Met die dood van prof Dionne Crafford op 3 November 2024, verloor die NG Kerk ’n navorser en dosent wat meer as twee dekades diep spore getrap het in die teologiese en sendingakker vanuit die Jakarandastad, skryf Gerdrie van der Merwe.
Hy het in stilte gewerk en dit was die stille sendingsuurdeeg wat die wiele van die sending bly olie het. Prof Hoffie Hofmeyr skryf die dag van sy afsterwe: “Die groot en besondere mens, teoloog, sendingwetenskaplike en kerkhistorikus Dionne Crafford het vanoggend stil heengegaan. Hy was ’n stille held in die liga van Willie Jonker, Johan Heyns en David Bosch”.
LEES OOK: Al die lesersbydraes van 2024
Dionne Crafford is op 16 Junie 1935 gebore te Lobatse in Botswana. Sy vader is Dirk Johannes Crafford wat as inspekteur werk vir die SA Spoorweë. Sy moeder is Magrieta Izabella Jacoba Swanepoel, ’n winkelbestuurder in Lobatse. Dionne begin in 1941 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Andalusia te Jan Kempdorp in die Vaalharts. Einde 1947 word sy vader verplaas na Witbank en is hy leerling aan die Hoërskool Witbank waar hy aan die einde van 1952 matrikuleer. In dié tyd blink hy uit in rugby en tennis, terwyl hy as stokperdjie duiwe vlieg.
Hy voel geroepe om predikant te word en begin in 1953 met sy studie aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1955 die BA (Admissie) behaal en redakteur is van Perdeby, die studentekoerant van Tukkies. Hy word student aan die Fakulteit Teologie (Afd B), verwerf in 1958 die BD-graad en dien ook op die besture van die CSV en Deo Gloria. In dié tyd verwerf hy in 1961 die MA-graad in Grieks. Hy is in sy finalejaar ook tydelike dosent in Grieks aan die Universiteit van Pretoria. Sy proefpreek lewer hy in die NG Gemeente Suidoos-Pretoria onder leiding van prof EP Groenewald en prof HDA du Toit. Hy word op 25 November 1959 gelegitimeer en is nie beroepbaar nie weens verdere studie. Dionne tree op 31 Desember 1960 in die huwelik met mej GNA Strydom en uit die huwelik is vier kinders gebore: Dirk Johannes, Philippus, Riana en Dione.
LEES OOK: Verstaan die Ou Testament: Demokratisering van die mensbeeld
In die lente van 1961 vertrek die jong egpaar na Kampen in Nederland, waar Dionne sy doktorale studie voortsit aan die Johannes Calvijn Stigting in Kampen onder leiding van prof H Bergema. Hy is een van die sendelinge wat na die verskyning van die Tomlinsonverslag, as profetiese stem druk help uitoefen op die Suid-Afrikaanse regering en die sendingnood in die tuislande uitlig. Die verslag het gehandel oor die lewensvatbaarheid van die tuislandbeleid en het aangetoon dat dit nie vir die swart mense van Suid-Afrika ekonomies haalbaar is nie. Die regering het die verslag verwerp. Hy keer aan die begin van 1963 terug na Suid-Afrika en sit sy doktorale studie voort aan Tukkies en behaal die DD-graad in 1967 onder leiding van prof HDA du Toit. Hy behaal al sy grade met lof. Sy proefskrif handel oor “Wêreldsending en wêrelddiakonaat”.
Op 11 Mei 1963 word prop Dionne Crafford met handoplegging bevestig op Graskop in die Laeveld. Ds Louis J Swanepoel hou die bevestigingsrede, toe die jongman sendeling word in die NGKA Rivoni by Acornhoek in die tuisland Gazankulu. Dit is ’n groot leerskool vir die jong sendeling waar sy liefde vir sending verdiep en hy kosbare werk lewer tot einde 1967.
LEES OOK: Al die jongste vakatures
Dr Dionne Crafford se akademiese loopbaan begin in 1969 toe hy senior lektor word in die Departement Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van die Noorde in Vendaland. In 1971 word hy bevorder tot professor en hoof van die departement Kerkgeskiedenis en Sending- en Godsdienswetenskap aan die swart universiteit naby Pietersburg in die tuisland Venda.
Aan die begin van 1976 word hy senior lektor in die departement Godsdiens- en Sendingwetenskap in die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria in die Jakarandastad en kort daarna word hy bevorder tot medeprofessor. In 1983 word prof Dionne Crafford benoem as direkteur en navorder van die nuutgestigte Instituut vir Sending- en Ekumeniese Navorsing (ISWEN).
Talle inisiatiewe is deur hom as direkteur geloods en hy is die hart en siel van die instituut, waar ’n besondere bydrae gelewer word tot die teologie en sendingpraktyk op kerklike terrein. In 1988 volg hy prof CWH Boshoff op as hoof van die departement Godsdiens- en Sendingwetenskap aan Tukkies, ’n departement van die Fakulteit Teologie wat diep spore in die Jakarandastad trap.
By ISWEN word intensiewe sendingnavorsing gedoen en besondere projekte suksesvol geloods. Die lewensbeskrywing van swart pioniersfigure in die kerk se sendingtaak word ook te boek gestel. Hy is bekend as ’n kenner van die tradisionele godsdiens/religie van Afrika, terwyl sy geskrifte hieroor wêreldwyd hoog aangeslaan en gelees word. Hy is die skrywer van die standaardwerk oor die sendinggeskiedenis van die NG Kerk: Aan God die dank: Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk binne die Republiek van Suid-Afrika en enkele aangrensende buurstate, deel 1.
Na sy aftrede op 30 Junie 1995 bly hy steeds deeltyds betrokke by ISWEN en gaan hy met sy navorsingswerk voort. Hy bly lief vir die sending en die NG Kerk en bly meelewend op verskeie gebiede. In 2007 spreek hy saam met verskeie ouddosente van Tukkies se Teologiese Fakulteit, in ’n verklaring sy kommer uit oor die teologiese strominge van die dag wat lidmate verwar en verbind hom weereens aan die gereformeerde leer wat die toets van die tyd deurstaan het. Die dosente wat die verklaring onderteken, publiseer ’n “Geloofstandpunt”.
Na ’n leeftyd van diens in die Here se koninkryk, sterf prof Dionne Crafford op 3 November 2024 in die geseënde ouderdom van 89 jaar. ’n Gedenkdiens vind op 8 November 2024 plaas en gestroom vanuit die NG Gemeente Tygerpoort in Pretoria, ’n gemeente waar hy as emeritus aan verbonde was en sy deel gebring het. Dr Gustav Gous skryf: “He was a silent academic giant. I herewith honour his legacy and respect his profound influence. My PhD was in ecumenical studies and international relations. We also co-authored the following book on the ecumenical movement worldwide and in South Africa. One body – many members / Een liggaam – baie lede.”
Ons kommentaarbeleid
Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.