Laastens, vertrou die Here. Ons het soms te min geloof. Ek is iemand wat 110% my deel doen, deeglik is en voorberei. En die kollegas en lidmate om my ook. Maar soms moet ons (die mooi gereformeerde, nugter, verantwoordelike beplanners) ’n “leap of faith” neem en vertrou in die Here. Ons het geen twyfel gehad dat ons as leierskap die regte ding doen nie. Ons was in ons hart oortuig die Here gee vir ons hierdie geleenthede. Ons moet dit aangryp.
En dan moet jy glo en vertrou.
- Die artikel vorm deel van ’n reeks, Kerk wat werk. In hierdie reeks wil Kerkbode stories vertel van gemeentes met ’n grensverskuiwende gemeenteprojek wat hulle help om op voetsoolvlak ’n nood in hulle gemeenskap aan te spreek. Het jou gemeente so ’n storie om te vertel – of julle groot of klein is, platteland, voorstedelik of stad, ons hoor graag van jou. Kontak ons by kerkbode@tydskrifte.co.za