Ons leef in ’n tyd van vinnige vals nuus waarmee mense onverhoord deur elke Jan Rap en sy Facebook-vriendekring verdoem word. Jan Lubbe bied dié remedie: Lees self die primêre bron, die amptelike besluit, die volledige verklaring …
Dit was wéér ’n Vrydagaand, in die hartjie van die strawwe winter van ’24. Wel, hier by ons. Elders was dit somer, ’n helder somersaand trouens – in Parys, Frankryk. Twee gebeure daardie 26 Julie het ek agterna opgeteken.
Self was ek by ’n konsert van Joshua na die Reën, ten bate van die Hospice hier in Bloemfontein, en kon daarom nie ’n uitnodiging na die eerste ander geleentheid aanneem nie: ’n Herdenking van die lewe van Krotoa – “Eva” in die woning van Jan en Maria van Riebeeck en só gedoop in daardie eerste Kaapse gemeente, ’n jong twaalfjarige Khoi-meisie. “Eva van die Fort de Goede Hoop”, aldus prof RM Britz in sy jongste boek oor die Kaapse kerkgeskiedenis, Die begin: God en geloof in Fort de Goede Hoop, 1652-1655.
LEES OOK: Uit my kerkdagboek: ’n Briefie om te gedenk …
Ons weet van haar só min; haar kom en gaan in die “Dagregister” van Van Riebeeck en die “Doopregister” van daardie eerste gemeente aan die voet van Tafelberg; ’n landskap waarin sy gebore en getoë is en van oorkant die baai – van Robbeneiland af – verlangend moes beskou het. Ons “ken” Krotoa méér uit Karen Press se meevoerende gedig “Krotoa’s Story” (1990), Antoinette Pienaar se gelyknamige eenvrou-stuk by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (1995), Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap (2000), Dan Sleigh se Eilande (2003) en nou ook, Dieuwke-Jean Linee se portret van ’n hartseer Krotoa wat oor haar skouer terugkyk – iets verlore – teen die oudste kerktoringmuur in Kaapstad (1704), digby haar graf, driehonderd-en-vyftig jaar ná haar sterfdag op 29 Julie 1674. Verbeelding, inbeelding, uitbeelding. Hoe ons versigtig, asof met ’n handskoen, die ou bronne in argiewe oopmaak; dagboekaantekeninge van lank gelede én dit wat diep in mondelinge oorleweringe weggelê is en legende geraak het, opdiep. Vergelyk.
LEES OOK: Uit my kerkdagboek: Met ’n psalm op God se weg
Dieselfde Vrydagaand – 26 Julie – bars daar ’n ander rumoer in die kuberruim los, hoor ek ná die tyd. Dalk selfs erger as ’n vorige keer in Parys – 10 November 1793 – toe ’n operasangeres flambojant getooi as “Godin van die Rede” in die Notre Dame Katedraal gekroon is, die euforie van die Franse Verligting ten top. Die drietal “vryheid, gelykheid en broederskap” uit die Revolusie allemanstaal; kerktorings gesloop, Sondag as heilige dag geskrap. Uitgesproke antigodsdiens. Van Katolieke monargie na gesekulariseerde republiek. In dáárdie konteks, tweehonderd-en-dertig jaar later, is daar dié Vrydagaand – ná die uitspattige opening van die Olimpiese Spele – wéér geëis dat die koppe rol, bloed vloei. Hoe kunsdirekteur Thomas Jolly ook al verduidelik dat sy inspirasie vir die openingstonele teruggaan na ’n oordadige pagane fees met Dionisus uit die Griekse mitologie en nié Da Vinci se “Laaste Avondmaal” (die muurskildery in die St Maria delle Grazie-kapel in Milaan, Italië) nie, en jammer, hy wou nie aanstoot gee nie – aan die kuberkrygers en koerantkolomniste was geen keer nie.
LEES OOK: Uit my Kerkdagboek: ‘Ek is’ en wie óns in Pinkstertyd word …
Die Maandag vra ons as ASM-dagbestuur onsself af of en hoe ons behoort te reageer. Soos wat die gesprek ontvou, besef ’n mens hoe maklik jy oningelig of oorhaastig kan reageer en of dít regtig op die lang duur die evangelie van Christus sou help? Of dit nie beter sal wees om soos die apostel Paulus in antieke Athene vol (Olimpiese) godebeelde, tereg “verontwaardig”, maar beredeneerd en met aanhalings uit die (Griekse) bronne te getuig oor dié God “deur Wie ons leef, beweeg en bestaan”; sommige hoorders by die sinagoge en op die markplein dalk selfs sou kon oortuig nie (Hand 17:16-34)?
Ons leef in ’n tyd van vinnige vals nuus waarmee mense onverhoord deur elke Jan Rap en sy Facebook-vriendekring verdoem word. Oor wat in ’n bokskryt by die Spele gebeur het, en met wie, of nie. Oor wat ’n Moeslim-prediker in een of ander oorgekoopte kerk oor die einde van die Christendom gesê het, waarookal. Oor of die mesaanvaller wat dertien kinders in Southampton verwond het, drie meisies noodlottig, ’n immigrant is of nie. Oor wat in ’n WhatsApp-groep by ’n Pretoriase dogterskool gesê is of nie. Oor “onskriftuurlike besluite van die algemene sinode” al dan nie. ’n Kommentator uit Amerika skryf onlangs in Reformed Journal oor die verwonde regteroor van oud-president Donald Trump en die afgekapte regteroor van Malgus, en daarby Jesus se woorde: “Bêre jou swaard” (Matt 26:52). Hoewel baie van ons nie ’n swaard of geweer het en hopelik nóg minder die wapen teen ’n ander sou opneem nie, sê Wesley Granberg-Michaelson dat ons álmal oor die dodelike wapen van ons tong – in ons 21ste eeuse idoom: ’n sleutelbord of selfoon – beskik; “violent speech has become, all too often, the weapon of choice” vir politici (én kerkmense). Ons noem mekaar name, demoniseer mekaar, voed valse narratiewe. Luther het gesê: ’n Leuen is soos ’n sneeubal – hoe langer jy dit rol, hoe groter word dit!
LEES OOK: Boek waarin Dana Snyman die spoor van die waarheid vat, sny diep
Hierteen is daar – benewens gebed, soos Jakobus ons vermaan – net een remedie: “Tolle! Lege!” Neem, lees! Lees in hemelsnaam nie net een vers nie, maar die hele perikoop. Lees self die primêre bron, die amptelike besluit, die volledige verklaring. Nie van hoorsê nie! Kyk die konteks en tydlyn van die bron. Sóós wat ons veronderstel is om die mees primêre Bron te lees: Gods Woord in die Skepping, die Skrif en die Saligmaker. “Want die letter maak dood” – nee wag, laat ek dit eietyds stel – die WhatsApp verwoes, “maar die Gees maak lewend” (2 Kor 3:6). Ad fontes was die leuse van die Renaissance én Reformasie; terug na die oorspronklike bronne. Dit laat ’n mens nederig. En leerbaar.
Ds Jan Lubbe is predikant in die NG Gemeente Berg-en-Dal en moderator van die Algemene Sinode.