Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Alliansies tussen mens en Kunsmatige Intelligensie (KI) is ons digitale hede en ons globale voorland: KI-masjiene wat eenvoudig met hulle meerdere maagsure vinniger kan verteer aan als wat ons deesdae Inhoud doop, is reeds ons broodnodige bondgenote. Vir almal van joernalis tot teoloog. Trouens, elkeen wat ’n sin begin skryf in hierdie era van auto-completion staan oënskynlik voor die kruispad: Raak betrokke of raak agter, skryf Le Roux Schoeman.

Jaaroorsig 2024 | Kunsmatige Intelligensie: Word ons bemagtig én van ons sinne beroof?

Dalk is ’n waardevolle metgesel vir Kunsmatige Intelligensie (KI) gewoon outentieke waarneming. Maar is dit genoeg?

Die referaat is 1 772 woorde lank. Die titel: “Die belangrikheid van die Sinode van Emden”. Ons sit in ’n kerkgebou in ’n gegoede deel van Pretoria. Dr Antionette Janse van Rensburg van die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) Montana gaan haar navorsing voorlees as deel van ’n kerkhistoriese konferensie.

LEES OOK: Honger vir inligting, nuuskierig oor jou blindekolle … uitgebrand op godsdiens? Groot groep dominees in Pretoria verwelkom

Ek kan probeer om eers ’n bietjie die scenario te skets, maar ek vermoed die leser wil meer oor Emden hoor. En die implikasies vir moderne kerkreg? Ons span vir Claude daarvoor in. Claude is ’n kunsmatigeintelligensieassistent (die gratis weergawe) en som die referaatteks só op: “Die Sinode van Emden was ’n deurslaggewende kerkvergadering wat van 4-13 Oktober 1571 in die Grote Kerk van Emden (destydse Nederland, nou Duitsland) plaasgevind het. Dit was ’n kritieke oomblik in die geskiedenis van die Reformasie, waar 22 predikante en vyf ouderlinge bymekaargekom het om orde te skep te midde van godsdienstige vervolging.

Die Sinode het 53 belangrike besluite geneem wat die fondamente van die Nederlandse Hervormde Kerk help lê het, insluitend kernbeginsels soos dat geen gemeente of ampsdraer heerskappy oor ander mag voer nie en dat Jesus Christus die enigste Hoof van die kerk is. Die vergadering het plaasgevind in Emden omdat dit ’n veilige hawe was vir duisende Protestantse vlugtelinge uit verskeie Europese lande, en die besluite wat daar geneem is, het ’n blywende invloed gehad op die ontwikkeling van gereformeerde kerke, insluitend dié in Suid-Afrika.”

LEES OOK: Luister | ‘My eie ma het my nie herken nie … ’ – Johnny Davids vertel van sy genesingspad

Siedaar. 138 woorde. Met dit gesê, laat ek tog iets meer vlees-en-bloed oor die referaat byvoeg. Janse van Rensburg het ’n aangename energie, haar akademiese kollegas noem haar Anto. Sy het tydens die voordrag van haar bydrae haarself onderbreek met dié opmerking: “By Emden Sinode is 53 sinodebesluite geneem … En ons gaan nou in diepte na elk kyk …” Dit was – natuurlik – ’n grap en is begroet deur ’n paar huiwerige glimlagte in die gehoor wat bestaan het uit die organiseerders, die deelnemers en enkele kerkreg-fundis. Ek kan ook noem dat die werker met die grinder by die reuse-bouperseel langs die kerkgebou weer in alle erns en met hengse geraas ná ’n kort verposing ingeval het met sy dagtaak terwyl Anto op ’n soel Novembermiddag in Waterkloofpark vir ons Emden unpack het.

Liefde vir die ware werk

Die bogenoemde soort beriggewingsalliansies tussen KI en ’n mens is natuurlik ons digitale hede en ons globale voorland: KI-masjiene wat eenvoudig met hulle meerdere maagsure vinniger kan verteer aan als wat ons deesdae Inhoud doop, is reeds ons broodnodige bondgenote. Vir almal van joernalis tot teoloog. Trouens, elkeen wat ’n sin begin in hierdie era van auto-completion staan oënskynlik voor die kruispad: Raak betrokke of raak agter.

Wie gooi wel wal? Hier ’n tegnofoob, daar ’n digter. Só skryf Joseph Fasano in die gedig For a Student Who Used AI to Write a Paper

Now I let it fall back
in the grasses.
I hear you. I know
this life is hard now.
I know your days are precious
on this earth.
But what are you trying
to be free of?
The living? The miraculous
task of it?
Love is for the ones who love the work.

Maar wat ís die “werk” waarvan Fasano praat in kerklike konteks? Oplet na die comic timing van sprekers by referate en sinodes? Afleidings maak uit liggaamstaal van gehore, uitkyk vir ironie en afwesige datapunte om ’n stok in die wiel van Groot Data te steek? Dalk is dit dit.

Of dalk is die werk om juis die energie te volg, saam met die tegnologiese strome van die dag te swem. Om die sintuiglike waarnemingsvermoë en die inhoudelike opsommingsvermoë op ’n tweede wittebrood te stuur. En Claude kom saam! Inkorporeer KI gewoon in jou werkvloei, sê elke skrander mediabaas. Span dit in! Voer dit vet met jou beste sinne en staaltjies.

