Sommige lidmate stap met teer en ’n stamper of twee om slaggate in die pad reg te maak. Ander saamstappers tel weer vullis op en bid vir elke huis soos hulle verbystap. Vir die NG Gemeente Riebeeckstad is “missionaal wees” deel van hulle DNS, hoor Kerkbode in dié aflewering van die Kerk wat werk-reeks. Heléne Meissenheimer doen verslag.
Soms maak hulle foute, vertel ds Christo Nel, die gemeenteleraar by dié voorstedelike gemeente in die Vrystaatse Goudveld. Maar, hulle kry ook iets reg. Want mense van buite die kerk “sien raak” en wil ondersteuning bied. Só kon die gemeente byvoorbeeld danksy hulle gemeenskap se ondersteuning in die laaste twee jaar meer as 200 gesinne bystaan wat oor die Kerstyd swaarkry.
Lees ook: Kerk wat werk-reeks | KnysnaKerk ‘Die Here bring die nasies na ons toe’
Moraal is laag, maar …
Slaggate en wisselvallige watervoorsiening is twee probleme wat ook dié dorp ry. Dele van die dorp was glo al vir tot 22 weke sonder water. Kragonderbrekings. Armoede neem toe. In kort, som Christo op, die “moraal is laag”. Volgens hom is die uitdaging juis dan om nie te vra “Wat de hel gaan aan?” nie, maar eerder “Waarmee is God besig?”



Dit is dié einste vraag wat die gemeente keer op keer kies om te vra, vertel Christo. Die omgewing het sedert die gemeente se ontstaan (in 1977) radikaal verander. Van hoofsaaklik wit Afrikaanse inwoners wat in die mynbedryf staan na ’n kultureel diverse gemeenskap waarvan sowat 60% Sothosprekend is. In hierdie voorstad, vernoem na Jan van Riebeeck, woon nou meestal onderwysers, polisielede en staatdienswerkers. Daar is ook baie pensioenarisse.
Die gemeente het gesien dat hulle lidmaatgetalle drasties minder word. Tans het hulle sowat 500 lidmate. Die samestelling het ook verander na meer ouer lidmate en minder gesinne. Dit wys onder meer in die kategesebediening wat gekrimp het vanaf 600 kinders in die middel-90’s na sowat 80. Multikulturele dienste is glo ’n uitdaging, maar Sondagaande se tienerdienste word bygewoon deur jongmense vanuit die hele gemeenskap.
Hulle het wel ’n gesonde kerngroep wat baie betrokke is, vertel Christo. Dit is ook bemoedigend vir hom dat hulle gemeente ’n “gesonde en aktiewe” gebedsbediening het. “Ons glo dat niks kan gebeur of verander as ons nie ernstig tyd en effort insit in gebed nie.”
Tragedie eis lewens
Christo en sy onderwyservrou, Hannetjie, was aan die begin van die jaar geestelike kampleiers by die plaaslike hoërskool se graad 8-kamp waarna ses meisies dood en etlike beseer is in ’n tragiese busongeluk. Die gebeure het Christo stukkend gehad, het hy vir Kerkbode vertel. Luister meer in die podsending hieronder.
Respons: hou aan probeer en probeer weer
Ná die Covid-pandemie moes hulle die gemeente van vooraf opbou, vertel Christo wat in Mei vanjaar reeds 17 jaar gemeentelaar is by Riebeeckstad. Geleidelik het mense vanuit die gemeente gekom met projekidees. Sommige het mooi gewerk, ander minder so.

Die gemeente het twee goed geleer: om nie planne in pen op te skryf nie – dit vee te moeilik uit, en ook, om nie te gou moed op te gee nie. As iets nie werk op een manier nie, kyk hulle om ’n ander plan te maak.
Lees ook: Kerk wat werk: NG Gemeente Tygerpoort in Pretoria skep werk vir 50 mense
Wat vir hom mooi is, is dat al meer mense uit hulle gemeente en ook die breër gemeenskap betrokke raak. Ook dat verskillende mense leiding neem.
