Vroeg in Junie het erge winterstorms oornag honderde mense dakloos gelaat. Op die Oos-Kaapse dorp Kariega (voorheen Uitenhage) het die NG Gemeente Uitenhage-De Mist besluit om hulle kerksaal oop te stel om van hierdie mense te help. Uiteindelik is 150 mense, waarvan amper ’n derde kinders, vir net meer as ’n week so gehuisves terwyl die hele gemeenskap saam met verskeie hulporganisasies ingespring het met hulp. Die mooiste vir haar in hierdie tyd was die verhoudings wat gevorm is, vertel hulle gemeenteleraar, ds Trunette de Jongh. Maar sy voeg by dié ervaring was ook ’n eye-opener oor wat by jou kerk in plek moet wees voordat ’n ramp tref. Sy deel met Heléne Meissenheimer die ervaring en insigte wat dié gemeente opgedoen het.
Probleme en uitdagings tydens vloedramp
Hulle is bekend as ’n gemeente met ’n oop hand, maar dit was ’n eerste om mense in hulle kerksaal te laat bly. Trunette vertel sy het die kerkraad gevra of hulle dit kan doen toe sy die Saterdagaand op WhatsApp-groepe sien hoe mense letterlik moes swem na veiligheid. Baie van hulle was van ’n armer woongebied bekend as Dr Braun waar hulle gemeente ook bedien.
Sy het via sosiale media kennis gegee hulle kerksaal is oop. Net na middernag was die eerste mense daar. Sy het gedink dit sou net vir so ’n nag of twee wees. Uiteindelik het 150 mense vir net meer as ’n week in hulle kerksaal gebly. Ingesluit sowat 50 kinders waarvan een ’n stremde meisie wie se rolstoel weggespoel het.
Uitdagings was daar baie. Soos Trunette verduidelik: “Ons was nie gerat hiervoor nie. Buiten vir die feit dat ons geen idee gehad het hoe om die krisis van ’n vloed te hanteer nie, was dit ook ’n eerste om mense te huisves in ’n gebou wat nie eintlik gemaak is vir soveel mense en wat so lank oorslaap nie”.
Nog uitdagings het ingesluit:
- Hou van rekords
Hulle het ontdek groot hulporganisasies (sy lys regeringsinstansies, Gift of the givers, Rooikruis ens) vereis dat ’n mens moet rekord hou van elke persoon wat by jou deur instap. Trunette vertel hulle meen dat hulle byna 400 mense se inligting op rekenaar gesit het, want buiten die mense in die kerksaal was daar ook mense (walk in’s) wat hulp kom vra het en kospakkies gekry het. Dit vra ’n klomp mannekrag. ’n Lidmaat van hulle gemeente het dae hieraan spandeer.
- Konsekwente kommunikasie
Vrywilligers kom en gaan soos hulle kans en tyd het om te help. Dit kan die konsekwente toepas van reëls bemoeilik.
- Bad- en stortgeriewe
Hulle kerksaal het nie geriewe vir bad of stort nie, en ook nie warm water nie. Trunette vertel hulle het met elektriese ketels water gekook sodat mense in skottels kon was. “Die mense was so aanpasbaar. Dit is amazing om te sien dat hulle reggekom het met die beperkte goed wat tot ons beskikking was,” sê sy.
- Regte mense om mee te praat
Haar man, Danie, is predikant by NG Gemeente De Duin op Gqeberha. De Mist (met so 600 lidmate op die boeke) is haar eerste gemeente. Sy het in 2022 klaar studeer en is in Maart hier bevestig. “So, ons is nog nuut op die dorp,” vertel Trunette. Dit was daarom vir hulle moeilik om te weet wie die regte mense is om mee te praat by maatskaplike dienste en rampdienste. Sy sê dit is belangrik om met hierdie groepe verhoudings te vestig voor daar ’n ramp is.



Wat is die bewyse van sukses/wat is die terugvoer?
