Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

'Om vir iemand met demensie te sorg of om meer te leer oor die toestand, is dit belangrik om kennis op te doen. Dit help jou om hulle beter te ondersteun in hulle reis deur ’n nuwe wêreld,' sê Christelle Klopper. Foto ter illustrasie: Verskaf

Badisa | Wenke om iemand met demensie te ondersteun


Demensie is ’n term wat verskeie siektes soos Alzheimer’s en Parkinson’s insluit, en beïnvloed ’n persoon se geheue, taal en probleemoplossingsvermoë negatief. Dit maak dit moeilik vir die persoon wat met demensie leef, sowel as vir hul geliefdes. Christelle Klopper, koördineerder van Bejaarde- en Gestremdheidsorgdienste by Badisa, deel praktiese wenke.

Klopper beklemtoon: “Om vir iemand met demensie te sorg of om meer te leer oor die toestand, is dit belangrik om kennis op te doen. Dit help jou om hulle beter te ondersteun in hulle reis deur ’n nuwe wêreld.”

Wat is demensie?

Dementia is ’n groep simptome wat ʼn negatiewe impak het op geheue, taal, probleemoplossing, denkvermoë, aandag en logiese denke.

Dementia is die sambreel vir ’n hele paar siekte toestande naamlik Alzheimer’s, Vaskulêre demensie, Parkinson’s, Lewy ‘body’ dementia en Wernicke-Korsakoff-sindroom (alkohol demensie) om net ’n paar te noem.

Vroeë tekens van demensie

Laat jou geliefde hul dokter besoek as jy die volgende vroeë tekens en simptome vermoed:

  • Geheueverlies: die persoon sukkel om onlangse gebeure te onthou en misplaas gereeld dinge soos sleutels.
  • Algemene verwardheid en probleme met beplanning en besluitneming.
  • Kommunikasieprobleme: die persoon sukkel om die regte woorde te vind om hulself uit te druik en gesprekke te volg.
  • Disoriëntasie: die persoon verdwaal maklik, selfs in bekende plekke.
  • Probleme met sig: die persoon vind dit moeilik om afstande te skat en wat gesien word, te verstaan.
  • Emosionele veranderinge: die persoon toon tekens van angs, depressie en onttrek van sosiale aktiwiteite.

Verwagte uitdagings vir mense met demensie

Mense wat met demensie leef, kan verskeie uitdagings ervaar, insluitend taalprobleme, wat dit veral moeilik maak om in ’n tweede taal te kommunikeer. Verder kan chroniese toestande soos gehoor- of spraakprobleme kommunikasie verder bemoeilik, wat ekstra ondersteuning en begrip van hul geliefdes vereis.

Kommunikasie met iemand wat demensie het

Kommunikasie raak moeiliker soos demensie vererger. Hier is wenke om kommunikasie te verbeter:

  • Wees geduldig: gebruik kort sinne en eenvoudige taal. Gee tyd vir antwoorde.
  • Gebruik nie-verbale leidrade: maak oogkontak en gebruik sagte aanraking.
  • Vermy regstelling: moenie stry oor besonderhede soos dag en datums nie. Fokus op ’n kalm, gerusstellende stemtoon.
  • Moedig gesprekke aan: gesels oor bekende herinneringe en luister met empatie.
  • Skep ’n rustige omgewing: vermy oor stimulerende omgewings, verminder afleidings en hou die atmosfeer ontspanne.

Aktiwiteite vir mense met demensie

Daaglikse aktiwiteite kan die welstand van iemand met demensie verbeter. Fokus op wat hulle kan doen, soos:

  • Speel musiek vir dans of ligte oefening.
  • Doen eenvoudige take soos die vou van handdoeke kouse.
  • Stimuleer die sintuie met speserye soos anys of teksture soos fluweel waaraan hulle kan ruik en vroetel soos byvoorbeeld vroetellappies..
  • Speel met strandballe/balonne of blaas borrels vir veilige plesier.
  • Doen eenvoudige handwerk.
  • Loop saam met geliefde buite vir vars lug en sonlig.

* Christelle Klopper is die koördineerder van Bejaarde- en Gestremdheidsorgdienste by Badisa, Besoek www.badisa.org.za om meer uit te vind oor hul dienste.


Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.