Die eenwording van die NG en VG gemeentes in Maitland, was al ’n paar jaar op die tafel. Maar toe die een gemeente se kerkgebou afbrand en die ander gemeente sonder ’n leraar sit, het die idee nuwe dringendheid gekry, berig Heléne Meissenheimer.
Maitland: ’n Bedrywige kosmopolitaanse voorstad
Maitland, een van die oudste Kaapse voorstede, het ook die twyfelagtige eer dat dit die grootste begraafplaas en krematorium in die Wes-Kaap huisves. Dit is ’n bedrywige voorstad gevul met fabrieke en kantoorgeboue omsoom deur treinspore en snelweë. En binne hierdie vinnigveranderende omgewing bevind die NG gemeente Maitland (190 lidmate) hulle reeds 120 jaar. Nie ver van hulle nuutherboude kerkgebou nie (skaars vier minute se ry volgens Google Maps) is die VGK gemeente wat in 1916 gestig is met ’n lidmaattal van sowat 450.
Dit is hier waar ds Andrew Esterhuizen hom sedert laasjaar bevind as leraar. Hy is op 1 September 2023 op kontrak van een jaar as hulpleraar aangestel by die VGK-gemeente. Die proses na eenwording was toe reeds ver gevorder al was die NG gemeente toe reeds vir ’n paar maande sonder ’n vaste leraar. Hulle vorige leraar, ds Juanita Greyvenstein, wat ook ’n sterk bydrae gemaak het tot die eenheidsproses, het daardie jaar ’n beroep na Mpumalanga aanvaar.
Esterhuizen het ervaring met sulke prosesse. Hy was getaak met die eenwording van die NG en VG gemeentes op Touwsrivier. Hy het op 23 Julie 2017 die eerste VGK-dominee geword wat ook ’n leraar van ’n NG gemeente geword het. (lees meer in Kerkbode 10 November 2017).
Met ons aanklop om meer te hoor by hom, het hy egter gevoel hy is nie al een wat insette moet lewer op Kerkbode se e-posnavrae nie. Sy vyf bladsye verslag van sowat 1 900 woorde bevat daarom ook insette deur ds Helgard Pretorius van Pinelands-gemeente, ds Bossie Muller van Culture Connect en kerkraadvoorsitter Dora Jacobus, getrou aan die samewerkende aard van die posisie waarin hierdie gemeentes hulle deesdae bevind.
Probleem: Skuiwe in demografie
Esterhuizen se verslag vermeld dat die NG gemeente vanaf die tagtigerjare al meer bruin en swart gesinne, asook immigrante, by die gemeente sien inskakel het, namate mense agter werksgeleenthede aan hierheen verhuis het (Daar woon sowat 10 000 mense in dié woonbuurt, waarvan die meeste swart en bruin inwoners, volgens die 2011-sensus).
Die gemeente het probeer om ’n toenemend multikulturele konteks op ’n pro-aktiewe manier te omhels. So is die naam weldra verander na Maitland Community Church. Die meeste dienste is in Engels aangebied om lidmate wat nie Afrikaans verstaan nie tegemoet te kom. En daar is moeite gedoen om gemeente-etes te reël en uit te reik na die hawelose mense van die omgewing.
Intussen is vennootskappe gevorm met aanliggende gemeentes. Voorbeelde hiervan is die Siyafunda Beurs, ’n gesamentlike NG en VGK bediening bestaande uit vyf gemeentes, en die Maitland Vennootskap saam met die NG gemeentes van Pinelands, Welgemoed, Kenridge en Groote Kerk. Die hulp wat so ontvang word is nie net geldelik nie, maar sluit ook in om projekte saam te doen, saam te bid en kanselruiling.
Dit is in dié ervaring van saam bid, saam projekte aanpak en so meer dat daar ’n oortuiging begin posvat het dat Maitland se twee gemeentes hulle eenheid in Christus moet begin beliggaam.
Oplossings: Dít het gewerk
Die verslag lig in detail uit watter skuiwe en stappe wel gehelp het dat die twee gemeentes se reis na eenheid nie ontspoor nie.
Gesamentlike eredienste
Dit was geweldig traumaties vir die NG gemeente toe hulle 115-jarige gebou in ’n brand verwoes is in Desember 2018. Die verslag meld dit was ’n eksistensiële krisis, maar dit het ook die eenheidsproses ’n meer dringende momentum gegee. Maitland se VGK-gemeente was sonder predikant, so ds Greyvenstein het na hulle uitgereik oor die hou van gesamentlike dienste met haar as prediker. Die uiteindelike gevolg hiervan was dat sy as hulpleraar by die VGK bevestig is en die twee gemeentes se kerkrade begin het om saam vergadering te hou wat ds Aubrey Marais, die VGK-gemeente se konsulent, ook bygewoon het.
