Met lente in die lug was daar ’n gonswoord te hoor in ’n mikro-distrik van Pretoria wat ’n mens die Excelsus-driehoek sou kon doop: Van kerkgebou met reuse-paletkruis teen die muur, tot eetsaal met vingerhappies, tot ’n Tuks-lesinglokaal sonder vensters. Die woord was leerbaarheid. Wat was die leerplan? Le Roux Schoeman doen verslag.
Het jou selfvertroue al ooit vinniger as jou vakkundigheid gegroei?
Dalk het jy gedink jy weet hoe om ’n projek saam met vennote in die NRO-sektor aan te pak, maar jou misgis. Dalk het jy gedink jy kan ’n lojale gehoor op ’n videoplatform bou, maar die klieks wil nie kom nie. Dalk het jy gedink jy sou, as iemand jou op straat voorkeer, meer kon sê oor die regsversamelings in die Pentateug, maar nou haak jy skielik vas. Dalk het jy gedink jy weet – ballpark – hoeveel teologiestudente aan die Universiteit van Pretoria inskakel in by kerke waarvan jy die name ken, maar aikona. Dalk het jy gedink jy weet wat Russel Botman met swart geheue en wit geheue bedoel het en watter implikasies dit vir kerkeenheid het, maar nou het daai kennis vervaag. Dalk het jy gedink jy weet min of meer hoe ’n dominee se afskeidspraatjie ná vier dekades sou klink, maar toe hoor jy iets nuuts.
Of dalk was jy oortuig jou godsdiensuitbranding is voltrek en dan eggo iemand dit op ’n wyse wat jou twyfel wonderbaarlik destabiliseer …
Enige kombinasie van die bogenoemde gewaarwordings was moontlik vir die afgevaardigde by vanjaar se Lentekonferensie, wat van 17-19 September in Pretoria aangebied is. En só ’n soort besef sou jou die kans bied om jou so ’n bietjie los te wikkel uit ongekwalifiseerde sekerheid.
Egtheid en ego
Die 19de Lentekonferensie het meer as 120 mense by NG Universiteitsoord op die kampus van die Universiteit van Pretoria byeengebring.
Hoofsprekers soos ds Jan Lubbe en prof Reggie Nel is na die verhoog voor in die kerk genooi, asook die dosenteraad van Tukkies, afgewissel met wegbreeksessies op kampus. Korter sessies van 10 minute elk het temas soos digitale storievertelling (ds Dewald Niemandt), jeugbediening (ds Sanré Benade) en die “fyn lyn tussen egtheid en ego” (dr Pieter Visser) ingesluit.
Diens in vennootskap
Dr Nioma Venter het ’n reeks interaktiewe lesings oor vennootskappe gelei (“interafhanklike bedieningsgeleenthede”). Sy glo een van die unieke sterkpunte van die kerk is opgesluit in drie C’s: Connect, communicate, convene. Waar ’n gemeente in vennootskap met ander rolspelers tree, moet die fokus lui: “Ons wil sorg dat hierdie groep goed connected is, gereeld convene en goed kommunikeer.”
Venter, die nuwe algemene sekretaris van die NG Kerk, het in 2023 haar doktorale studies met ’n tesis oor samewerking tussen die kerk en maatskaplike diensorganisasies voltooi. Opvallend in haar lesings was die uiteenlopende aard van stories wat dominees in die gehoor vertel het oor terugslae en insigte wat elk – jonk en oud – in hulle gemeentes opgedoen het.
LEES OOK: ’n Konferensieganger deel haar belewenis: die veerkragtigheid van Lentekonferensie 2024
Venter, wat jarelank as maatskaplike werker gewerk het, vra of gemeentes aldag die begrotings ken van hulle plaaslike munisipaliteit se ontwikkelingsplan en begelei deur die loop van haar aanbieding ander in die “dans” tussen teologie, teorie en praktyk.
Ook geloofsoefeninge
Prof Sias Meyer, in ’n vensterlose nagraadse lesinglokaal laat op ’n pragtige Pretoria-lentemiddag, het kongresgangers getrakteer met die vraag of daar ’n verband is tussen wat vandag menseregte genoem word en die Ou Testament? Terwyl ’n bydrae deur die vryskutspiritualiteitswerker dr Annemarie Paulin-Campbell weer gekyk het na “geloofsoefeninge” en iets van die spektrum van sprekers getoon het met die vraag: What can Ignatius offer Reformed ministers?
Dit is net enkele van die sprekers en die WhatsApp-groepie waarmee organiseerders die opwip-leergemeenskap help bestuur het, het naderhand begin spinnerak tot ’n mini-matriks van ’n ooglopende teennarratief tot dié van ’n kibbelende kerk, ’n “one trick pony” met enkele debatspunte.
Om meer te leer
Excelsus is ’n “sentrum vir bedieningsontwikkeling”. Hulle bied dié jaarlikse konferensie in vennootskap met die NG Kerk en Hervormde Kerk aan en die nuwe hoof van Excelsus, dr Tom Smith, het vroeg-vroeg prof Wim Dreyer as volg aangehaal om die klem op leerbaarheid te belig: “Dit is verder opvallend dat Calvyn ’n baie spesifieke inhoud aan bekering gee, naamlik dat dit ’n bekering tot leerbaarheid is,” aldus Dreyer.
