Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Foto's: Hendrien van Vliet

Oostelike Sinode: Leraarsversorging, ekologie en kerkverband onder die loep by Modimolle


 

  • Sowat 158 afgevaardigdes kom byeen by Weesgerus op Modimolle
  • Die tema: Biddend, saam op pad!
  • Verslae oor ekologie, leraarsversorging asook verband met die Algemene Sinode sal bespreek word

 

Die vergadering op Maandag 7 Oktober is geopen deur dr Tertius Erasmus, voorsitter van die Sinodale Diensraad, wat gelees het uit Psalm 136. Die sinodegangers, wat rondom tafels sit vir die duur van die sitting, is genooi om die psalm hulle eie te maak, en een aspek uit hulle lewe te noem waarvoor hulle dankbaar is en kon een van hierdie aspekte deel met die groter vergadering. (Sien die psalm hieronder).

Dr Johan Botha (links) is verwelkom as die nuwe uitvoerende direkteur van die sinode met ’n boodskap van die uittredende direkteur, ds Francois Retief.

Dr Johan Botha en sy vrou Marina is verwelkom as die nuwe uitvoerende direkteur van die sinode met ’n boodskap van die uittredende direkteur, ds Francois Retief. Sy hoop is dat Botha die liefde van God en die waardes van die Oostelike sinode sal uitleef in hierdie nuwe fase van sy bediening. Later is afgevaardigdes gelei deur ds Maartje van der Westhuizen om die ys te help breek deur almal rondom die tafels uit te nooi om mekaar te leer ken deur gebruik te maak van gesprekskaarte. Van kapelaan, tot boer tot gemeentebestuurder, hier is mense van ’n wye verskeidenheid ouderdomme, agtergronde en kontekste teenwoordig, en almal het entoesiasties deelgeneem aan dié aktiwiteit by hierdie sinode wat tot 10 Oktober duur.

Die sinode se metafoor van familiewees is duidelik sigbaar in die manier waarop die sinode geopen is en hoe die afgevaardigdes met mekaar omgaan. ’n Warm, verwelkomende atmosfeer word sover beleef.


* ’n Psalm deur die afgevaardigdes van die Oostelike Sinode – verwerk deur Hendrien van Vliet

Loof die Heer, want Hy is goed.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Ons dank Hom dat ons kan leef in 2024, en hier en nou ’n verskil kan maak.

Ons dank Hom dat Hy ons ’n verloste lewe gee, gevul met onverdiende genade.

Ons dank Hom vir sy teenwoordigheid, en vir sy radikale toegewydheid aan die mens.

 

Loof die Heer, want Hy is goed.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Hy is God vandag, het Homself gister bewys, en sal môre daar wees.

Hy is God, en tog deel Hy in ons menslikheid.

Hy voorsien in ons behoeftes en sorg vir ons en ons families en gee ons sy veilige bewaring.

 

Loof die Heer, want Hy is goed.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Ons dank Hom dat ons in genadige geloof verbonde is aan mekaar.

Ons dank Hom vir genade onbeskryflik groot vir die genesing wat net Hy kan bring.

Ons dank Hom dat ons kan sien wat Hy in ons en deur ons doen.

 

Loof die Heer, want Hy is goed.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

God se genade is elke dag nuut en ons hoef nie “baggage” saam te sleep nie.

Hy ontmoet ons waar ons is.

Mag ons in sy oorwinning aanhou leef.

 

Loof die Heer, want Hy is goed.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

 

  • Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Gemeente Kempton-Hoogland.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top