“Nee wat, die pay is te min,” lag oom Piet as hy vertel hoe die kerkraad hom al baie gevra het of hy nie maar wil opgradeer na ouderling toe nie. Hy het hierdie jaar sy 70ste jaar diens gedoen as diaken, vertel Hendrien van Vliet.
Op 17 het Piet Pieterse belydenis van geloof afgelê in Alberton se moedergemeente, en is sommer dadelik gevra om as diaken te dien. In Mei hierdie jaar het hy 87 geword, en het hy vir die kerkraad gesê dit is nou die laaste een, en op 17 November 2024 is hy op ’n spesiale wyse in die erediens bedank vir sy diens in Alberton-Wes gemeente.

LEES OOK: Resensies + Leesidees vir oud en jonk dié Kersfees
Oom Piet en sy vrou Kitty het vir baie jare gelukkig gewoon in Alberton. Hulle het gesien hoe die dorp verander en die grense ook wyer word. Hulle was een van die eerste gesinne wat huis gekoop het in een van die nuwe voorstedelike buurte. Destyds was dit nog so dat as jy getrek het na ’n nuwe buurt, dan moet jy inval by die gemeentegrense. As jy nou nie by jou ou gemeente se grense ingeval het nie, moet jy na die naaste gemeente gaan. Op hierdie manier het oom Piet al by drie gemeentes in die dorp diens gedoen, en een in Stilfontein terwyl hy diensplig gedoen het.

Die meeste van oom Piet se diensjare was by Alberton-Moedergemeente en Alberton-Wes. Die twee gemeentes het in 2010 een geword en oom Piet het maar net aanhou dien. Ons lag en kuier saam terwyl ons na ou foto’s kyk van die moedergemeente se eeufeesbundel. Baie van die mense ken oom Piet, of het hom al vooruitgegaan. Dit laat my baie dink aan die idee dat dominees kom en gaan, maar die hartklop van die gemeente is mos maar die mense. Mense soos oom Piet wat so op ’n sagte, agter-die-skerms manier vir gemeentelede wys hulle is vir hom kosbaar. Deona Bernard, wat in die kerkkantoor werk vertel hoe hy biltongbroodjies saamgery het kantoor toe wat van tannie Kitty af kom, en dat sy dit nou moet deel met die proppie. “Proppie was my bynaam by oom Piet terwyl ek proponent was. Met my intreepreek wag daar vir my ’n proppie op die preekstoel, met oom Piet se handskrif op. Ek het nou nog my proppie,” vertel ds Deon Louw. Hy onthou ook hoe oom Piet hom gehelp het toe hy sy eerste nagmaalsdiens moet doen in die gemeente en nie seker was hoe die gemeente die volgorde verkies nie.
LEES OOK: Jaaroorsig 2024 | Kunsmatige Intelligensie: Word ons bemagtig én van ons sinne beroof?
Oom Piet se hart was nog altyd om te help. Hoe die hulp lyk, lyk in verskillende situasies anders. Deona lei my na sy stokou, maar oral-bekende blou bakkie. Met hierdie bakkie is kos aangery, petrol aangery, mense aangery. Mense weet nou nog hulle kan enige tyd vir oom Piet bel en die old faithful blou bakkie sal opdaag.


Ek vra oom Piet om my so ’n bietjie te wys hoe lyk die gemeente waar hy so hard gewerk het. En hy doen dit versigtig, met groot erns, en met groot liefde. Met trots wys hy ook die kerkbank waar hy elke Sondag sit en hy lag as hy sê daar sit nog ’n Chappie vas aan die onderkant. Hy en Deon vertel my van die kerktoring en hoe moeilik dit is om enige werk eintlik daar bo te doen, want dit is baie nou en ’n mens kan maklik afval. Sy kinders wil nou nie meer hê hy moet daardie werk verrig nie, maar ek kan die glinster in sy oog sien as hy opkyk na die kerktoring.
LEES OOK: Kollig | ‘Skielik stap jy uit met ’n ‘ons’ storie’ – Braam Hanekom oor 100DorpeDialoog
My oog volg syne en ek dink vir ’n oomblik aan Adventtyd, aan hoop en vrede, vreugde en liefde. En ek kan nie aan ’n beter tyd dink om oom Piet se verhaal te vertel nie, want sy hoop was nog altyd in die Here vir wie hy baie jare goed gedien het. Hy het talle hoopvolle stories beleef, vreugdes as gemeentes groei en lidmate getuienisse deel, vrede as die Here ander planne as hy het, en het op sy unieke wyse ook groot liefde bewys in sy diensbaarheid. Sy hoop is nou dat die jong klomp wat hom sal opvolg hulle werk as diaken ernstig sal opneem, en sal dien met oorgawe. Toe ek wegry, dink ek by myself: Oom Piet, solank oom daar is om hulle te help en te lei sal hulle die gemeente en gemeenskap trots maak.