Smith het verduidelik dat “selfs in die besigheidswêreld” organisasies deesdae ten diepste “leerorganisasies” wil wees. Dit is Smith se eerste jaar as organiseerder, met sy voorganger, dr André Bartlett, wat aftree en na die Wes-Kaap verhuis. Daar was wel, tydens dieselfde week, ’n kleiner afskeidsgeleentheid vir Bartlett, wat Smith en ander kollegas bygewoon het.
Gehoorsaam aan waarheid
“My vrou is sielkundige en hullle kan net hulle professionele status behou as hulle aanhou om hulle vaardighede en dit wat hulle saam leer in te oefen,” het Smith gesê in sy verwelkoming in die kerk in Duxburystraat. “Ons is dissipels, wat beteken leerder”.
Smith, wat mildelik uit sy persoonlike leergierigheid geput het en die geleentheid vanjaar energiek gelei het, het gesê: “Elkeen is hier omdat jy ook hierdie bekering tot leerbaarheid onwikkel. Hy het Parker Palmer aangehaal: “To teach is to create a space in which obedience to truth is practiced.” En benewens die voorbrand, hoë-vlak-omraming en gewoon ’n bietjie hype wat ’n mens van ’n organiseerder – veral ’n nuwe besem op dag 1 van ’n driedagkonferensie – kan verwag, het Smith ook ’n kreatiewe verwerking van ’n Bybelteks betrek wat oor vermoeidheid en uitbranding handel. Ons keer later daarna terug.
‘Ons spring nie van dakke af nie’
In die oop sessie van die eerste dag was ds Jan Lubbe aan die woord. Die moderator van die Algmene Sinode het sy liefde vir ’n wye perspektief, die kerkgeskiedenis en waardering vir woordspel na vore gebring in ’n bydrae getiteld “Veerlig én vrekswaar: Die NG Kerk in haar wese en roeping, Anno Domini 2024”.
Lubbe het vier “bakens beskryf”, 1994, 1974, 1924, 1824. Elk ’n jaar waarin daar sinodes was, en sodoende ’n soort “voëlvlug” gebied van die afgelope 200 jaar.
“Ons het, of ons daarvan hou of nie, ’n ereskuld in hierdie land te betaal. Dit is meer as om net te sê, jammer. Ons het ’n ereskuld te betaal waarop ons nie ons rug kan draai nie. Ons sal ook nie ons rug daarop kan draai deur weg te tree van hierdie kerk nie. Ons is verantwoord in hierdie land. En, tweedens, aan Hom wat ons hier geplaas het. God roep ons om nederig na sy stem te luister,” het Lubbe in sy bydrae gesê, waarna daar vraetyd was.
Lubbe het sy “leermeester”, Henri Nouwen, betrek, wat “die versoeking van Jesus in die woestyn (gevat het) en sê, kyk hierna, jy kan nie klippe in brood verander nie. Jy kan nie van die tempel se dak afspring nie.” Lubbe se punt: “Ons is die geliefdes van God, nie wonderwerkdoeners wat klippe in brood verander en van tempels se dakke afspring nie. En ons moet veral nie doen wat ons in die verlede so dikwels gedoen het, om voor die mag van hierdie wêreld te buig (nie).”
Vele denominasies meld aan vir studies
Ook aan die woord was diegene wat as skakel dien tussen kerk en teologiese fakulteit. Lede van die dosenteraad het in ’n uitgebreide sessie beskryf hoe dié verhouding deur die jare verander het en tans lyk. “Hou in gedagte,” het prof Danie Veldsman oor die gemiddelde eerstejaarsklas gesê: “In daai 160 studente voor jou, is daar meer as 30 verskillende denominasies.”
Hy het die “ongelooflik besondere dinamika” van eietydse teologiese studie verduidelik aan toehoorders wat dit dalk met die monotoon-bedeling van weleer wil vergelyk. Veldsman het die frase “konstruktiewe spanning” konstruktief ingespan voor prof Jaco Beyers, die adjunk-dekaan, verdere inligting verskaf het oor die studentesamestelling van hierdie fakulteit, wat in 1917 begin is en tans vier formele vennote het, naamlik die Hervormde Kerk, NG Kerk, Presbiteriaanse Kerk en die United Congregationalist Church of Southern Africa (met lidmaattal van oor die 2 miljoen).
By die UP se Fakulteit vir Teologie en Religie is daar tans 350 voorgraadse studente geregistreer, aldus Beyers. Die bogenoemde vier vennote se studente maak in totaal sowat 40 van hierdie aantal uit. Die gros het ander of geen kerklike affiliasie nie. Of affiliasie wat Beyers bestempel as gevalle waar vermenging van Afrikatradisies en -kultuur en die Christendom plaasvind.
