Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Verstaan die Ou Testament: Pentateug of Heksateug?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In die Joodse tradisie is die Tora by verre die belangrikste teks in die Ou Testament (wat hulle die Tanak sal noem). In die akademie praat ons van die Pentateug, omdat die Tora uit vyf boeke bestaan. Maar daar is ʼn probleem met die Pentateug soos ons dit vandag het. Wanneer God vir Abraham roep in Genesis 12 (en 15 en 17) word basies twee beloftes aan hom gemaak. Die eerste belofte is dié van afstammelinge. Hulle gaan wees so baie soos die sterre aan die hemel.

Maar waar gaan hulle woon? Nou kom ons by die tweede belofte: God belowe vir Abraham en sy nageslag ʼn land met die naam Kanaän. Aan die einde van die Pentateug, aan die einde van die boek Deuteronomium bevind Israel hulleself nog aan die anderkant van die Jordaan en is Kanaän maar net nog ʼn belofte. Aan die einde van die Pentateug is die belofte van afstammelinge vervul, want Israel is ʼn groot volk, maar die belofte van ’n land is onvervuld.

Hierdie probleem het gemaak dat baie geleerdes deur die jare gewonder het oor hoekom die Heksateug nie ʼn amptelike ding is nie. Dan praat ons van ses boeke, die Tora plus Josua. En Josua vertel vir ons van die inname van die land Kanaän. Josua vertel vir ons van die vervulling van die ander belofte wat aan Abraham gemaak is. Gaan lees maar vir Josua 24. Dit klink of die skrywer van daardie hoofstuk ʼn soort literêre boog wou terugtrek na Genesis. Die hele verhaal van die aartsvaders af deur die eksodusgebeure tot by die inname van die land word kortliks opgesom en selfs Josef se beendere kom tot rus aan die einde van Josua 24. Baie geleerdes verstaan Josua 24 as ʼn poging om ʼn Heksateug te skep wat die probleem van die uitstaande belofte van Genesis oplos. Maar in die Judaïsme bestaan die Tora uit net vyf boeke en Josua is deel van die profete (Nevi’im). Hoe het dit gebeur?

Iemand soos die 80-jarige Duitse teoloog Eckart Otto dink dat daar in die Persiese tydvak juis ʼn debat was onder Jode oor identiteit. Wat maak van jou ʼn Jood? Otto dink dat daar wel aanvanklik iets soos ʼn Heksateug was en die Heksateug se antwoord op die vraag was eenvoudig: ʼn Jood is iemand wat in die beloofde land woon. Maar wat van die baie Jode wat in Babilon en Egipte gewoon het? Was hulle dan nie Jode nie? Die uiteinde van hierdie debat het gelei tot die Tora, die vyf boeke. Josua is deel gemaak van die profete en die Tora het oorgebly met vyf boeke. Nou is die antwoord: ʼn Jood is enigiemand wat die Tora leef, maak nie saak waar hy of sy woon nie. Identiteit word nie bepaal deur waar jy woon nie, maar hoe jy daar leef.


Prof Meyer is ʼn professor in die Departement Ou Testament en Hebreeuse Geskrifte aan die Universiteit van Pretoria en ’n lidmaat van NG Gemeente Suidoos-Pretoria (Stellastraat). 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.