Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Jaco Strydom gesels met Ben en Elise Klut, op berge en in stede …


Hulle het mekaar in die hart van Hillbrow ontmoet. Vandag kerk die twee tussen die berge.

Die gemeente waarvan hulle deel is, is in Winterton in mooie Noord-Natal, aan die voet van die Drakensberg.

“Ons het begin dink dis dalk tyd vir ’n skuif. Toe op ’n dag besluit ons, ons gaan net een CV opstel en sê: Ons is ’n package deal, so of julle vat ons altwee of nie een van ons nie! So, toe het hierdie gemeente een dominee-pos in twee gedeel sodat ons elkeen nou ’n halwe pos het.”

“Teoreties,” lag Ben.

“Ja, teoreties,” sê Elise, “maar dit beteken darem ons mag ander goed ook doen om ons inkomste aan te vul. En dis lekker. Niemand is niemand se baas nie, en ons werk saam.”

Ben vertel hy het grootgeword in ’n slaghuis. Dié dat hulle nou behalwe vir die gemeentewerk, ook maandeliks vleis verwerk en dit verkoop in die stad. Die laaste tyd maak hulle ook spesiale “pasta-disse” wat mense kan bestel.

Die feit dat hulle meer as een werk het, is nie vreemd vir die mense van Winterton nie, sê hulle. Baie van die mense daar beoefen meer as een beroep.

“Die kosmaak en vleisverwerk het op ’n manier ook ’n tipe bediening geword,” sê Elise. Foto: Winterton NG Kerk Facebook

“Die kosmaak en vleisverwerk het op ’n manier ook ’n tipe bediening geword,” sê Elise en vertel van die interessante interaksies met mense wat deesdae al meer só op hulle pad kom.

Dit was in Melville-Kruisgemeente waar hulle destyds vleis op die kantlyn begin verwerk het. Voor Winterton, was die twee jare lank daar saam studenteleraars.

“Ons is van daai gelukkige mense. Sommige mans en vrouens moet liefs nooit saamwerk nie, maar ons kan maar!” sê Ben.

Hy het grootgeword in Alberton in Gauteng en Elise in Sannieshof in Noordwes. Elise sê sy het in graad 7 al geweet sy wil ’n predikant word.

Sy was ’n jong dominee by MES in Hillbrow, toe Ben haar destyds daar ontmoet het. Hy was pas klaar met diensplig en het vir ’n jaar in sy pa se slaghuis gewerk. Toe gebeur ’n paar vreemde dinge en ervaar hy ’n tipe roeping, en so raak hy toe betrokke by MES wat uitreik na mense in nood in die middestad van Johannesburg.

Vir ’n ruk lank het hulle bloot saamgewerk, but one thing led to another en hulle raak verlief. En nie lank daarna nie, trou die twee. En nie lank dáárna nie, was daar drie kinders …

Hulle vertel van rowwe, maar opwindende tye in die stad.

Ben het intussen teologie begin swot en hulle het onder andere in Yeoville, reg langs Hillbrow gewoon. “Vir ses jaar met drie kinders, op ’n sendelingsalaris!” sê Elise.

Ons gesels oor hulle nuwe lewe op Winterton.

Dit is ’n wonderlike boeregemeenskap maar daar is deurlopend ook ’n element van toerisme omdat dit aan die voete van die sentrale Drakensberge geleë is.

Lees ook: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Kerk bewustelik op weg …

Elise sê dit het ’n tyd geneem vir die plattelandse mense om te besef sy is nie net die dominee se vrou nie. “Maar ek geniet die leefstyl. Dis besig, maar daar is ’n rus in ’n mens se siel wat jy nie verstaan voordat jy dit eers ervaar het nie. En die mense gesels! Ons dorpie is klein, maar omdat dit ook ’n toeristedorp is, is hier heeltyd iets aan die gebeur – bergfietswedrenne, trailruns, stapekspedisies en nog meer. En die gemeenskap gee vir mekaar om. Almal ondersteun mekaar se inisiatiewe,” sê sy.

Hulle vertel hoe goed die verskillende gemeentes in die Winterton-omgewing saamwerk, ook oor kerkgrense heen. Elke nou en dan is daar ’n gesamentlike ekumeniese erediens op die dorp waarvan hulle deel is.

“Die gemeente het die pos destyds geadverteer en gesê hulle soek ’n dominee wat nie net uitreik na die gemeente nie, maar ook na die gemeenskap,” sê Ben en vertel van die betrokkenheid van die gemeente en die groot klem wat daar geplaas word op gasvryheid en om almal in te nooi.

Op Winterton kry hulle die kans om ’n klomp van die vaardighede wat hulle deur die jare opgedoen het op nuwe maniere uit te leef.

Selfsugtigheid te midde van grootskaalse armoede en ’n klomp ander goed in Suid-Afrika pla hulle ook. Maar hulle sien baie dinge in die land raak wat hulle hoop gee.

“Ons bly in hierdie beeldskone land, ons het so ’n mengelmoes van mense en kulture, ’n ryk erfenis van sorg en omgee en geloof! Dit is mooi om te sien mense hou vas aan die Here en inspireer mekaar om dit ook te doen,” sê Eilse.

Wat doen hulle vir ontspanning?

Stap in die berge! Hulle is deel van ’n stapklub wat Saterdae allerhande interessante plekke in hulle vallei verken. “En ons is mal oor kamp. Stormsrivier is ons jaarlikse Vitamiene See wat ons inkry en as daar ’n halwe kans is, is ons by Tzendse in die Krugerwildtuin. Ons sal graag meer wil oorsee reis, maar dit sal kom …”

Wanneer hulle oor hulle geloof praat raak hulle passievol.

“Saam met Hom maak die lewe sin. Saam met Hom is daar hoop en ’n môre. In sy hande is ek veilig – selfs al kom daar storms,” sê Elise.

“As ek werklik wil lewe en die voluit daarvan beleef, is die enigste manier om dit vanuit my verhouding met Jesus te doen, anders jaag ek maar net my eie stert,” sê Ben. “Ek wil nie té ver vorentoe kyk nie – dalk nog ’n bergpiek of twee wat ons kan uitklim, en ons sal so wil leef en werk dat mense die Here se lig sien skyn oor hulle lewe.”

 

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top