Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

By die 80 mense uit diverse velde was van 23-25 Oktober by die Caribuntu Social Innovation-konferensie op Wellington om innoverende en kreatiewe idees te deel vir komplekse probleme. Foto's: Heléne Meissenheimer

‘Ons het gewerk met die gedagte wonderwerke is harde werk’


Wat het ’n 89-jarige wat truie vir arm skoolkinders brei, ’n gemeente op die Tuinroete se WhatsApp-veiling en ’n sonkraggedrewe ontsoutingsaanleg op Witsand met mekaar gemeen?

Een antwoord sou kon wees dat hierdie almal stories is wat gehoor is tydens die Caribuntu Social Innovation-konferensie wat Vrydag 25 Oktober afgesluit het. By die 80 mense uit diverse velde ingesluit die akademie, plaaslike regering, kerk en NRO-omgewing was hiervoor vir drie dae saam by die Andrew Murray Centre for Spirituality op Wellington.

Verdere leidrade sou wees dat hierdie stories iets wys van wat kan gebeur wanneer gewone mense glo en leef dat hulle iets kan doen rondom die uitdagings wat hulle ervaar in hulle organisasies, kerke of gemeenskappe.

So byvoorbeeld was die klein gemeente van NG Kerk Albertinia halfpad deur die Covid-pandemie diep in die moeilikheid weens ’n tekort aan inkomste. Hulle nuwe manier om broodnodige fondse in te bring was om ’n WhatsApp-veiling te hou met enigiets wat mense skenk. Nie alleen het dit geslaag om duisende rande in te bring nie maar ook meer mense betrokke gekry by hierdie Suid-Kaapse gemeente. Hierdie is ook een van die stories vervat in die 2024 boek, Caribuntu social innovation in South Africa (Bestel die boek by CLF), waarvan prof Erwin Schwella die redakteur is. Vele van hierdie stories se mense was by hierdie konferensie. 

Vele van stories in die boek, Caribuntu social innovation in South Africa, waarvan prof Erwin Schwella die redakteur is, se mense was by hierdie konferensie.

Die woord “caribuntu” is Schwella, die stigter van die Skool vir Sosiale Innovasie by Hugenote Kollege, se nuutskepping. Dit is saamgestel uit twee terme, naamlik: caritas wat die Latynse woord vir liefde en omgee (compassion) is, en ubuntu, die Afrikafilosofie gerig op medemenslikheid teenoor ander. In sy boek verduidelik hy hierdie konsepte eggo Jesus se bekende ‘Golden Rule’ van Matteus 7:12: “Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle; want dit is die kern van die Wet en die Profete.”

Dr Frederick Marais, wat vanjaar oorgeneem het as hoof van die skool, by prof Erwin Schwella.

Dr Frederick Marais, wat vanjaar oorgeneem het as hoof van die skool, het Schwella Vrydag bedank vir sy inisiatief om hierdie skool te begin.

Prof Eugene Cloete, voormalige vise-kanselier van Stellenbosch Universiteit, was ’n gasspreker met ’n besielende aanbieding onder die tema, “Achieving the extraordinary with ordinary people”. Hy het ook die nuus gedeel dat hy in volgende jaar ’n nuwe aanlyn-akademie wil loods – een wat studente wat nie hulle studies kon voltooi nie ’n tweede kans vir ’n kwalifikasie wil gee. “Hou hierdie spasie dop!” het hy genooi.

In sy aanbieding het hy onder meer vertel hy glo ’n mens vind die meeste betekenis in jou lewe wanneer jy na buite gerig leef. “Jy moet betrokke wees by iets groter as jyself, maak nie saak hoe oud jy is nie,” het die bekroonde akademikus verduidelik en vertel van sy 89-jarige ma wat truie brei vir behoeftige kinders in die skool oorkant waar sy bly.

Prof Eugene Cloete, voormalige vise-kanselier van Stellenbosch Universiteit, was ’n gasspreker.

Volgens Schwella was die doel van hierdie konferensie om idees met mekaar te deel vir innoverende en kreatiewe maniere wat aan ons land se komplekse probleme aandag gee op ’n manier wat mense hoop gee. Soos hy dit by navraag verwoord het, “ons het gewerk met die gedagte wonderwerke is harde werk”.

Nog ’n welkome uitkoms, so is na afloop gehoor by van die konferensiegangers, was die geleentheid om netwerke te bou. ’n Whatsapp-groep, #integritas2024, is ondermeer begin om kontak te behou.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top