Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Eerw Mzwandile Molo, algemene sekretaris van die SA Raad van Kerke (SARK), by die afgelope week se vergadering van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen (ASM). Langs hom is dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk.

Mzwandile Molo: Samewerking is ’n geskenk, hoor ASM


Samewerking tussen verskillende kerke is ’n geskenk vir die Suid-Afrikaanse nasie, het eerw Mzwandile Molo, algemene sekretaris van die SA Raad van Kerke (SARK), Woensdagoggend gesê op die tweede dag van die vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) wat op 29-31 Oktober in Benoni luister na terugvoer van taakspanne en besin oor die NG Kerk se roeping.

Ds Jan Lubbe en ds Maartje van der Westhhuizen. Foto’s: Le Roux Schoeman

“It is a beautiful moment to reflect on what is our common witness in this country.” Ontvang (die boodskap) as ’n uitnodiging, het Molo die sowat 40 afgevaardigdes van al tien streeksinodes van die NG Kerk tydens sy gasrede versoek. Eenheid is nie ’n strategie nie, het hy verduidelik. Ons soek eenheid, want daar is ’n wanvoorstelling van wie God is, as ons nie saam is nie. Molo, ’n Metodis, het gesê Suid-Afrikaners het tot ’n mate die beeld verloor van hoe ons sáám lyk. Die mag om Suid-Afrika te verander lê nie in hoofkantore nie, dit is in die gewone gemeentes, aldus Molo. “Dis waar ons mense leef en waar ons ekumene moet vind in gedeelde aksie.”

Molo het aangehaal uit Johannes 17:21-22 en Galasiërs 3:28-29 om eenheid tussen Christengelowiges teologies te begrond.

Oor die visie van die SARK, het Molo stilgestaan by “ingrypings” waarvoor hierdie ekumeniese liggaam hom beywer:

  • Genesing en versoening
  • Ekonomiese transformasie
  • Om demokrasie te anker
  • Omvattende gehalte-onderwys
  • Ekologiese geregtigheid

Molo het die NG Kerk uitgenooi om saam te werk hieraan.

Afgevaardigdes by die ASM kom vir sowat 48 uur in Johannesburg-omgewing byeen om na terugvoer deur taakspanne te luister en tafelgesprekke te voer oor die roeping van die NG Kerk.
Jana Marx, joernalis, aan die woord by die NG Kerk-saamtrek.
Ds Jan Lubbe was gretig om ’n joernalistieke perspektief op die NG Kerk se beeld te probeer kry.

Nog gaste by die ASM-vergadering was twee onafhanklike joernaliste wat genooi is om ’n soort binneperspektief te gee oor hoe die NG Kerk se beeld in die nuusmedia in praktyk gevorm word. Jana Marx en Carla Lewis, wat ook betrokke is by leergeleenthede vir NG predikante rondom mediageletterdheid, het in ’n wydlopende bydrae lig gewerp op onder meer die oorwegingsprosesse vir die belangrike vraag: Wat is nuus? en aan ’n tafelgespreksessie deelgeneem. – Hou Kerkbode dop vir meer beriggewing. 

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top