Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Hulle visie vir ’n ekumeniese rampreaksienetwerk is om so effektief te wees soos ’n Toyota-bakkie, het Boshoff Grobler van die Christelike hulporganisasie, Heal our Land, gesê tydens ’n aanbieding op die vierde dag van die NG Kerk se saamtrek op Boksburg. Foto's: Heléne Meissenheimer

Rampreaksie: Ekumeniese netwerk nooi wyer samewerking as ooit om Christelike getuienis te konsolideer

Word deel van ’n ekumeniese rampreaksienetwerk. Dit was die pleidooi aan sinodegangers tydens ’n aanbieding op die vierde dag van die NG Kerk se saamtrek op Boksburg.

Die visie wat God vir hierdie netwerk het is om so effektief te wees soos ’n Toyota-bakkie, het Boshoff Grobler van die Christelike hulporganisasie, Heal our Land, gesê tot vermaak van die gehoor van sowat 400 afgevaardigdes en besoekers.

‘n Landwye reaksienetwerk wat so effektief is soos ’n Toyota-bakkie …
‘n Visie “…om meer effektief en gekoördineerd op rampe te kan reageer…”

Grobler is die nuwe voorsitter van RESPOND, ’n ekumeniese rampreaksienetwerk waarin verskillende kerke, waaronder ook die NG Kerk met mekaar handevat. RESPOND, saam met dr Nioma Venter, voorsitter van die Taakspan Missionale Diakonaat, en dr Marinda van Niekerk, voorsitter van die Taakspan Missionale Roeping, het in Junie in die Kaap ’n vergadering gereël waartydens verskeie kerke genooi is om deel te word.

Die ontmoeting volg op ’n versoek aan hierdie twee taakspanne om so ’n nasionale rampreaksienetwerk te vestig. Rampe soos die brande in Knysna, die politieke onrus in KwaZulu-Natal en die droogte in die Noord- en Oos-Kaap het vir die kerkleierskap gewys daar is ’n behoefte vir ’n nasionale hulpnetwerk waarby gemeentes en streeksinodes “kan inskakel om meer effektief en gekoördineerd op rampe te kan reageer,” luidens die verslag van Taakspan Missionale Roeping wat by hierdie sinode voorgelê is.

Die netwerk sal ook wil saamwerk met bestaande rampreaksienetwerke, ook van ander geloofsgroepe soos Gift of the Givers, het Venter (links) tydens die vraag-en-antwoordsessie na Grobler (langs haar) se aanbieding gesê.

Volgens Grobler is by hierdie Junie-vergadering onder meer besef daar is heelwat mense met goeie bedoelinge wat wil help, maar in praktyk kom die regte hulp nie altyd by die mense uit wat dit nodig het nie. Hy het as voorbeeld voorgehou ’n welmenende Christen-sakeman wat tydens die KZN-onluste met sy helikopter iewers in Empangeni ’n klomp aartappels laat aflewer het waar daar nie inderwaarheid ’n kosnood was nie. Al die aartappels het gevrot … dié oneffektiewe maar welmenende manier van doen is nie wat God op sy hart het nie, het hy gesê.

Grobler het gesê daar is dele soos die Wes-Kaap, dele van Tshwane en KZN wat goeie rampreaksienetwerke het, maar dit is nie oral in die land die geval nie. Daarom pleit hy namens RESPOND by almal in hierdie vergadering om by hierdie netwerk aan te sluit en met befondsing te ondersteun sodat die hele land gehelp kan word wanneer daar ’n krisis is.

Die uitkoms waarvoor gemik word is:

  • Die skep van ’n databasis met deelnemende kerke se bronne en netwerke vir wanneer ’n ramp gebeur.
  • Krisisbeheersisteem.
  • Toeganklike platform waarop rampgebiede vinnig en akkuraat aangedui kan word sodat hulpmiddels reg aangewend kan word.

Die netwerk sal ook wil saamwerk met bestaande rampreaksienetwerke, ook van ander geloofsgroepe soos Gift of the Givers, het Venter tydens die vraag-en-antwoordsessie na Grobler se aanbieding gesê. Sy het bygevoeg: “Die inisiatief gaan oor die konsolidering van die Christelike getuienis. Tot onlangs het Gift of the Givers redelik alleen sitplek gehad … ons wil (met RESPOND) wys ons is ook daar …”


‘Missionale Roeping gaan oor die wese van die kerk’ – Marinda van Niekerk

Die kerk se grootste uitdaging is om aktief deel te word van God se koninkryk en God se werksaamhede in die wêreld. God se koninkryk kry gestalte deur die handelinge van die kerk in die wêreld. In gewone taal beteken dit dat die Taakspan Missionale Roeping sinodes wil begelei om gemeentes te inspireer om in hulle eie konteks, God se liefde prakties uit te leef deur aksies soos evangelisasie, betrokkenheid by armoedeverligting, werkskepping, pastoraat, ekologie en publieke getuienis, om maar ’n paar te noem. Dit gaan oor prakties Christen wees: die hoe en die hoekom. Sinodale aksies moet waarde toevoeg vir gemeentes op grondvlak.
Die Taakspan Missionale Roeping wil die kerk help om haar roeping te verstaan binne ’n hedendaagse, komplekse en bloeiende wêreld. Ons wil op ’n relevante en strategiese wyse die kerk bedien met ’n plan hoe om kerk te wees in ’n snelveranderende Suider-Afrika. Ons poog om praktiese hulpmiddels in gemeentes se hande te sit soos byvoorbeeld die InPas-handleiding, Praktiese riglyne vir Evangelisasie en Riglyne hoe om nuwe geloofsgemeenskappe op te rig.
* Dr Marinda van Niekerk is die uitvoerende hoof van PEN. Hulle fokus veral op vroeëkinderontwikkeling, tieners en volwasse weerloses in en om Pretoria.

Sien ook hierdie video wat verduidelik hoe die verskillende NG Kerkbedieninge kerklike maatskaplike werk (KMDR), diakonale bedieninge (voorheen barmhartigheid) en die werkgroepe binne die Taakspan Missionale Roeping met mekaar saamwerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top