Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Uit my kerkdagboek: Met ’n psalm op God se weg


Die afgelope maand se kerkpad – én die pad van ons land – het oor twee skofte geloop, skryf Jan Lubbe.

 

Op pad na Woensdag, 29 Mei, en toe, daarná. Kyk ’n mens terug, dan voel die pad agtertoe meestal meer bekend as die pad vorentoe. Agtertoe voel dit mos afgesluit, vorentoe oop en onbekend. Wat gebeur het, het gebeur; wat voorlê, dít sal ons nog leer. Tóg leer ons ook deur wéér ’n keer terug te kyk; te luister na hoe ánder die pad agter ons beleef het en groei ons insig saam oor wat gebeur het. Word ons bewus dat dank én verootmoediging oor die pad agter ons, gepas is en vir vorentoe, vertroue. Vertroue in God. Alles woorde uit Psalm 25, “van Dawid.”

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Jacqueline de Lange oor haar Kolkata in Pretoria

’n Maand gelede was dit Pinkster. ’n Tyd van gebed in NG Kerke; van sing, lees en luister; van sop en broodjies saans en komberse vir winterhoop saamvat kerk toe. ’n Week van afwagting: Hoe lei die Gees ons op Gód se weg? As dagbestuur van die Algemene Sinode se moderamen (ASM) het ons Psalm 25 gelees toe ons net na Pinkstersondag weer by eMseni aan die Oos-Rand vergader het. Ons het Psalm 25 óók by ’n moderamenvergadering in Bloemfontein gelees. Beide kere deel kollegas wat hulle hoor: Die “pad van die Here” is ’n pad van “troue liefde en waarheid” (vers 10); van “ontsag vir God” (vers 12).

LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van stories

Dít was ook die gees waarin veertig verteenwoordigers uit al tien NG sinodes by ’n werkswinkel oor “Ons Roeping 200+” besin het, die roepingsverklaring wat uit Algemene Sinode 2023 opgeklink het. Wéér ’n keer is Eksodus 33 gelees – die geboortegrond vir ons roeping tans, daardie gebed “Gaan voor ons uit, Here”. Vers 14 soos vertaal in The Message: “My presence will go with you. I’ll see the journey to the end” (33:14). Die Here se Woord gryp ons aan. Sý trou, sý reis met ons, met ons kerke. Twee dae lank het ons in vier fokusgroepe onder leiding van algemene sekretaris Nioma Venter gewerk rondom ál die besluite en opdragte van die Algemene Sinode: Om as gemeentes en saam met ander kerke te getuig van Christus, sy evangelie van geregtigheid en vrede (kerugma); om in gemeentes veilige, vriendelike tuistes te help skep, waar jonk en oud dissipels van Jesus kan wees (koinonia); om met gemeentes en gemeenskappe saam te werk in die verligting van nood en bediening van hoop (diakonia); om in ons geloof en aanbidding te groei, toegerus om leiding te neem in die bediening van die Woord (leitourgia). Uit hierdie fokusgroepe is die taakspanne van die Algemene Sinode saamgestel, met aanvulling uit al die sinodes, en werk hulle nou verder om ons roeping gehoorsaam aan God, te vervul.

LEES OOK | Brief: Steeds geen gesprek met Koinonia nie

My kerkpad die afgelope maand het by verskillende gemeentes gaan draai. Dankie daarvoor. Alberton-Wes, aan die begin van hulle Pinksterreeks oor die “Ek is”-woorde van Jesus. Saam met verteenwoordigers van Oostelike Sinode by vier gemeentes in Mpumalanga; by ál vier die pleidooi: “Ons is lief vir die NG Kerk, dít is wie ons is, maar ons is by ’n kruispad; ons wil graag in ’n veilige ruimte kan aanbid en ons getuienis oor Christus met vrymoedigheid in ons dorp uitdra.” By al vier kon ons opreg bid dat die Here ons op sý pad sal lei. By Hugenoot-gemeente in Bloemfontein waar ’n dominee bevestig en sy vrou as dosent in Nuwe Testament aan die gemeente verbind is, kom die boodskap uit 1 Petrus 1; oor vreemdelingskap en ons pelgrimsreis – God ís met ons op weg! En toe die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, prof Francis Petersen, sy kollega ná meer as veertig jaar in die Departement Nuwe Testament moes groet, was dít sy woorde aan prof Francois Tolmie: “We don’t know the pathway that God will create for us, but we know that He is walking with us …”

Dit is in ons persoonlike lewe waar – daar ís wendinge; dit het ek ook hierdie maand geleer. Dit is ook van ons land en ons nasie se reis waar: God voorsien ’n pad. God hét! ’n Groot voorreg was dit om daardie Woensdag as verkiesingswaarnemer van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke by twaalf stempunte in Mangaung langs te gaan en ’n gees van opwinding te beleef; gesellig in Heidedal, geduldige rye kiesers in die studentebuurte van Bloemfontein. ’n Uitslag wat ons verras het! Verligting oor verandering en nuwe hoop wat daar is; verontrusting oor polarisasie en radikale stemme wat so baie steun gekry het. Ons ís bekommerd oor KwaZulu-Natal, maar ook geïnspireer deur die boodskap wat uit daardie sinode gekom het: “In Christus, ons vreugde!” Dit was ’n voorreg om húlle sinodesitting “digitaal” te kon “besoek”. En ’n dankbare voorreg om dan telkens terug te kan keer na ’n “tuisgemeente”, Berg-en-Dal.

Nou gaan die reis vir ons land en ons kerke verder. Dit was op ons Verkiesingsdag presies negentig jaar ná die Barmen-sinode in Nazi-Duitsland vergader het – 29 en 30 Mei 1934 – met húlle getuienis dat Jesus Christus “die weg, waarheid en lewe” is. In Hóm, die Lewende, word die hunkering van Psalm 25 vervul: “Leer my, Heer, u regte weë.” Ons kan die wintervakansie ingaan met die wete en stil vertroue, dat Hy ons die pad sál wys. Dat ons ons oë daarom op Hom moet hou, so algaande. Dat Hy vrede sal gee …


Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein en moderator van die NG Kerk.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.