Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Brief | Artikel 32: Hou dit tog net eenvoudig!

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Dr Nico Smit van Dalpark skryf: Ek lees deur Artikel 32 wat by die Algemene Sinode Moderamen se vergadering goedgekeur is en slegs een vraag kom in my gedagtes na vore: Hoekom maak ons (en ek sluit myself hierby in) goed in ons kerk so kompleks?

LEES OOK | Theo Danzfuss: Skuif na ander sinode?

Ek sweer dit is makliker om te emigreer na ’n ander land toe met visums, paspoorte en doeane-inspeksies as om van een sinode na ’n ander te skuif – en dit is my beskeie mening. Ek lees deur die dokument en besef wat ’n reusetaak dit is om nét van sinode te skuif.

Die gemeente waar ek tans dien wil nie van sinode skuif nie, maar in my gedagtes dink ek as ons sou wou het ek net daar vir my gemeenteraad gesê: “Nee wat, ouens. Die proses gaan ’n ewigheid duur.” Daarom spot ek en dink dat emigrasie makliker prosesse het.

Hoekom maak ons goed so kompleks en ingewikkeld? Ons is tog ’n belydende kerk. Ons bely dat Jesus die Weg, Waarheid en die Lewe is. Dit is groot woorde, maar Jesus sê dit vir Tomas wat juis so in vertwyfeling was. Jesus gee vir Tomas ’n antwoord oor wie Hy is. Hy maak dit nie dogmaties-kompleks en gebruik groot teologiese terme nie, maar kom sê vir Tomas in eenvoudige taal wie Hy is.

LEES OOK | Artikel 32: Prosedure vir gemeentes wat by ander sinodes wil inskakel

Ek wat as deel van Bybel-Media se FaithStyle-opleiding by baie ringe en streeksinodes kom, hoor so dikwels die gesprek van hoekom die NG Kerk aanhou leegloop, terwyl ander kerke (oa Unite 180 of Doxa Deo) uit hulle nate bars. My antwoord is eenvoudig: Ons maak goed te kompleks.

Nadat ek deur Artikel 32 gewerk het was my gemoed somber en het ek ’n wrang smaak in my mond oor hoe ’n ingewikkelde proses dit is.

Ek is van mening dat ons as kerk (en hoor weer, ek sluit myself nie uit nie) net effe moet terugsit en kyk waarmee ons besig is. Is ons regtig besig met sake wat ’n koninkryksdoel het?

En as die skuif van een sinode na ’n ander dan deel daarvan is, hoekom maak ons die proses so ingewikkeld? So intens. Só oordrewe?

Ek dink nie Artikel 32 help gemeentes om te sê ons wil van sinode skuif nie. Nadat ek dit gelees het en ek wou van sinode skuif het ek net daar my hande omhoog gegooi en gesê vir die proses sien ek nie kans nie.

Die Algemene Sinode moet gemeentes help. Ek dink ons kan die proses radikaal verfyn en meer toeganklik maak. En dalk net besef ons is dalk so besig om die evangelie te kompliseer en moeilik te maak dat ons kerk, die Here se bruid, besig is om leeg te loop. 

En dis nie spekulasie nie. Ek beleef dit by die meeste gemeentes of ring waar ek kom. Dalk is dit tyd om net weer die evangelie in maklike mensetaal te verduidelik. Ons dokumente een kant toe te plaas en te sê hoe kan ons ’n proses prakties en maklik en moontlik maak.

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Brief | Artikel 32: Hou dit tog net eenvoudig!”

  1. Matthys Streicher

    Die AS moderatuur gaan uit sy pad om die liberaal verligtes te help en akkomodeer maar die behoudendes word as melaats beskou en vermy enige hulp of ruimte vir hul geloofs belewenis

  2. Danie van Bloemfontein

    Dalk omdat die NG Kerk nou meer ‘n klub is waaraan ek behoort, eerder as die plek van samekoms van
    Bybelse gelowiges. Want deesdae kry jy ook nie-Bybelse gelowiges en selfs halfpad-Bybelse gelowiges. Miskien moet die NG Kerk met haar pragtige geloof-bevestigende verlede tot niet gaan, sodat die kerk in die NG Kerk weer kan herleef.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.