Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
In die hartjie van die winter – op Woensdag, 23 Junie 1824 – word ’n eenbladsybriefie uit die “Coloniaal Kantoor” aan drie dominees in Kaapstad gestuur. In sierskrif. Lord Charles Somerset het ja gesê.
Was daardie winter ook so onstuimig soos hierdie afgelope paar weke in die geteisterde “Kaap van Goeie Hoop”? Die Kaap het destyds vreeslik deurgeloop: In Julie 1822 sink sewe skepe in Tafelbaai; swaar reënstorms verwoes 25 huise op Stellenbosch en op Somerset-Wes die kerkgebou; op plase langs die Bergrivier word wonings en landerye oorstroom. “Kaap van Storms”. Dit was inderdaad ’n gespanne tyd, twee dekades nádat die Kaap Engels geword het en onder goewerneur Charles Somerset ’n kolonie van die Britse Ryk gemaak moes word. Transformasie in taal en administrasie, skool en kerk. In die “Bovenland” en “Overberg” en aan die grense van die Kolonie, 800 kilometer verder in die omstreke van Cradock, het daar egter geruime tyd al ’n selfstandigheidsdrang onder burgers geleef. Herinneringe aan die “Patriotte” van Swellendam en Graaff-Reinet, en hulle vryheidstrewe. ’n Koerantberig daardie selfde week toe die vergadering waaroor die briefie van Junie handel, byeengekom het – in November 1824 – lui byvoorbeeld: “Veel werd er verwacht, veel gevreesd, sommigen kwamen ongevraagd met hunne raadgevingen voor den dag …”
Die ontstaan van Kerkbode
Van “koerant” gepraat. Die jaar 1824 word óók onthou vir die stryd om ’n vrye pers wat deur Thomas Pringle met die koloniale owerheid aangeknoop is. Die jaar tevore het Pringle en ’n jeugdige dominee Abraham Faure die goewerneur genader om goedkeuring te kry vir ’n maandelikse tydskrif: Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (April 1824). Dié blad sou tot in die veertigerjare verskyn en was in ’n sin ’n voorloper vir De Gereformeerde Kerkbode in 1849 – met as redakteur? Dominee Abraham Faure! Gebore Kapenaar, uit ’n Hugenote-familie, geskool in die Puriteinse Calvinisme van die London Missionary Society in Engeland en daarna teologies opgelei aan die Universiteit van Utrecht (Nederland), was Faure ook die vader van Kaapse onderwysinstellings soos die Z.A. Athenaeum (1829, die latere Universiteit van Kaapstad), die eerste Sondagskool in die Kolonie (1844) en die Theologische Seminarium op Stellenbosch (1859). ’n Vrye pers, eie skole. ’n Burgerlike samelewing was besig om te ontplooi.
En ’n vrye kerk?
Daar word aanvaar dat dit die energieke Faure was wat sy twee ouer kollegas – JC Berrangé en JH von Manger – en die vooraanstaande kerkaad van die “Kerk in de Hoofdplaats” aangepor het om kloekmoedig aan goewerneur Somerset te skryf. Ons gemeentes is van “de moederkerk afgescheiden” en in kerklike sake aan hulleself oorgelaat, terwyl al meer “andere godsdienstige gezindheden in deze Volksplanting” arriveer, het hulle pleidooi gelui. Die briefie van 24 Junie 1824 was dus sy antwoord: Toestemming is verleen dat ingevolge Artikel 46 van die heersende “Kerken-Ordre” van JA de Mist (1804), “de Leraars der Hollandsche Gereformeerde Kerk in deze Volksplanting” op die eerste Dinsdag van November daardie jaar kon byeenkom. Terloops: De Mist se “Kerken-Ordre” het in die eerste artikel aan alle “Kerk-genootschappen” wat ter bevordering van “deugd en goede zeden een Hoogst Wezen eerbiedigen”, gelyke voorregte en beskerming in die Kolonie gewaarborg. Godsdiensvryheid? Dít was die verdraagsaamheidstaal van die 18e eeuse Verligting (nié van Dordt nie, maar óók nie van die Franse Revolusie nie!). Die goewerneur moes ingelig wees oor watter “Kerk-genootschappen” waar in die Kolonie bedien en wie hulle predikante of sendelinge was, hy moes godsdiensonderrig en byeenkomste soos dié goedkeur. In sy boodskap het Somerset ook die doel van die komende vergadering vasgestel: Om die “algemene belangen der Koloniale Kerk in overweging te nemen”. Die kerkraad van Kaapstad het voortgegaan en op 5 Julie die ander dertien “Nederduitsche Christelijk Hervormde Gemeenten” in die Kolonie na ’n eerste “Algemeen Kerkvergadering” opgeroep.
1824: Lidmate was wit én bruin en swart, vryburgers én slawe …
En só het dit gekom – sit ek dié wintervakansie op ’n Suid-Vrystaatse plaas en dink toe ek ’n afskrif van die vergeelde briefie uit die “Coloniaal Kantoor” (en Kerkargief in Stellenbosch) ontsyfer – dat ons nou saam met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ’n herdenking beplan, twee eeue ná 1824. Daardie Dinsdag was daar veertien gemeentes, dertien dominees en tien ouderlinge in die konsistorie van die “Groote Kerk” teenwoordig. “Vry”, het die voorsitter gesê, én “verenigd”. Hulle lidmate was wit én bruin en swart, vryburgers én slawe. Die dominees, uit diverse teologiese agtergronde: Oud-Nederlands en Luthers, London Missionary Society en Skots-Calvinisties. ’n Dekade later is slawe in die Kaapkolonie – en die gemeentes(?) – vrygestel, een van die gebeure wat gelei het tot die migrasie van duisende lidmate uit daardie gemeentes noordwaarts, die binnelande in. Nog ’n dekade later (1843), ’n nuwe kerkordelike bestel in die Kolonie, waarvan die migrante oorkant die Vaalrivier ten alle koste vry wou bly. Só kom eers ’n Hervormde (1853) en toe ’n Gereformeerde kerkverband (1859) in die noorde tot stand. En vier dekades ná 1824 ’n hofsaak, wat die eerste veertien gemeentes nou ook “sinodaal” sou afsny van NG gemeentes in die Vrystaat en Natal. En in 1881 (eintlik sedert 1857 al, want dit het by die Nagmaalstafel begin verbrokkel), ook ’n aparte Sendingkerk! Ds Berrangé se slotwoorde in 1824 – oor “een liefelijk snoer dat allen zamen bindt” – deur kerklike stormwinde losgetorring en weggewaai …
Daarom het die Moderamen van ons Algemene Sinode (ASM) vroeër vanjaar na 1824 teruggekyk, en by “Ons Roeping” gaan neerskryf: “200+”. ’n Vrye én verenigde kerkfamilie in ’n vrye, verantwoordelike samelewing. Tyd om diep hieroor na te dink, en reg te doen.
Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en moderator van die NG Kerk.