Saamwerk met kosnood en feesdiens
Nog ’n gesamentlike projek wat goed gewerk het, was die sopkombuis Helpende Hande, wat die twee gemeentes saam bedryf het om te help met die kosnood in hulle gemeenskap tydens die Covid-pandemie. Die spreekwoordelike 120 kersies op die koek was die feesdiens wat die gemeentes saam gereël het vir 4 Junie om twee mylpale te vier, naamlik die opening van die NG gemeente se herboude kerkgebou (met “nuwe innoverende geriewe soos ’n plek van veiligheid vir weerlose vroue asook deeltydse werkspasie vir kantoorsoekers” – Kerkbode 5 Junie 2023) asook die NG gemeente se 120ste bestaansjaar.
Kundige bystand
Kundige bystand het ook gehelp. Greyvenstein het uitgereik na die Wes-Kaapse sinode en so het di Bossie Muller en Stephen Pedro vanuit die diensgroep vir gemeentebegeleiding betrokke geraak. Hulle het die twee kerkrade gehelp om openlik te praat oor uitdagings, vrese en vrae. Muller is ook betrokke by Culture Connect, ’n projek van die Beyers Naudé-sentrum van die Universiteit Stellenbosch wat fokus op verhoudingsbou in gemeentes en ander gemeenskapsgroepe. Geleenthede is geskep dat mense hulle stories vir mekaar kon vertel en so mekaar kon leer ken, respekteer en aanvaar.
Na Greyvenstein aan die begin van 2023 ’n beroep aanvaar het na Mpumalanga, het ds Helgard Pretorius van Pinelands as konsulent ingeskakel wat gehelp het dat die proses na eenwording kon voortgaan tot Esterhuizen in September aangestel is. Esterhuizen het met sy ervaring vanuit Touwsrivier se eenheidsproses gehelp dat ’n taakspan vanuit altwee gemeentes saamgestel word.
Memorandum van Ooreenkoms
Die gebruik van geskrewe hulpbronne het gemoedsrus gegee. Dit sluit in dokumente soos die Memorandum van Ooreenkoms en die Roetekaart oor kerkhereniging van 2012, die Tussenorde van 2015 asook ’n pastorale brief wat in 2017 deur beide moderature van die VGK en NG Kerk landwyd uitgestuur is om gemeentes aan te moedig om met eenheidsprosesse te begin.
Einde Desember 2023 was ’n konsepooreenkoms gereed. In Februarie vanjaar het die taakspan dit bekragtig en in Maart het die gesamentlike kerkraad dit goedgekeur. Na beide die betrokke VGK en NG Kerk-ringe die ooreenkoms goedgekeur het, het die twee gemeentes op 27 Oktober 2024, Hervormingsondag, amptelik een gemeente geword.
Beperkinge
Altwee gemeentes se inkomste is beperk. Die bystand van die vennootskappe het onder meer gehelp dat Esterhuizen aangestel kon word. Sy kontrak is vanjaar met ’n jaar verleng. Gegewe sy ouderdom (72) is dit moontlik dat ’n beroep vir ’n nuwe leraar mag nodig wees binne die volgende paar jaar.
Daar was ook kritiek vanaf lidmate uit altwee gemeentes, maar die verslag skryf dit toe daaraan dat mense worsteling mag ervaar wanneer hulle uit hulle gemaksone moet beweeg. Werklike teenkanting was min.
Raad vir eenword
Esterhuizen sê hy hoop regtig hulle storie sal nog gemeentes inspireer om een te word.
Hulle lys die volgende as wenke/raad:
* Bid en volg die leiding wat die Woord oor kerkeenheid gee.
* Elke konteks sal verskillend wees.
* Soek na geleenthede wat lidmate van die twee kerke aan mekaar blootstel.
* Maak gebruik van die Culture Connect en Koinonia-etes.
* Maak gebruik van mense met kundigheid en ervaring om met kerkeenheidsprosesse te help.
* Verbind jou tot die bevordering van kerkeenheid.
* Skep veilige ruimtes waar mense uitgenooi word om hulle stories met mekaar te deel.
* Volg die leiding wat die kerkleierskap oor kerkeenheid gee.
* Lees die dokumente oor kerkeenheid, naamlik die Memorandum van Ooreenkoms en die Roetekaart, die Tussenorde en die pastorale brief.