Dié gemeente in die Vrystaat wend hulle ook tot die buitengewone – van skape voor die kansel tot kruise op ’n koppie – om geloof gestalte te gee. Kerkbode berig.
’n Skaapkraal kompleet met ooie en lammers wat blêr en suip vlak voor die kansel was deel van ’n onlangse doop- en kinderdiens binne die kerkgebou op Trompsburg … en maar net die jongste van ’n paar buite-die-boks-benaderings tot kerkwees op dié dorp in die Suid-Vrystaat.
Met die afgelope doopdiens vir klein Amke, dogter van diaken Jannie en Naneen Alexander, wou die dominee, dr Gerdrie van der Merwe, op oorspronklike wyse die doop in verband met die merk van die skape bring.
Twee lidmate wat in die omgewing boer, het die lammers gemerk terwyl kinders en lidmate toegekyk het. Op foto’s wat aan Kerkbode gestuur is, kan ’n mens sien hoe Edgar Archer van die plaas Endor die skape merk en hoe Eddie Archer van die plaas Badfontein vaardig ’n lam vashou.

Nadat Van der Merwe die doop langs die skaapkraal bedien het, het die 70-jarige termynleraar van die NG Gemeente Trompsburg dit met ’n preek opgevolg. Met Johannes 10 vers 28 as ankervers het hy die boodskap gebring dat kinders by die doop gemerk word vir die Here se koninkryk, net soos ons die skape merk wat dan die eiendom van die boer is.
Ná die erediens het kinders in die skaapkraal geklim en kennis gemaak met die ooie en lammers.
Dié nuutjie vind plaas in ’n gemeente wat ook ’n hand gehad het in die oprig van die drie tamaai kruise wat bedags en met slim beligting ook snags vanaf ’n koppie teen die N1-snelweg pryk.


Flip Henning (80) beskryf homself einde verlede jaar tydens ’n kort Kerkbode-besoek aan Trompsburg as iets van ’n “rough diamond” maar dié boer en kerkraadslid vertel graag as ’n mens hom uitvra hoe hy meer as ’n dekade gelede betrokke was met die groot taak van die oprig van daardie kruise – “die eerste driekruiskombinasie in die land”, soos Henning dit stel (intussen het ander dorpe natuurlik ook projekte op soortgelyke skaal aangepak).
“Ek en nog drie ander persone, Willem Botha, Lourens Terblanche en Herman van Schalkwyk het die kruise vervaardig en onder ons roep geneem,” vertel Henning.
Die kruise bied ’n groot hoop aan veral vragmotorbestuurders wat moeg vir die pad en sommer moeg vir die lewe is, verduidelik Henning, wat ook oor die jare betrokke gebly het met die stryd om die drie reusekruise snags belig te hou te midde van onderskeidelik beurtkrag en later diefstal van sonpanele. Maar deesdae het ons minder probleme, het Henning vertel.
Nog ’n praktiese gebruik wat Trompsburg via Van der Merwe hier in stand hou, is die bediening van tuisnagmaal met ’n draagbare sakramentestel om diegene wat op afgeleë plase woon of vir ander redes nie meer kerk kan bywoon nie, die brood en die wyn te bedien.
NG Gemeente Trompsburg het ook, as plattelandse familiegrootte gemeente, sy uitdagings soos dalende lidmaatskap (tans 229 belydende lidmate en 68 dooplidmate) en het in November 2023 bekendgemaak dat hulle aansoeke inwag vir ’n vastetermynpos van drie jaar.
Is jou gemeente besig met ’n projek wat ander lidmate en Kerkbode-lesers sal inspireer? Kontak ons by kerkbode@tydskrifte.co.za. – Red.