“Hier was ’n seun by ons wat ’n straatkind was. Ek het hom leer swem en later het hy saam met ons begin skubaduik. Vandag het hy sy eie swemskool in Mamelodi. Nou die dag laat weet hy my hy is verloof. Stories soos dié inspireer my, en daar is baie,” sê die hoof van Jakaranda– en Louis Botha-kinderhuise in Pretoria.
Vervelig is die laaste woord om dié vrou se lewe te beskryf, dink ek. Ons drink koffie in haar kantoor in Pretoria. Jy sien die opwinding in haar oë en hoor die passie in haar stem. Veral wanneer sy oor die kinders wat oor haar pad kom praat.
“Ek woon al tien jaar hier op Louis Botha se terrein,” sê Charlene Grobler. “Dit was al ’n uitdaging met tye! Maar dit het my ook baie gehelp met perspektief en insig en ek geniet my werk ongelooflik baie. Ek dink ’n mens verstaan iets beter as jy dit aan jou eie lyf voel.”
Jakaranda huisves 200 kinders in 20 huise; Louis Botha 90 kinders in nege huise. Hulle het 10 maatskaplike werkers en ’n groot klomp ander personeel.
“’n Skoolhoof het een keer vir my gesê, moeilikheid is jou besigheid, Charlene! My groot werk is om mense te bestuur en te ontwikkel en die regte sisteme in plek te stel.”
Beste plan B vir kinders
“Hoe lyk jou tipiese dag?” vra ek.
“My tipiese dag is redelik nag!” lag sy. “Deur die dag is dit basiese bestuurswerk. Na-ure doen ek admin of praat graag by plekke om ondersteuning te werf. Dit is vir my baie belangrik om te netwerk.”
Sy sê sy vertel graag suksesstories, maar ook van die stories waar dinge nie so goed uitgewerk het nie. “’n Mens moet eerlik wees. Ook oor mislukking en teleurstelling. Dit moet eintlik nie nodig wees vir kinderhuise om te bestaan nie. Geen kind wil in ’n kinderhuis bly nie. Ons wil die beste plan B vir die kinders wees.”
Ek is ’n buitemens
Charlene het in Amanzimtoti grootgeword. Op ’n dag in graad tien het sy vir haar ouers gesê sy wil ’n maatskaplike werker word. Hulle was verbaas en het haar gestuur vir aanlegtoetse, maar sy het geweet wat sy wil doen. Na skool gaan studeer sy by UP. Kort na haar studies begin sy as maatskaplike werker by Jakaranda-kinderhuis.
Dit is 18 jaar gelede.
“Aanvanklik was ek aangestel oor vyf huise by Jakaranda. Later het ek oorgekom na Louis Botha as ontwikkelingsmaatskaplikewerker. Dit was die lekkerste pos. Ek het kinders gevat op kampe, individuele ontwikkelingsprogramme uitgewerk, groepsaktiwiteite gereël en aangebied. En alles saam met die kinders gedoen, kitaar gespeel, om die blok gehardloop, booggeskiet … allerhande goed. Dit was wonderlik. Ek is ’n buitemens en kon baie meer regkry as wanneer jy net met ’n tiener oor ’n tafel sit.”
Kinderhuise soek mense wat by die kinders betrokke raak
Ons gesels oor haar geestelike pad.
Haar broer Zander van der Westhuizen het ’n groot impak op haar lewe gehad en het steeds. Sy vertel hoe sy destyds saam met hom betrokke was by uitreike op die hawe in Durban. Zander is vandag predikant by NG Gemeente Tygerpoort – die gemeente wat Charlene as haar geestelike tuiste sien. Zander se vrou, Maartje, is predikant by NG Kerk Elarduspark.
Beide kinderhuise is destyds deur die NG Kerk begin en funksioneer steeds onder die SKDBM. Charlene sê sy is dankbaar vir die kerk en veral gemeentes en gemeentelede se betrokkenheid by die huise. Maar sy voel die kerk kan meer doen. Minder as 10% van die kinderhuise se finansiële ondersteuning kom byvoorbeeld van die NG Kerk. Alles via gemeentes – nie sinodes nie – en hulle is toenemend onder druk van die staat se laat betalings. Die staat se bydrae het met 20% gedaal in die tyd wat sy daar is.
Deur die jare kon sy ’n merkbare positiewe verskil sien by huise in die Kinderhuis waar gemeentes betrokke is.
Luister ook: Jaco Strydom gesels met ds Scherlize van der Merwe van Ysterplaat
Sy sê mense dink gewoonlik dadelik aan geld wanneer sy oor ondersteuning by gemeentes praat, maar hulle benodig nie net finansies nie. “Ons soek mentors, gasouers, mense wat kan help met huiswerk, vaardighede, tyd … mense wat nuwe verhoudings kan bou met die kinders wat so dikwels al teleurgestel is deur grootmense.”
Dinge het merkbaar vererger in die behoeftes rondom kindersorg in Suid-Afrika in die agttien jaar wat sy betrokke is. Sy sê hulle sien byvoorbeeld aansienlik meer psigiatriese gevalle vandag, en waar kinders destyds deur een – of dalk twee – erge traumas gegaan het, is die kinders wat vandag by hulle geplaas word dikwels deur heelwat meer. En om die kroon te span, maak die staatsdepartemente dit al moeiliker om weerlose kinders te help.
Haar geloof gee haar hoop
Wat doen sy om haar batterye te herlaai?
Sy is lief vir die natuur en veral die see en is ’n kranige skubaduiker. Hulle neem jaarliks kinders van Jakaranda en Louis Botha “om die see die eerste keer te sien, van binne af!”
Wat weet min mense van Charlene Grobler?
“Nogals baie dinge, dink ek, eintlik is ek ’n baie privaat mens. Ek kan byvoorbeeld baie goed ysskaats. Ek dink bitter min mense weet dit van my! En ek het drama gedoen en het ’n groot passie daarvoor. En ek het al baie gereis en byvoorbeeld op ’n eiland saam met die locals geleef. As jy nie visvang nie eet jy nie! Ek het besef hoe dankbaar ons eintlik moet wees – en hoe min ’n mens eintlik nodig het.”
’n Mens kry die idee haar werk by die kinderhuis is ook ’n avontuur. En soos die meeste avonture is dit vol risiko en uitdagings en is daar gedurig nuwe ontdekkings om te maak.
Wanneer dinge rof raak, gee haar geloof haar hoop. “Maar ek sê altyd dit moenie nodig wees vir mense om te vra of jy ’n Christen is nie. ’n Mens moet dit kan sien.”
Terwyl ons gesels dink ek aan die verbaasde engel se woorde in Leo Tolstoy se kortverhaal What men live by: “And when the woman showed her love for the children that were not her own, and wept over them, I saw in her the living God, and understood What men live by.”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugontwikkelings en die NG Gemeente Villieria.