Die paneel het ook aan die hand van infografika verduidelik hoe voorbereiding vir die amp van predikant parallel tot akademiese opleiding oor ’n tydperk van ses jaar plaasvind (sien onder).
Bybelse wette oor asielsoekers
Vir dominees wat hulle Bybelse Hebreeus wou afstof, het prof Sias Meyer nie teleurgestel nie. Hy spesialiseer in die Pentateug en veral Levitikus. Hy het meer vertel oor ten minste twee benaderings tot “regsversamelings” in die Ou Testament. “Die grootste ding van die Pentateug is dat al die regsversamelings in die Ou Nabye Ooste deur konings uitgevaardig word. Die Pentateug breek daarmee en sê, “nee”. Daar het die Here dit vir hierdie ou in die woestyn gegee, Moses, en daar is nie ’n koning betrokke nie,” verduidelik Meyer. Sy lesing het gaan draai by “een van die radikaalste tekste wat ’n mens in Deuteronomium kry, en waar ander vakkundiges glo die wortels van moderne asielwetgewing lê.
André Bartlett groet
Op die aand van die eerste dag was dit tyd vir ’n kleiner groepie kerklui om die Excelsus-driehoek te verlaat en te gaan afskeid neem van André Bartlett, ’n voormalige voorsitter van die Hoëveld-sinode en skrywer van boeke soos Weerlose weerstand – Die gaydebat in die NG Kerk (2017).
Dr James Kirkpatrick het in ’n afskeidsboodskap aan sy goeie vriend “terug gegryp” na vier begrippe in Psalm 85:11, vertaal as kindness (of deernis), integriteit, geregtigheid en sjaloom as helende vrede.
“Ons sal jou onthou as een van die predikante in die kerk wat helder en duidelik kon standpunt inneem, maar wat oorredend was, omdat dit kind was. Ons sê vir jou dankie vir daai kindness,” het Kirkpatrick tydens die funksie by die Algemene Sinodekantoor gesê. Hy het bygevoeg dat Bartlett ’n passie vir gemarginaliseerdes openbaar. “Ek wil hê jy moet dit van ons hoor, dat jy hierdie gewigtige sake wat op ons hart móét lê vir ons met jou lewe geïllustreer het. Ons sal jou altyd dankbaar wees daarvoor.”
Kerk en samelewing
Bartlett het sy jare in die bediening as ’n lus maar ook ’n las beskryf en kollegas bedank. Die moeilikheid was ook soms sy eie skuld, het Bartlett toegegee.
“Dit was moeilike jare in die kerk gewees … Ek het Maandag 14 Oktober 1986 my beroep gekry; daardie oggend het die algemene sinode gekonstitueer, Johan Heyns is daardie oggend as moderator verkies. Later daai sinode is Kerk en samelewing aanvaar. Ek het in die kerk gestap met die storm van Kerk en samelewing … daarna was daar al die ander strominge wat gevolg het,” het Bartlett vertel oor die NG Kerk se langsame afskeid van apartheid en die debat wat sou volg oor selfdegeslagverhoudings asook kerkeenheid.
Wit en swart geheue
Die volgende oggend, terug op kampus, was prof Reggie Nel, aan die woord in die kerk. Die dekaan van die Fakulteit Teologie by Universiteit Stellenbosch is genooi om meer te vertel oor vordering by die verenigende Stellenbosch Seminarium se doel om die geskiedenis van verdeling in kerk en opleiding te probeer oorkom.
Met humor en ’n breë kontekstuele aanslag het Nel aanknoping gevind by die teoloog wyle prof Russel Botman wat in ’n stadium geskryf het oor “ons twee geheues”, onderskeidelik wit en swart. “Dit is ’n kru onderskeiding, maar, for the moment, kom ons hou daaraan vas,” het Nel gesê. Waar die wit geheue dalk dinge soos die teologiese regverdiging van apartheid, die debat tussen Barthiane (dialektiese teologie) en Kuyperiane (Neo-Calvinisme) ens bevat, bevat die swart geheue stellig weer goed soos sendingteologie teenoor kontekstuele teologie, Belhar en hofsake rondom kerkeenheid, het Nel kortliks verduidelik.
“As ons nie hierdie twee geheues, memories, versoen nie, sal die uiterlike dinge wat ons doen altyd kunsmatig en oppervlakkig wees. Dit is in onse memories ingebak,” het Nel gesê. “Dit is belangrik (om te weet) wat is in ons geheues wat dalk vir ons terughou.”
Waar ware rus is
Die selfondersoekende toon van Nel se bydrae het eggos gedra van Tom Smith se woorde op die eerste dag, waar Smith naas reëlings en rigtinggewende opmerkings ’n aanhaling gelees het deur die teoloog Eugene Peterson, wat Matteus 11:28-30 só (her)vertolk:
28: “Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest.
29: Walk with me and work with me – watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you.
30: Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.
Smith se woorde hierna was: Here, help my onthou: Sag is u juk, lig is u las.
- Lentekonferensie 2025 sal van 16-18 September plaasvind.
- Lees meer oor vanjaar se sprekers by https://lentekonferensie.co.za/