Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nuwe doop- en belydende lidmate van die VGK Stockenström in 2019. Die skrywer het in November 2019 in dié gemeente, waar die eerste aparte nagmaal destyds bedien is, gepreek. “Ek wou my kop in skaamte laat sak vir die seer wat my erfenis hierdie mense en gemeenskap aangedoen het.” Foto’s: Hendrien van Vliet

Die NG Kerk en haar identiteit: Twee eeue se saam reis op moeilike, ongeteerde paaie


Het jy al ooit op ’n roadtrip gegaan en op die ingewing van die oomblik, besluit om iewers op ’n grondpad af te draai sodat jy kan sien hoe die dorp lyk waar jy grootgeword het? En daar sien jy ’n klomp goed raak wat jy só goed kan onthou, maar jy sien ook ’n groot klomp dinge wat verander het. Verouder het. Weggeval het … Dis so ’n bietjie hoe dit voel om ’n sloertoer 200 jaar in die geskiedenis van die NG Kerk aan te pak, skryf Hendrien van Vliet.

 

Aan die begin van November was daar ’n groot klomp vieringe beplan om hierdie 200 jaar oue kerk te vier. Twee daarvan was konferensies in die Kaap, by die Kerkargief op Stellenbosch, en in Pretoria, by die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) Pretoria-Oos.

Groote Kerk in Kaapstad op die naweek van die Kerkwees 200-feesvieringe.

Die doel van die konferensies was om ’n terugflits te gee van die kerk wat so saam met die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) hier aan die suidepunt van Afrika beland het. En ook wat die geskiedenis ons kan leer wanneer ons as Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) vorentoe kyk. Prof Johan van der Merwe het die uitstekende metafoor gebruik van ’n swaai: “Hoe start jy ’n swaai? Jy moet terugskop!” En het ons vir jou teruggeskop! Ek gaan nou nie in die tegniese detail ingaan oor die naam van die kerk en naamveranderings wat later gebeur het nie. Maar hierdie een ding het ons in gemeen: In 1824 is vir die eerste keer ’n algemene kerkvergadering gehou vir die 14 gemeentes in die Kaap, wat gestrek het van Kaapstad, al die pad tot op Cradock. Ds Jan Lubbe het met erns gepraat oor hoe die vergadering groot moeite gedoen het met hoe die kerkorde van De Mist verstaan moet word, wat is ons roeping en identiteit hier in die Kaapkolonie, en hoe ons mekaar kan ondersteun. En ek dink dit was nog altyd deel van ons gereformeerde identiteit, en sal vir lank ook nog so bly. Dit is iets wat ons saambind.

Die binnekant van die historiese Stockenström-kerkgebou in 2019

Hofsake en eenheid

Maar soos wat dit gaan met koloniale magte en ryke, het dit moeilikheid saamgebring. Die verengelsingsbeleid, die afskaffing van slawerny en die hantering van boere van Nederlandse afkoms, het veroorsaak dat die Voortrekkers die groot trek aangepak het binneland toe. ’n Klompie gemeentes is langs die pad gestig, maar nie almal was ewe gelukkig daaroor nie. In 1862 het Hugo Hendrik Loedolff ’n saak gemaak daarteen dat die ringe noord van die Kaapkolonie nie deel kan wees van die algemene kerkvergadering nie (weens hoe die kerkorde en wette geskryf was). Vrystaat besluit om dan maar in 1864 ’n eie sinode te stig. Natal en Transvaal volg daarna. Eers in 1962, ’n volle eeu later, sou die kerk weer herorganiseer dat al die onderskeie streeksinodes deel vorm van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Prof Johan van der Merwe tydens Kerkwees 200-konferensie gehou op 5-6 November 2024 by NHK Pretoria-Oos.

