Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Nadia Marais | Wat beteken dit tog om gelukkig te wees?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


In die Jefferson Memorial in Washington word die Verklaring van Onafhanklikheid, waarvan Thomas Jefferson – die derde president van Amerika – ’n medeskrywer was, gedeeltelik aangehaal. Drie onvervreembare menseregte waarop die verklaring geskoei word sluit in die reg tot lewe, die reg tot vryheid, en die reg op die strewe na geluk. Maar wat beteken dit tog om gelukkig te wees?

 

Dit is ’n vraag wat die vierde eeuse kerkvader Augustinus op sy twee en dertigste verjaarsdag sou besig hou. In die tweede van sy sogenaamde Cassiciacum Dialoë – geskryf terwyl hy ’n katkisant was in die Katolieke Kerk, ’n paar maande voordat hy in Milaan gedoop sou word deur Biskop Ambrosius – staan die vraag na die gelukkige lewe, de beata vita, voorop. Hy nooi sy familie – waaronder sy ma Monica, sy seun Adeodatus, en sy broer Navigius – en enkele studente uit na ’n gesprek oor geluk wat oor drie dae strek.

LEES OOK: Wat kan 175 jaar ons oor Kerkbode en die NG Kerk leer?

In hierdie dialoog is dit opvallend, skryf die Amerikaanse Katolieke teoloog Michael Foley, dat Augustinus die Latynse woord beatus (wat ook as ‘blessedness’ vertaal kan word) eerder as felix (wat ook as ‘luck’ vertaal kan word) as geluksbegrip gebruik. Dit weerspieël waarskynlik ’n ouer tendens onder vroeë Christelike skrywers, verduidelik Foley, om beatus bo felix te verkies. So kom beatus byvoorbeeld 112 keer voor in die Vulgaat (die Latynse vertaling van die Bybel), terwyl felix slegs vyf keer gebruik word.

Hierdie fyn maar duidelike retoriese onderskeid verdwyn egter ongelukkig(!) in Afrikaans. Die Amerikaanse geskiedkundige Darrin McMahon verduidelik – in sy Happiness (2006) – dat, binne die Indo-Europese taalfamilies, “happiness has deep roots in the soil of chance”. Dit sluit in die Engelse ‘happiness’ (gegrond in die Ou Noorse woord happ, oftewel ‘luck’), die Franse bonheur (etimologies veranker in die woord heur, of ‘luck’), en die Duitse Glück (wat sowel ‘happiness’ as ‘luck’ beteken). Die Afrikaanse woord ‘geluk’ is, soos die Duits, ’n goeie voorbeeld van hoe verstrengel hierdie begrippe met mekaar is. In Afrikaans is dit amper onmoontlik om – soos Augustinus – ’n helder retoriese onderskeid tussen ‘happiness’ en ‘luck’ te tref. Geluk is sowel ‘luck’ as ‘happiness’, in Afrikaans.

JAN LUBBE| Uit my Kerkdagboek: Moet die dag van klein dinge nie geringskat 

Dit is juis die jong Augustinus se dilemma: Hoe onderskei ons tussen die ‘whims of fortune’ en ’n meer standvastige, deurwinterde, volhoubare geluksbegrip? Agter die keuse van woorde vir geluk lê ’n dieper uitdaging: waarin ons geluk veranker sou moes wees sodat dit nie afhanklik is van dit wat met ons gebeur of nie gebeur nie. Welvaart en gesondheid is nie goeie bronne van geluk nie, aangesien dit weerloos en verganklik is – argumenteer Augustinus en sy gaste. Aangesien hierdie goedere is wat verloor kan word, en aangesien iemand wat ryk of gesond is dus ook angstig sou wees om dit te verloor, kan die persoon wat hieroor beskik onmoontlik as gelukkig beskou word.

Hier gebruik Augustinus die voorbeeld van ’n bekende sakeman van sy tyd, Sergius Orata, wat (skryf hy) baie ryk was en wat geen tekort gehad het aan plesier, invloed, of goeie gesondheid nie. Tog kon Orata nie gelukkig wees nie, argumenteer Augustinus, want hoewel Orata aan enige van sy behoeftes sou kon voldoen, was hy ellendig omdat hy bang was dat hy alles (welvaart, mag, gesondheid) ook weer kon verloor. Vrees en geluk is egter wedersyds eksklusief, skryf Augustinus. Indien ons welwese veranker word in wat ons besit – hetsy rykdom of invloed of gesondheid – is ons nie werklik gelukkig nie.

Luister | ‘My eie ma het my nie herken nie … ’ – Johnny Davids vertel van sy genesingspad

Fortuna is wreed, want dit bied geen waarborge aan enigeen nie. Die feit dat ons in een familie gebore word, en nie ’n ander nie; in een land of stad of dorp, en nie ’n ander nie; dat ons gesond en relatief ongeskonde grootword of oudword (of nie) – dit alles is meerendeels buite ons beheer. Die probleem daarmee dat ons ons geluk veranker in wat Augustinus noem “the gifts of fortune” is dat ons geluk nooit gewaarborg en daarom nooit regtig moontlik is nie.

Daarom is dit nodig om ons geluk buite onsself te vind. Vir Augustinus is ons geluk slegs te vinde in God, wat ons geluk en welwese buite onsself veranker en daarmee veilig bewaar van enigiets wat met ons mag gebeur (of nie gebeur nie). Die bron van ware geluk is, vir Augustinus, om God te hê en deur God gehê te word.

In die Ou Afrikaanse Bybelvertaling word die ryk begrip ‘welgeluksalig’ gebruik. Dit is ’n kombinasie van drie (uiteenlopende) terme – ‘wel’, ‘geluk’, en ‘salig’ – dalk juis in reaksie op die dilemma waarmee Augustinus en gelowiges oor die eeue heen sou worstel. Saligheid en geluk en welwese – die talle verwysings na ‘welgeluksaligheid’ (in die Psalms, byvoorbeeld) herinner ons daaraan dat hierdie begrippe binne ’n Christelike geloofsgrammatika bymekaar hoort.

Mag ons in hierdie Adventstyd welgeluksalig wees, maar ook so leef dat ander mense welgeluksaligheid kan beleef.

Welgeluksalig is diegene wat God het en wat deur God gehê word.


Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen gekoppel.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top