Maar nie net digters sluk swaar aan KI nie. Digitale bediening van woord en sakrament is ’n oksimoron en non-starter, merk dr Dieter de Bruin op tydens die einste konferensie in Pretoria. De Bruin is ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria en die tema van sy bydrae was “(Parogiale) Kerkverband se verlede, hede en toekoms: Praktiese (Teologiese) oorwegings vir die NG Kerk in Suid-Afrika.” Sy opmerking oor die perke van die digitale was tydens vraetyd ná sy bydrae: “Ons is mense van vlees en bloed. Jy kan nie mense oor die internet voer en bad nie, en dis wat ons mense maak,” het De Bruin gesê. Is dít dalk die werk?

Alles verander, voortdurend

Voor ’n mens te uniek met die KI-uitdaging voel, kan ’n mens terugspoel na nog ’n jaar van groot kentering: 1994. Wyle prof Johan Heyns is aan die woord. Die wese van alle dinge is verandering. Só haal Heyns die filosoof Heraklitus uit die 5de eeu vC aan. Maar daar is perke aan die mens se vermoë om verandering te verwerk en die ewige vloeibaarheid van alles tas boonop die geloofwaardigheid van die kerk as oord van onveranderlike waarhede aan, het Heyns tydens die Algemene Sinodesitting van Oktober daardie eerste demokratiese verkiesingjaar verduidelik. Heyns se basiese vertrekpunt was dit: Wat die kerk reeds weet, weet die wêreld nog nie. Wat hy daarmee bedoel het, is wat die kerk alreeds gedoen het, moet die wêreld nog doen. Naamlik om Christus as Hoof te aanvaar, het die teoloog aangevoer.

LEES OOK: Nadia Marais | Wat beteken dit tog om gelukkig te wees?

Maar wat kan Heyns ons oor Claude en ChatGPT leer? Heyns het eerstens verandering verwelkom. “Wie hom teen verandering as sodanig verset en fanatiek aan die tradisionele vasklou asof daar die ware en goeie gevind word, dwaal.” As teenwig merk Heyns op dat dit eweneens “dwaling” is om te glo dat niks in die verlede goed was nie. Derdens merk hy op dat die verandering van strukture nie noodwendig die verandering van die mens teweegbring nie. Sy byna pastorale boodskap aan afgevaardigdes by daardie kerkvergadering 30 jaar gelede was: “Verandering hoef nie angs en onsekerheid te skep nie. Ewemin hoef dit tot identiteitskrisisse aanleiding te gee nie,” aldus Heyns. Kortom: Bly kalm. Dalk is dít die werk?

‘Ek het dit gesien’

Op een of ander punt raak die vraag nie watter waarde voeg KI tot jou werkvloei by nie, maar watter waarde voeg jy tot KI s’n by? Wát iemand sê (Emden was ’n kerklike keerpunt) gepaard met hóé hulle dit sê (beklemtoning, interaksie) was nog altyd wat ons herken as “goeie joernalistiek”. Maar met KI kom die groot kanonne uit en verdwerg vele aspekte van menslike kognitiewe vermoëns. Ons gaan stellig ons sintuie behoorlik moet skerp maak om waarde te voeg tot die werk wat hierdie “assistente” reeds alom verrig. Maar hoe? ’n Mens dink aan onderskrifte by van Goya se etse van oorloggruwels wat lui Yo lo ví (Ek het dit gesien) of No se puede mirar (’n Mens kan nie kyk nie). Die hele idee van witness. Is dít die werk? En ook wat Susan Sontag bespreek onder die konsep van die kamera as “oog van die geskiedenis”. Wat miskien vir joernaliste by uitstek voorlê: Om fyner en meer holisties waar te neem.

Wat vir dominees en predikers voorlê, is enersyds opwindend en andersyds meer ingewikkeld as vir inhoudskeppers in die breedste sin van die woord, omdat dit steeds onseker is watter blik KI op die verstaan van die Bybel sal rig en watter impak dit op preekmaak sal hê. Reeds in 2019 skryf prof Christo van der Merwe oor tegnologie as venster op die Bybelse wêreld. Hy beklemtoon innoverende taalonderrig wat rekenaartegnologie gebruik en onder meer die kritiese beoordeling van die Bybel in Afrikaans vergemaklik in die lig van die brontale. Is dít die werk?

Blik na die Bybel

Tydens ’n wydlopende gesprek oor allerlei kerksake by die Algemene Sinode Moderamenvergadering in Oktober vanjaar merk prof Marius Nel in ’n stadium op: “Ek dink nie die kerk het nog nooit gedink ons het die Bybel mak gemaak en volledig probleemloos geïnterpreteer nie. Ons het nog altyd die belewenis dat dit eintlik lewensgevaarlik in ’n sekere sin is en dat jy hom nie kan domestikeer nie,” aldus Nel, ’n dosent in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch. “As jy dink ons het nou ’n lang en moeilike gesprek en ons is nou volledig in lyn met die Bybel … Dit werk nie so nie. Ons worstel nog steeds met die Woord van God soos hy in ons tyd na ons toe kom.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top