“Ons vier nie fees oor ’n vergadering nie. Ons vier fees oor die evangelie wat in hierdie land neerslag gevind het.”
Só het prof. Wim Dreyer gesê tydens die 200 jaar feesdiens wat hy op Sondag 3 November gelei het by die Nederduitsch Hervormde Kerk Pretoria-Oos. Sy diens om 16:00 het ’n uur begin na die Kaapse een gelei deur ds Jan Lubbe, die Bloemfonteinse leraar wat tans voorsitter is van die Algemene Sinodale Moderamen van die NG Kerk. Beide dienste is ook direk uitgesaai.
Hierdie feesdienste het deel gevorm van ’n feesweek gevul met boekbekendstellings en akademiese konferensies rondom die tema “Herdenk, hervorm, hoop”. Dit was ’n gesamentlike inisiatief van die NG Kerk se Algemene Sinode en die Nederduitsch Hervormde Kerk.
Die vergadering waarna Dreyer verwys het was die een gehou op 2 November 1824 – die datum van die eerste “Algemene Kerkvergadering” in Suid-Afrika. “Hierdeur het 14 gemeentes op tuisbodem die eerste treë begin gee na onafhanklikheid van die moederkerk in Nederland,” het Kerkbode vroeër vanjaar berig.
Voor Lubbe aan die woord gekom het, het ds Riaan de Villiers van Groote Kerk oor die herdenking van hierdie historiese gebeure opgemerk dit bied “’n hoek van refleksie 200 jaar terug sedert ’n spesifieke oomblik van eenheid … (na) wat dit beteken om kerk te wees hier, ’n Afrika-kerk, die bruid van Christus met ’n lang sleep.”
Dié refleksie sluit in die viering van die mooi sowel as om te bely dat die kerk foute gemaak het, is gehoor. Soos verwoord in ’n lamentgebed, wat ds Marietjie Steyn, ook van Groote Kerk, voorgelees het:
“Genadige God,
ons kyk terug oor 200 jaar en meer
en ons bely dat ons mense is wat foute gemaak het,
sommige sonder nadenke, ander terwyl ons presies geweet het wat ons mee besig was.
Ons bely dat die geskiedenis nie bloot in die verlede is nie,
maar dat ons dit elke dag met ons saamdra,
in elke ontmoeting, elke verhouding, elke gebroke familie, elke stukkie verwydering van mekaar en stukkie verdeeldheid wat ons steeds in die kerk en die land en in ons eie hart beleef…” (volledige lament kan in video gehoor word)
In beide dienste is verwysing gemaak na Handelinge 26:22-23, die teksvers van ’n Hervormingsondagboodskap 200 jaar gelede gebring deur ’n Stellenbosse leraar in dieselfde Groote Kerk. In die teks is Paulus aan die woord: “Omdat ek God se bystand tot op hierdie dag ervaar het, staan ek voor klein en groot, en getuig oor niks anders as wat die profete en Moses gesê het sal gebeur nie, naamlik dat die Christus moes ly, en die eerste uit die opstanding van die dooies moes wees, om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig.”
Dié woorde van Paulus, het Lubbe gesê is die Missio Dei. “Dit is wie hierdie kerkverband moet wees. Mag die Here ons môre, oor twee dae, oor twee jaar, oor 20 jaar, oor 200 jaar help gehoorsaam bly”.