“Toe dink ek, ja, die saal word nou gebruik en die verhoog is lankal ingerig in kamers waar van ons mense bly. Wat kan ons nog gebruik? Ons stoor is nou klaar die kantoor, die ander kantoor is al die maatskaplike werker se plek, Hendrico bly reeds backstage in een van daai ou aantrekkamers, die gat onder die verhoog is die huiswerkkamer en die ou moederskamer is die crèche … Wat is daar nog? Toe dink ek, wel, daar is ’n oop stuk teer agter die kerk, en dít word nog nie gebruik nie. So, toe kry ons containers en omskep hulle in ’n koshuis vir baie van ons kids wat sukkel by hulle huis …”
Scherlize van der Merwe is die dominee by Ysterplaat-gemeente. Sy vertel van haar groot skok toe sy destyds by die gemeente aangekom het.
“Destyds toe ek in 2018 begin het, was daai kerk se deure die meeste van die tyd gesluit. Dit het regtig net Sondae-oggende tussen 09:30 en 10:30 oopgemaak. Dit het my verskriklik gefrustreer – ek dink dit is nie so uniek aan Ysterplaat nie, daar is seker nog sulke kerke, maar ek kon dit eenvoudig nie glo nie. Ek kon nie glo, so ’n groot gebou, met só baie nood rondom, staan heel week toe nie.”
Vandag word amper elke spasie van die gemeente se eiendom gebruik.
Scherlize is saam met Niel Steyn een van die stigters van Isibindi, ’n organisasie wat hoop bring aan jongmense in nood in die Kaap. Behalwe vir die Ysterplaat-gemeenskap het Isibindi ook projekte in NG Table View se kerksaal en huise in die Paarl en op Stellenbosch waar mense van uiteenlopende kulture en agtergronde saamwoon en weekliks saam eet, asook ’n projek by die skole op Calitzdorp. Isibindi beteken “dapper”.
Ysterplaat is ’n diverse gemeenskap met baie nood. Hulle fokus veral op die kinders, maar Scherlize sê hulle doen ook steeds die gewone kerkgoed; hou byvoorbeeld steeds eredienste op Sondae en so aan.
“Daar is steeds Sondae ’n oggenddiens in Afrikaans. Ons het nie ’n orrelis of musikante nie, ons speel sommer YouTube-liedjies. En dis lekker, almal kuier saam en ons het altyd broodjies na kerk en lekker tee. Dit is so ’n amazing community om van deel te wees,” sê sy.
Op Donderdae is daar ’n Engelse erediens veral gefokus op die straatgemeenskap en na kerk eet hulle saam.
Sy sê dit is altyd moeilik om die sinode te antwoord oor hoeveel lidmate hulle is. Die meeste van haar mense is lidmate sonder lidmaatsertifikate.
Scherlize het grootgeword op Swellendam. As kind was sy baie betrokke by Christenaksies en het graag op kerkkampe gegaan. Twee uitreike het haar lewe verander, een in Indië en een in die Kaap. Sy was diep geraak toe sy sien hoe mense hulle lewe gegee het vir kinders in nood. In matriek het sy besluit om ’n dominee te word.
Op Stellenbosch, waar sy teologie gestudeer het, het sy onder andere vir ’n tyd lank saam met jongmense in nood in ’n huis gewoon. Dit was een van die groot draaipunte in haar lewe.
Ysterplaat-gemeente kry vandag dinge reg waarvan ander gemeentes – dikwels in veiliger en meer welaf woonbuurte met minder nood, meer lidmate en hulpbronne en eiendom – net kan droom. Wat is haar geheim?
“Mense vra my altyd: Scherlize, hoe het jy dit reggekry om hierdie mense te oortuig, hoe het jy dit reggekry om containers op die kerkterrein te renovate, en te sê ja, julle mag maar kinders daar laat bly? Ek het geen idee nie! Die mense hier is net amazing en hulle het ongelooflike harte vir die koninkryk. Jô, ek hoor darem maar lelike stories van kerkrade en ek is so dankbaar vir daai kerkraad van ons en hulle hart om die gemeenskap te dien.”
Scherlize sê dit het destyds baie gehelp dat die kerk naby was aan toemaak, toe sy daar aangekom het. Hulle moes eenvoudig anders dink. Die ander opsie was om die kerk se deure te sluit.
Amper daagliks word sy gekonfronteer met die hartseer van armoede, dwelmmisbruik en geweld, maar terwyl ons gesels vertel sy ook keer op keer van die mooi dinge en die groot lewenslesse wat sy in Ysterplaat geleer het.
Daar is ’n groot bord in die saal wat sê: WE ARE FAMILY. Op ’n dag, toe sy besig was in die kombuis, vra ’n dogtertjie in graad een vir haar: “Miss Scherlize, are you and uncle Hendrico brother and sister?”
Hendrico Ockhuys is een van die mede-leiers by Isibindi. “Ek was besig met ’n klomp goed en sê toe: ‘Nee man. Kan jy nie sien nie? Jy ken mos vir Hendrico, hy is bruin en kom van Kliprant en hier sit ek met my blonde hare. Enigiemand kan mos sien ons is nie familie nie.’”
Toe sê die dogtertjie: “But then you were lying! You said we are all family.”
“Dit was asof ek teruggeruk is en besef: Jis, Scherlize, jy het nou die verkeerde antwoord gegee. Jy en Hendrico is rêrig broer en suster!”
Sy sê sy wens elke mens kan die voorreg hê om die dinge te beleef wat sy in ’n gemeenskap soos Ysterplaat beleef, en verhoudings te bou met die wonderlike mense wat sy elke dag raakloop.
Hoe voel Scherlize van der Merwe oor die toekoms van die kerk in Suid-Afrika?
“Mense wat ons besoek sê baie keer hulle wil ook hierdie tipe dinge doen, maar dan bel hulle maande later en sê, nee dit werk nie, die kinders het nou weer ’n ruit uitgegooi of iets. Dan dink ek: Dit sal werk as jy dit wil maak werk! Maar ek het hoop. Ek glo kerke kan ’n massiewe verskil in die gemeenskap maak, as hulle net bereid is om dit ’n bietjie buite hulle gemaksones te waag en die dapperheid in hulle aanvuur en dinge probeer doen wat die meeste mense sê onmoontlik is. Die dinge wat ons Jesus keer op keer hoor sê ons moet doen.”
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.