Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Resensie | Die heiligheid van hier (Cas Wepener): Deur die oog van ’n deurleefde teoloog


Die heiligheid van hier deur Cas Wepener

Uitgewer: Bybelkor, 2024

Resensent: Rethie van Niekerk

Koop hierdie boek aanlyn: Beskikbaar by Bybel-Media

Google kon nie vir my sê of daar ’n Latynse “heilige lees”, byna soos die “Goddelike lees” van lectio divina is nie. Tog dink ek daar moet ’n oud-kerklike woord wees wat die lees-ervaring van ’n werk soos Die heiligheid van hier beskryf. Wepener slaag inderdaad daarin om die leser se oë oop te maak vir die “heiligheid van hier” – die oorgange, die gewone lewe, ook die rustige oomblikke waar ek in my leeskamer sit en lees.

Die heiligheid van hier is ’n versameling essays wat almal reeds elders in Afrikaanse koerante verskyn het. “Wat almal saambind,” sê die inleiding, “is die oortuiging dat daar baie meer te sê is oor die werklikheid waarin ons leef as wat die blote oog waarneem.”

Wepener neem waar met die oog van iemand wat die skoonheid van kuns, natuur en letter kan waardeer. Hy neem waar met die oog van ’n deurleefde teoloog, ’n wydbelese letterkundige en iemand wat gereeld besig is met waarheid en hoop spreek (om Brueggemann se beskrywing van die profeet se taak te leen).

Filosofie, antropologie, sosiologie en teologie word met fyn humor en ’n selfs fyner waarnemingsvermoë verweef. Die heiligheid van lewensritmes word subtiel onderstreep. Nie een enkele keer voel die leser asof daar vir haar gepreek word nie. Jy is ’n gespreksgenoot in ’n stylvolle sitkamer, rakke en rakke boeke teen die muur, ’n kaggelvuur wat warm knetter en ’n lekker glas rooiwyn in die hand, terwyl jy luister hoe Wepener dít wat jy netnou nog beleef het, vir jou belig met ’n mymering hier, ’n gedig daar, ’n teorie wat skielik lewend raak.

Wepener verwys na Barbara Brown Taylor se gedagtes oor seën, wat goedskiks net so gepas is vir hierdie boek: “Om iets te seën, is nie om heiligheid oor te dra nie … Om te seën is eerder om heiligheid wat reeds teenwoordig is te herken en te erken.”

 

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.