So stap die kategeseskool se kinders een maal per jaar saam met grootmense deur die strate en plant by elke huis ’n gebedsvlaggie na hulle saam gebid het. Ander mense deel weer vetplantjies met bemoedigende boodskappies op uit by besighede. Ander weet weer hoe om slaggate reg te maak.
Leer by ander gemeente
In 2022 het iemand op YouTube ’n video raakgesien van ’n “Straatkafee”-projek waarmee die NG gemeente op Tzaneen (sien onder) behoeftige mense in hulle gemeenskap gehelp het. Christo vertel hulle het kontak gemaak met hierdie gemeente uit Oostelike Sinode, raad gevra en aan die werk gespring om voor Kersfees hulle eie een te hou.
Dit het behels die opstel van verskillende punte in ’n saal met alles van nie-bederfbare kos, toiletware, vars groente en klere. Daar was ook ’n gesondheidstasie met verpleegpersoneel wat bloeddruk meet en suikertoetse doen asook mense wat hare sny, naels verf en voete pamperlang. Sowat 100 gesinne uit die hele omgewing, nie net uit Riebeeckstad nie, is gehelp. Hulle het “ongelooflik baie hulp en ondersteuning uit die gemeenskap gekry,” het Christo gesê. Verlede Desember kon hulle 123 gesinne help.
Nog projekte sluit in uitreike na die polisie, hospitale en petroljoggies by sowat 26 petrolstasies. Hulle fokus is veral op die bou van verhoudings. “Nie dat ons al perfekte verhoudings het nie, maar so het dit al gebeur dat swart en wit bure mekaar help in tye sonder water en selfs waar daar kwaai buurmanskap was, dit herstel is en kon mense mekaar beter leer ken,” skryf hy.
Christo sê wat vir hulle belangrik is, is dat elkeen ’n roeping het om missionaal te wees. “Om missionaal te wees gaan nie oor ’n gemeente met ’n uitreikkommissie nie. Missionaal is ’n DNS- en kultuurskuif,” verduidelik hy. Hulle gemeente se roeping ‘Wees lig in die duisternis’ moet wys in alles wat hulle doen, van tee skink tot die regmaak van paaie.
So ’n kultuurskuif gebeur nie sonder teenstand nie. Maar al sal almal nie “inkoop” nie, sê hy die kerk se roeping kom eerste, “om Jesus se hande, voete, hart, mond en ore in hierdie wêreld te wees”.
By navraag oor wat hulle geleer het wat vir ander gemeentes ook kan help, noem hy sewe punte:
- Voor julle op projekte besluit, luister eers na wat God vir julle sê en gaan sit en luister mooi na die mense in jou gemeenskap. Soos hy dit stel, “moenie probeer om ander kerke se planne ’n bloudruk vir jou gemeente te maak nie.”
- Maak missionaal deel van julle DNS en kultuur. Oppas vir ’n ‘kommissie’.
- Werk met wat jy het. Dit hoef nie baie geld te kos nie.
- Droom groot maar begin klein en eenvoudig.
- Moenie bang wees vir foute maak nie.
- Bid! Bid! Bid!
- Aan die dominee: Kyk mooi na die gemeente. Rus hulle toe, versorg waar nodig en hê hulle lief. Gesonde gemeentes kan ’n gemeenskap gesond maak en verander.
Die NG Gemeente Riebeeckstad is een van vyf wat die NG Kerk se Algemene Taakspan Navorsing onlangs in ’n verslag uitgelig het as ’n plek waar “samewerking, inklusiwiteit, plaaslike betrokkenheid, roepingsbewustheid en diensbaarheid sigbaar is”, het dr Mias van Jaarsveld in 2023 geskryf vir Kerkbode. (Lees meer: Brixton: As mens sukses sou meet aan getalle en geld, sou jy dink dié gemeente is onsuksesvol. En tog …)
- Die artikel vorm deel van ’n reeks, Kerk wat werk. In hierdie reeks wil Kerkbode stories vertel van gemeentes met ’n grensverskuiwende gemeenteprojek wat hulle help om op voetsoolvlak ’n nood in hulle gemeenskap aan te spreek. Het jou gemeente so ’n storie om te vertel – of julle groot of klein is, platteland, voorstedelik of stad, ons hoor graag van jou. Kontak ons by kerkbode@tydskrifte.co.za