Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Moet die dag van klein dinge nie geringskat 


Die jaar 2024 kom nou tot ’n einde. Asof onverwags, ons was nog só snel op weg deur die weke daarvan. Nou’s dit ’n jaarverslag wat moet klaar, jaarvergaderings en jaareindfunksies. Kinders klaar met skool, onderwysers met merkwerk. ’n Afsluiting by die Bybelstudie en laaste biduur by die Ouetehuis. Ry vir laaste afsprake, ’n siekebesoek, troos, twee troues. Tussendeur die gedagtes oor dié jaar. ’n Balansstaat op te maak. ’n Skoon lessenaar. Sondae word rustiger en oop, soos wat dit dalk in die begin bedoel was, ook vir dominees. Ewigheidsondag. Advent het aangekom. Ons sing, “Die regte tyd het aangebreek, die tyd deur God bestem” (Lied 341). ‘n Somerkersfees word voorspel. Ons verlang na ’n “Stille Nag” met “Lig uit Lig” en vrede van hier tot anderkant Gaza. Oujaarsaand en die name van geliefdes – waar is alles heen?

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: ’n Kerk bewustelik op weg …

November is in die NG Kerk ook die maand van kuratoriumvergaderings en die legitimasie van studente vir die bediening van die Woord, sakramente en gebede. Vanjaar weer, in Stellenbosch en Wellington, Pretoria en Bloemfontein, en Windhoek. Besluite oor beleid en begroting. Ons evalueer en vergelyk kerklike kurrikula, leer by mekaar. Finale ontmoeting met die kandidate – sommige jonk, ander ouer. In hul roepingsverhale hoor jy van ’n Bybelteks in hul belydenisjaar of ’n eerlike gesprek met ’n gemeentedominee later, van twyfel én volharding. En wanneer hulle dan voor die kansel staan en voor familie en vriende, dosente en mentors “ja” antwoord op die legitimasieverklaring, sien jy blydskap én trane in hul oë. Opreg voor Gód. Elke keer vervul dit mens met dankbaarheid: God is getrou, God roep, “Hy wat ’n goeie werk in julle begin het en dit sal voltooi op die dag van Christus Jesus” (Filippense 1:6). Hoor ons in die volgende dae van hulle, die telefoon het gelui, die beroep het gekom…

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my kerkdagboek: ‘Ons het nie ’n kerk nie, Oom’

Want – dit was vanjaar weer so – daar emeriteer dominees. By ’n laaste moderamenvergadering hoor ons dat in die volgende sewe jaar, 25% van die Vrystaatse dominees aftree-ouderdom bereik. In die Noord-Kaap en Namibië is daar ernstige gesprekke aan die gang oor daardie 65- of 70 jaar-merk. Waarvandaan sal daar vir ons hulp kom? Ons kry nie aansoeke vir gemeentes op daardie vergeleë vlaktes nie. Die antwoord is nie kortkursusse om gou-gou helpers die veld in te stuur nie; ons tyd en omstandighede vra dominees – teoloë – wat fyn kan onderskei, diep kan lees, lank kan aanhou, wag op die regte weg, voorgaan, saamneem, moedinpraat. Nie noodwendig een in elke dorpie nie, maar daar is kundigheid nodig, naby. Soos die tyd toe dié wat nou emeriteer, gelegitimeer is, ‘n veertig jaar gelede, ’n gebukkende tyd. Struggle-jare, “grensoorlog”, moeisame oorgang na ’n onsekere demokrasie. Drie aande in November, het ek na hul afskeidswoorde gesit en luister. Hul onthou van hoe dit was toe hulle in die 1980’s vol idealisme begin het. Hoe hulle van gemeente na gemeente verskuif het, of dosent geword het. Hul lief en leed as dorpsdominees, hul rol in groter kerkvergaderings, hul navorsing in boeke gepubliseer of in die Kerkorde opgeneem. Jy hoor hoe hy sy lewensmaat bedank: “Dankie dat jy by my jy gebly het.” En sy: “Dankie dat jy wanneer die dominees so stry, my in die kerk laat bly glo het.”

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my kerkdagboek: Te midde van vinnige nuus, terug na die bronne (Ad fontes)

Wat beteken die woord “emeriteer”? “Demissie”, soos wat ’n dominee ontvang wanneer hy of sy na ’n nuwe gemeente vertrek, beteken die werk wat hier gegee is, is klaar; die opdrag volvoer, die juk kan áf, uitspan hier en aanbeweeg. Om te “emeriteer”, sê meer. Dit kom van die Latyn “ex” (“uit”) en “mereo” (“waardig verdien”). Aanvanklik was dit ’n woord wat vir soldate gebruik is, vir oudstryders en veterane, hulle wat die geveg oorleef het en veilig tuiskom, die oorwinning is behaal. Letterlik: om jou uitdienstreding te verwerf, verdienstelik, “met meriete uit te gaan”. Vandaar dat ons so-iemand met respek “emeritus” noem. In die woorde van Jesus in daardie gelykenis oor die talente, die man wat van sy reis terugkeer en van elke slaaf hoor wat hul met die vyf- of twee- of een talent gedoen het… en dan vir twee sê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, gaan nou in en deel in jou eienaar se vreugde” (Matteus 25:21). Eienaar, met ’n hoofletter, eintlik. Watter groter vreugde as dít? Dat ek mag weet, as gelegitimeerde, as VDM, ook ék, die onwaardige, behóórt. En aan die einde wanneer die werk klaar is, mag hoor: “mooi so”, “waardig verwerf”, “emeritus”, genadiglik. Vanjaar by die legitimasieplegtigheid, het ek dit gesit en dink: eintlik behoort elke gelegitimeerde ‘n ou dominee se emeritering by te woon. Sy of haar hartseer én sy of haar dankbaarheid te sien. Kyk, luister, leer – dít is hoe God getrou bly en jou getrou aan jou roeping hou, jou bedieningsjare deur heen. Hý wat dit wat Hy begin het, voltooi. Hý is die Een wat legitimasie en emeritaat aaneenvleg.

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my kerkdagboek: ’n Briefie om te gedenk …

Terug by Anno Domini 2024, die jaar van ons Heer en ook van ons. Sou ons dit nou ook van dié jaar kan sê: “ex merere”? Met waardigheid verdien om nou te mag uitloop? Die einde lê inderdaad in die begin, soos emeritaat ook in legitimasie. Hoe ek die jaar ingegaan het, selfs dit waarvan ek nie bewus was, hét ’n bepalende invloed op hoe en waar en met wie ons nou die jaar afsluit. Maar die “ex merere” het veral te make met elke dag se ingaan, deurgaan en uitgang. Dat in die bediening “die dag van klein dinge nie gering geskat” moet word nie (Sagaria 4:10). Dat gedoen is wat gedoen moes word toe die tyd daarvoor dáár was. Méér as dit alles egter, dat waar ék so baie nie kon, Gód nie versuim het nie. Dat dit juis sý verdienste is wat nou aan 2024 ‘n “ex merere” gun, rus en vrede.

 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.