Hoekom kom ek jaar na jaar terug na die Lentekonferensie toe? Ek het dit deur die loop van die afgelope drie dae oor en oor vir myself gevra. Die antwoorde wat by my opgekom het, was dalk voor die handliggend, maar ek wou ook weet hoekom kom ander mense terug? En hoekom het mense besluit om vir die eerste keer Lentekonferensie toe te kom? En wat doen ’n mens as jy wonder? Wel, ek hoop, jy vra.
Dalk moet ek net eers vertel van my eie ervaring, voor ek by ander mense s’n uitkom. Ek gaan al Lentekonferensie toe vandat ek ’n teologiestudent by Tukkies was. Eerste, want ek het ’n leergierige gees, en hoe meer konferensies ek kon bywoon, hoe beter.
Die Lentekonferensie was een van dié wat verniet was vir teologiestudente, of teen ’n baie goedkoop prys. En so het ek ongelooflike betekenisvolle momente beleef deur die jare. Ek het beleef dat dit wat ek in hierdie formaat leer, ek waarskynlik op geen ander plek kan leer nie, want daar is heeltyd gesprek wat tussendeur plaasvind. Maar daar was die wonderlike geleentheid tussen sessies om meer te leer van predikante in die bediening, en van ons dosente, wat ook op verskillende maniere betrokke is by die kerk en om te deel in hulle stories en belewenisse. En dit was nog waar van elke Lentekonferensie sover. Elke een uniek, met unieke aanbiedings en werkswinkels wat my wêreld net so ’n bietjie verbreed.
So met my foon in die hand is ek die spreekwoordelike strate in, om te hoor of my belewenis gedeel word, maar ook, watter ander belewenisse raakgelééf word by die Lentekonferensie.
Daar was die algemene gevoel dat dit wat die konferensie spesiaal maak, die konneksies is. Ek kan my klasmaat drie of vier of 10 jaar laas gesien het, maar dit is kosbaar om weer daardie konneksie op te tel en mekaar se stories te hoor. Boonop word nuwe verhoudings en konneksies ook gevorm. Ds Vanessa Bouwer het genoem hoe toeganklik dit is om dominees, lektore, rektore, moderators ens wat ons altyd net sien in die nuus of op persverklarings, raak te loop en te ontmoet en diep gesprekke mee te kan hê. Ds Alida du Plessis van Elspark-gemeente het dadelik die praktiese implikasies raakgesien wat hierdie konneksies kan hê. Sy wat alleen predikant is, en nuut in die gemeente, kon netwerke bou met persone wat reeds bestaande projekte het, waarby sy en hulle gemeente kan inskakel. Die netwerke bou en die konneksies wat gekoester word hier by die lentekonferensie, is van so ’n aard dat dit een van die min plekke is waar baie van die kursusgangers gevoel het: Hier behoort ek, hier word ek raakgesien. Dit was my belewenis ook: Ek word onthou, ek word gesien en gehoor en met deernis hanteer, selfs al verskil ek met iemand.
Twee derdejaar teologiestudente, Monique en Karel, wat tydens die lentekonferensie werksaam was, het gesê dit is een van die hoogtepunte van hulle jaar, want hulle kry die geleentheid om al van vroeg in hulle bediening toekomstige kollegas te leer ken en deel te word van hierdie groeiende leergemeenskap.
En dit is absoluut wat dit is, ’n leergemeenskap. Die verhoudings wat gebou word is spesiaal. Maar daar is ook die komponent om ’n gemeenskap te vorm wat lewenslange dissipels, oftewel leerders, sal wees. Hierdie jaar se konferensietema was: Lig soos ’n veer op die Asem van God … om te leef in die kragveld van die Gees. Die meeste sessies wat konferensiegangers kon bywoon, het op ’n manier aangehaak by hierdie breër tema. En alhoewel nie almal aanklank gevind het by die onderskeie sessies nie, was daar tog elke keer iets wat die mense geprikkel het, iets wat gemaak het dat hulle verder sal lees, en verder sal gesels en wonder oor die onderwerp. Ds Jeanine Stoffberg het genoem dat die Lentekonferensie ons ook daaraan herinner dat ons in ’n professionele beroep staan, en in gesprek moet bly met die nuutste teologiese navorsing en moet aanhou leer, soos enige ander professionele beroep.
Hierdie jaar was ook die eerste jaar waar Excelsus ’n sessie gehad het in die formaat van kort “Ted talks”. Vyf sprekers, elkeen uit ’n bepaalde konteks, wat hulle belewenisse en aktuele wenke gedeel het met predikante en bedienaars, wat toegepas kan word in vele kontekste. Hierdie sessie is baie positief beleef deur die meeste bywoners en het die tonge aan die gons gehad. Dit was ook die eerste jaar waar die konferensiegangers opmerklik jonger was as gewoonlik. Die veerkragtigheid van die Lentekonferensie lê dalk daarin dat dit aanhou relevant bly in ’n veranderende konteks, en dat nuwe mense welkom voel, ten spyte daarvan dat bestaande konneksies reeds gevorm is.
So hoekom is die Lentekonferensie spesiaal en hoekom kom ek heeltyd terug hierheen? Konneksie en leergierigheid. En dit lyk of ek nie alleen is nie.
Ds Hendrien van Vliet is predikant by NG Kerk Kempton-Hoogland.