Aparte nagmaal 

Om weg te kom van die moeilikheid af was nog altyd deel van die kerk se storie. As ons sukkel met iets, skram ons weg. Soos die saak rondom nagmaalgebruik met bruin mense. Baie het gedink dit is die verkeerdste besluit wat gemaak kan word, die evangelie is dan daar vir almal, so ook die deelname aan die sakramente. Maar weens die swakheid van sommige broers is gekies om die bediening te skei. Naby, maar nie saam nie. Ek het in November 2019 die groot voorreg, en die groot verantwoordelikheid gehad, om in Stockenström-gemeente (ja, die een waar die eerste aparte nagmaal bedien is) te preek, jong lidmate te lei in die openbare belydenis van geloof, en die sakramente te bedien. Dit was die eerste van vele besoeke. En elke keer wat ek daar gekom het, is ek hartlik, met groot liefde en deernis verwelkom. Ek wou my kop in skaamte laat sak vir die seer wat my erfenis aan hierdie mense en gemeenskap aangedoen het.

Die Kerkargief op Stellenbosch.

APK breek weg

Ons skram weer weg van die moeilikheid af in 1960 met die Cottesloe-beraad, waar agt Suid-Afrikaanse lidkerke van die Wêreldraad van Kerke vir ons sê wat ons moet doen om die saak reg te maak aangaande apartheid. Maar die staat praat harder, en baie predikante van die tyd beleef politieke onderdrukking en verwerping, en die kerk doen maar eerder niks. Eers in 1990 bely en erken die kerk dat apartheid verkeerd is en dat ons sal saam werk vir regverdigheid en versoening. ’n Klompie kerkmense voel die moeilikheid is te groot, skeur weg en stig die Afrikaanse Protestantse Kerk. En nou, na 30 jaar van die belydenis, en die belofte om te werk vir geregtigheid, vrede en versoening, het ’n klompie mense weer gesê die moeilikheid is te groot, ons wil eerder nie meer deel wees van die Algemene Sinode nie.

Voorwaarts, moeilikheid! 

Maar ’n groot deel van ons identiteit as NG Kerk is om in die moeilikheid in te hardloop. By beide konferensies het die sterk tema van onderlinge sorg en armoedeverligting deurgekom in verskeie referate. In die vroeë 20ste eeu was daar nie juis ’n organisasie of departement in die staat wat eienaarskap geneem het rondom armoede tydens die depressiejare of daarna nie. In baie opsigte het die kerk en sendingorganisasies daardie werk oorgeneem en het baanbrekerswerk gedoen om met die staat te onderhandel om hulpbronne daarvoor beskikbaar te stel. Mnr Rouxan Rademan praat van hoe die kerk in die Ring van Clanwilliam seker gemaak het dat kinders geskool en gehuisves is tydens die groot droogte in 1923-1929. Dr Esté Kotze het in detail gepraat van hoe ’n eenvoudige armesorg-allimentasie-beleid in 1824 aanloop gegee het dat ons 200 jaar later sistemiese armoedekwessies aanspreek deur verhoudings en netwerke te vorm met ander organisasies en die staat. Moeilikheid, lyk dit vir my, is ons besigheid. Ons kry dit by tye baie goed reg om te help om die moeilikheid te bestuur. Ons verhouding met die meeste ekumeniese vennote is herstel en floreer, soos gehoor by dr Gustav Claassen, en die goeie werk met hereniging is stadig maar seker besig om al meer ’n werklikheid te word. Dit is niks snaaks as Hervormde en NG gemeentes saam werk nie, en dit word al meer ’n realiteit dat samewerkingsooreenkomste en herenigingsprosesse voortgesit word deur NG en VG gemeentes.

Aanhou met aanhou

Na my week van luister, feesviering en belydende refleksie, lyk die NG Kerk vir my soos daardie dorpie op die platteland, wat nog diep betekenis dra vir ongelooflik baie mense. Wat begin het as ’n volkskerk en wat in ’n spesifieke taal aanbid het. Maar dit lyk nie meer soos wat dit gelyk het 40 of 50 jaar terug nie. Daardie deel van ons identiteit het al ’n bietjie verander, ten goede as ek so mag sê. Dinge loop soms asof ons met ’n ou Corsa Lite op ’n pad ry met meer slaggate as pad. Maar die Corsa gaan aanhou ry so lank as wat ons aanhou probeer.

Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Gemeente Kempton-Hoogland.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.