Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Op 23/01/2020 het die ateïstiese organisasie FoRDA (Friends of Richard Dawkins Association) ’n byeenkoms gehou in die Rotary Hall in Somerset-Wes. Dawkins is die ateȉs wat bekend is vir sy boek The God delusion en die “Atheist bus campaign” op London se munisipale busse. Volgens ooggetuies was een van ons bekende kerkleiers ook daar. In vraetyd het iemand hom gevra hoe hy die pad vorentoe met die NG Kerk sien. Sy antwoord was volgens ’n ooggetuie: “My aim is to dismantle the solid church”. Dit getuig van ’n nuwe generasie predikante wat hard besig is om die NG Kerk se identiteit te “dismantle”.
LEES OOK: Diep spore van diensbaarheid: Oom Piet Pieterse reflekteer oor 70 jaar in die amp van diaken
- Ons gereformeerde identiteit word afgebreek. Om gereformeerd te wees beteken vandag vir baie slegs dat jy die Apostolicum aanvaar. Tragies hoe min leraars nog verstaan van ons gereformeerde identiteit.
- Ons kerklidmaatskap word afgebreek. Die Algemene Sinode se besluit om nie meer te onderskei tussen doop- en belydende lidmate nie, is rampspoedig. Iemand wat 40 jaar gelede gedoop is sonder katkisasie of geloofsbelydenis daarna, het nou presies dieselfde lidmaatstatus as ander belydende lidmate.
- Ons sakramente word afgebreek. Sedert die kindernagmaal ingevoer is, het die proses van voorbereiding en skuldbelydenis voor die nagmaal in baie gemeentes verdwyn. Waarskuwings tot selfondersoek volgens 1 Korintiërs 11 het ook byna verdwyn.
- Ons liturgie word afgebreek. Baie gemeentes se liturgie is slegs horisontaal gefokus om groter getalle te trek. Charles H Spurgeon het jare gelede al gewaarsku: “A time will come when instead of shepherds feeding the sheep, the church will have clowns entertaining the goats”.
- Talle gemeentes het reeds die Tien Gebooie uit hulle eredienste en katkisasie verban. Wat ’n skok om te hoor hoe ’n leraar van Gauteng spog dat hy nog nooit die Tien Gebooie in ’n erediens gelees het nie. Predikante is nou slimmer as die Heidelbergse Kategismus waar die dekaloog sentraal staan weens sy noodsaaklike funksies naamlik: om van sonde te oortuig, om tugmeester na Christus te wees en riglyne vir dankbaarheid te gee.
- Ons ampsbediening word afgebreek. Die ampsbediening in die NG Kerk is reeds so “dismantle” dat baie kerkrade nie meer uit wettig verkose ampsdraers bestaan nie, predikante se werk meer deur die arbeidswet as die Skrif bepaal word, en eredienste ’n solovertoning word.
- Kerklike opsig en tug is ook “dismantle”. Dit is altyd toegepas op ergerlike sondes soos dwaalleer, of owerspel en egskeiding. Nou is dit omgekeer. Openbare ergelike sondes word geduld terwyl hulle wat pleit vir die suiwer leer, vervolg word. Talle geskeide mans en vrouens of persone wat in lesbiese en homoseksuele praktyke leef, behou hulle bevoegdheid. Sommige is selfs na twee egskeidings ongedeerd, en help nou om Skrifgetroue leraars se bevoegdheid deur kerklike tug te ontneem.
My vraag is: Wat gaan oorbly as die proses “to dismantle the solid church” soos die dag aan die ateȉste van FoRDA belowe is, eendag voltooi is?
** Lees nog briewe: https://kerkbode.christians.co.za/category/briewe/
** Skryf vir ons: https://kerkbode.christians.co.za/lesersbrief/
** Ondersteun ons publikasie: https://kerkbode.christians.co.za/vriende/

Baie dankie Theo, dit raak die hart van die probleem in die kerk aan.
As Gereformeerdes is ons ‘n kerk wat saamgebind word deur ons Belydenis. Jy wys duidelik hoe die Belydenis van die kerk doelbewus afgetakel word.
Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe gelegitimeerde leraars, wat by legitimasie beloof het om aan die belydenis getrou te bly, dit te verdedig en met alle mag afwykende lerings uit die kerk te weer, geen gewetenswroeging het as hulle strydig met die Belydenis optree en dit doelbewus afbreek (“dismantle”) nie.
Danzfuss se brief oor ‘dismantle the solid church’ van n kerkleier by n ateïste vergadering is baie relevant, anders as wat de Bruin hier wil voorgee. Ek verstaan de Bruin se redenasie tog wel omdat hy nie self daar was nie en nie die gesprek van die begin tot einde gevolg het nie. Die ateïste het sekere vrae gevra tydens die byeenkoms. Die leier het sekere antwoorde gegee. (Die leier het dieselfde toespraak voorheen gelewer by n byeenkoms te Stellenbosch voor n groep waar ander ateïste en n post teïs van lede is.) Een van die ateïste het bv gevra hoe die NGK nou dink oor evolusie. Die leier se antwoord was dat die NGK al lankal evolusie aanvaar het as waar en daardie agt of nege dae Skeppingsverhaal laat vaar het. Hierdie uitlatings sluit aan by ander se uitlatings dat Genesis 1 tot 11 n mite is.Hierop het die ATEÏS die leier reggehelp deur te sê dat die Skeppingstyd mos eintlik ses dae was. !!! Wanneer God nie geskep het soos per die Skrif nie, daar GEEN perfekte woonplek was soos die Paradys nie, daar GEEN sondeval was nie dan het Christus verniet aan die kruis gesterf.!!!
GOOI DAN WEG JOU BYBEL. ALLES IS VERGEEFS.
Hierdie was maar een van vele uitlatings waaroor ons kan getuig.