Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Daar is vandag Christene wat ongemaklik is met die idee van menseregte. Hulle voel ongemaklik met die idee dat mense inherente waarde het en daarom regte het wat beskerm moet word. Soms word hierdie idee as humanisties afgemaak en onbybels. Maar is die idee van menslike waarde onbybels?
Die eerste skeppingsverhaal wat ook die priesterlike skeppingsverhaal genoem word, glo ook dat mense inherente waarde het en dat hulle hierdie inherente waarde ontvang het omdat hulle na God se beeld gemaak is. Ons almal ken die bekende vers waar God die idee uitspreek: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg” (Gen 1:26).
LEES OOK: Pentateug of Heksateug?
Die volgende vers vertel dan hoe hierdie wens uitgevoer is dat die mens, manlik en vroulik, so geskape is. Daar is al baie geskryf oor wat “beeld” en “afbeelding” dan eintlik sou beteken, maar die beste plek om hiervoor ʼn verduideliking te kry is om in die wêreld van die Ou Nabye Ooste te gaan kyk, die wêreld waarin die OT ontstaan het.
In antieke samelewings soos Egipte en Mesopotamië is slegs konings gesien as geskape in die beeld van God. Hierdie idee het natuurlik die mag van konings gelegitimeer. Die koning se mag was geanker in die feit dat hy ’n spesiale afbeelding van ’n god was. In sy kommentaar op Genesis 1–11 skryf die Duitse Ou-Testamentikus Andreas Schüle hoe hierdie verstaan van die koning sy verhewenheid bo gewone mense onderstreep het. Om teen ʼn koning in opstand te kom, het opstand teen die god beteken van wie die koning ʼn afbeelding was. Al hierdie samelewings was natuurlik verskriklik hiërargies met die koning heel bo en hoe verder weg jy van die koning beweeg het, hoe laer was jou status. Dié wat nader aan die koning was, was wel beter af as dié wat verder weg was. Met ander woorde, hoe nader jy hiërargies aan die koning was, hoe meer waarde het jy gehad en die teenoorgestelde vir hoe laer jou stand was. Heel onder was daar slawe wie se waarde aan hulle eienaars behoort het en nie aan hulleself nie.
LEES OOK: Só verskil Jesus se leefwêreld van ons s’n
Wat Genesis radikaal maak is dat alle mense (manlik en vroulik) na die beeld van God gemaak is. Geleerdes praat soms van die “demokratisering” van die koning se waarde. Alle mense besit nou die waarde wat die koning in Egipte of Mesopotamië gehad het. In hierdie opsig is die Ou Testament nogal radikaal as dit kom by die waarde van mense. Alle mense behoort ewe veel waarde te hê. Ek sê “behoort”, want ook die priesterlike skrywers het nie altyd die implikasies hiervan verstaan nie. Vir hulle was slawe nog aanvaarbaar, ʼn idee wat die kerk eers 200 jaar gelede die rug toegekeer het.
Prof Sias Meyer is ’n professor in die Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte aan die Universiteit van Pretoria en ’n lidmaat van NG Gemeente Suidoos-Pretoria (Stellastraat).
Ons kommentaarbeleid
Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.