Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Om lidmate te troos dat hulle kan loskom van die Algemene Sinode (AS) se omstrede en onskriftuurlike besluite deur net na ’n ander sinode te skuif is ’n vergissing.
Dit is hoogstens ’n fopspeen om gemeentes se mond te snoer terwyl die kerk afbrand. Die AS is die beleidmakende sinode vir al sy samestellende sinodes. Die samestellende sinodes se “eie besluite” bevry hulle nie van die AS se gemeenskaplike beleidsbesluite nie.
LEES OOK | Artikel 32: Prosedure vir gemeentes wat by ander sinodes wil inskakel
’n Samestellende sinode kan eie beleidsbesluite neem, slegs insoverre dit nie in stryd is met die AS se besluite nie. Daar is slegs twee maniere waarop ’n samestellende sinode kan loskom van die AS se besluite.
Dit is om die AS van hulle dwaling te oortuig, of om uit te tree uit die AS verband (Art 37). Sover kon geen sinode nog met een van die twee slaag nie.
LEES OOK: Kerkbode op 175
Om te beweer die AS se “ruim huis” skep vir almal ruimte om eie beleid te vorm, wemel van misverstande. Die AS bly die beleidmakende sinode wat al die deelnemende sinodes se gemeenskaplike beleid bepaal. Die gemeenskaplike beleid geld vir al die deelnemende sinodes asook hulle gemeentes. Die AS het “erken dat daar leraars en kerkrade is wat hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig en ander wat nie kans sien om dit te doen nie”. Slegs in hierdie konteks het die AS besluit: “Die sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig.” Die “ruimte” gaan oor die keuse om burgelike verbintenisse kerklik te bevestig of nie. Albei kante van hierdie keuse val binne die AS se besluit. Dit maak sinodes en kerkrade wat belsuit om dit nie te doen nie, nie vry van die res van die AS se beleid en besluite nie.
Verder word gemeentes ook getroos dat die nuwe Art 32 ’n welwillende gebaar teenoor behoudende gemeentes is sodat hulle nou self kan besluit om te skuif na ’n sinode wat hulle oortuigings deel. Wie aan hierdie fopspeen wil suig, kan gerus die ASM se voorskrifte wat so pas “ex cathedra” geproklameer is, gaan lees. Die byna onmoontlike prosedure wat die kerkraad stiptelik onder toesig, moet volg is nou ses bladsye lank, bevat 30+ stappe, moet deur 6-8 vergaderings goedgekeur word, mag nie verband hou met slegte verhoudings met die kerkverband nie en na die jarelange proses moet twee sinodale kommissies dit in ’n gesamentlike verslag aan die AS voorlê. Slegs die AS (of ASM) kan die finale besluit neem. So word by voorbaat al die dolerende gemeentes gediskwalifiseer.
Dit is skokkend hoe onkundig ’n kerkvergadering oor die gereformerde kerkreg kan wees deur sulke onsin goed te keur. In ’n gereformeerde kerk is daar geen plek vir sulke boeliegedrag nie. Die plaaslike gemeente word nie as ’n kindergarten gesien nie, maar as ecclesia completa gerespekteer.
Gelukkig is hierdie voorskrifte in nihil want KO Art 43.2.1 bepaal duidelik: “Die Algemene Sinode hanteer nie sake wat deur die samestellende sinodes of gemeentes hanteer kan word nie.”
Theo Danzfuss sê hier iets wat ek ook opgemerk het: Die AS se Moderamen en ATR (aksie teen regsinnigheid?) toon toenemend dieselfde kenmerke as die Roomse kerk in in die sestiende eeu.
Dit het destyds die Reformasie veroorsaak.
Geskiesdeins het die neiging om homself te herhaal.