Toe die vloedramp hulle gemeenskap tref, was Trunette eintlik op kraamverlof na hulle eersteling se geboorte op 16 Maart. Haar kollega en vriend, pastoor Ken du Pisanie en sy vrou Nadine, wat ’n huiskerk het, het intussen uitgehelp by haar gemeente. Hy het ingespring om die oorhoofse reëlings en administrasie van die hulpverlening te doen.
Hulle het vinnig besef goeie logistieke reëlings is onontbeerlik. Die hele Kariega-gemeenskap en ook mense van regoor die land wou help. So was die kerk se parkeerterrein reeds Sondagoggend vol mense wat klere en kos aandra. Teen Dinsdag was daar ’n nuwe rystoel vir die meisie wie s’n weggespoel het. Deur die week het Sondagskooltannies en onderwyseresse met die kinders kom help. ’n Ander kerk het ’n fliekaand kom hou. Leraarkollegas het met pastorale versorging kom help terwyl lidmate, besighede en gemeenskapsmense kospakkies gepak en klereskenkings gesorteer het. Talle organisasies het ingeskakel om te help soos AfriForum wat matrasse kom aflaai het. Ook die Moslemgemeenskap was betrokke, selfs die imam was twee keer daar.
Baie van die mense in die saal was lidmate van die VGK-gemeente, so van hulle mense het kom sop maak. Ook die saal se volwassenes is ingedeel by kosspanne. Op hierdie manier is nuwe verhoudings gevorm wat vir Trunette van die mooiste goed is wat gebeur het. Soos sy vertel, “mense in die gemeenskap, wat waarskynlik nie sommer saam sou kom nie, het nou saam geëet, saam kos gemaak. Slagoffers en vrywilligers het saam gewerk om hierdie week seker te maak almal is versorg”.


Terugskouend: Wat het gewerk en wat nie?
Saam met al die uitdagings was daar ook dinge wat goed gewerk het. “Sosiale media was ons vriend. Dit was die vinnigste en maklikste manier wat ons die woord daar buite gekry het,” vertel Trunette. Hulle het verskillende WhatsAppgroepe en die gemeente se Facebookblad hiervoor gebruik. Hulle versoek vir vrywillige helpers is byvoorbeeld 58 keer op Facebook gedeel, onder andere deur ander gemeentes en die NG Kerk in Oos-Kaapland.
Hulle het geleer ’n mens moenie bang wees om te vra nie. Dalk is daar iemand wat iemand ken en kan help. Selfs al is dit vir buitetoilette.
Dit het gewerk dat die mense wat in die saal gebly het eienaarskap vat. Soos sy vertel, “die mense wat in die saal gewoon het, het gehelp skoonmaak, help kos maak”.
Wat kan vir ander gemeentes werk wat wil help wanneer ’n ramp tref?
Vir haar staan twee goed uit. Die eerste is dat ’n gemeente besin wat is hulle roeping wanneer ’n rampsituasie hulle gemeenskap tref. Vra vrae soos waarmee sal julle kan help?, hoe sal julle dit doen? en vir hoe lank? Trunette se man was in die week wat hulle kerksaal vol mense was ingeskakel by ’n aanlynopleidingsessie vir gemeentes oor hoe om hulp en ondersteuning te gee tydens rampe. Sy vertel na hierdie ervaring meen hulle beide hierdie onderwerp is iets waaroor meer in die kerk gepraat moet word.
Tweedens, weet wie is die regte mense wat kan help tydens ’n krisis. Stel ’n databasis op van wie die belangrike rolspelers in die gemeente en gemeenskap is soos regeringsamptenare, maatskaplike werkers, skole, wyksraadslede ens. Bou verhoudings met hulle op.
Ten slotte, by navraag of sy dit weer sal doen, antwoord sy al sê haar kop nee, sê haar hart en gees ja! Sy voeg by: “Ek voel die gemeente moet ’n plek wees waar mense tuis kom en waar mense wat deur die samelewing uitgestoot word veilig kan wees. Ek dink die ramp het ons gemeente opnuut kom leer dat ons verby ons eie gemaklikheid en ons eie grense leer om Jesus se liefde op ’n praktiese manier te wys!”