Op ’n bewolkte Sondagoggend 10 November het meer as tweehonderd mense saamgekom op ’n kaai naby waar die Bergrivier uitmond in die see om vir God dankie te sê vir die jaar se visseisoen wat verby is, maar ook om as gemeenskap om ’n gesin te kom staan wat hartseer is.
Megan Fransman het hardop gehuil terwyl sy ’n blommekrans in die rivier se waters moes gooi vir haar man Jeffrey. Hy het in April vanjaar oorboord geval van ’n vistreiler en is nooit gevind nie. Om haar was hulle drie klein seunjies, sy tienerdogter en van hulle familie. Terwyl sy na die rivier gestap het, het die mense wat in hulle motors na die diens op 98FM gesit en luister het, hulle toeters gedruk. Na die tyd het was oral mense wat trane afdroog.
Kerkbode en DJ Muller van Kaapkerk was saam hier. Ons kon beleef hierdie is ’n klein hegte gemeenskap waarin een of meer in menige familie op een of ander manier by die visbedryf betrokke is. Dikwels al vir geslagte lank.
Dit is al vir meer as 12 jaar tradisie om die visseisoen op dieselfde sementkaai langs die Bergrivier te begin met ’n opelugdiens wat jaarliks deur honderde mense bygewoon word.
Die idee vir die dankdiens het meer onlangs gekom van pastoor Christopher Horn. Hy is ’n oud-polisiekapelaan wat so ’n paar jaar terug vanuit die Kaap hier kom aftree het en nou ’n eie gemeente het. Hy het na die tyd vertel dit was in sy hart dat so ’n diens gepas sal wees. Hy het dit eers alleen gedoen, maar vanjaar was hulle vyf kerke wat saamgewerk het. Hy noem hy dink hierdie eenheid tussen hulle vyf kerkleiers is goed vir hulle gemeenskap om te sien.
Dit is vir haar ’n verskriklike groot voorreg om deel te wees van hierdie hawedienste. Die gedagte deel Velddrif se eerste NG vrouedominee Elize Stander met ons aan die einde van die diens. Sy, ds Charl van Rensburg van Laaiplek en ds Tony Masent van die VGK het met Horn en nog ’n pastoor hande gevat om die geleentheid te hou.
Elkeen was op ’n manier deel van die oggend se twee-uurlange program met PPK-pastoor Jan Afrikaner se boodskap wat gekom het uit 1 Tessalonisense 5:18: “wees in alle omstandighede dankbaar …”
Kort na elfuur was die laaste amen verby en die parkeerterrein leeg … tot daar ’n Sondagoggend kom in Januarie. Dan gaan hulle vir God dankie sê vir die vissermanne en Sy hulp vra vir die nuwe jaar se visseisoen.
En by Megan hoor ons dat die bywoon van dié diens – wat sy eers nie wou bywoon nie oor sy gevrees het dit sou ou wonde oopkrap – ook vir haar goed was.