Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jacqueline de Lange het ’n lang pad gestap tot waar sy vandag is, maar iets wat soos ’n goue draad deur haar storie loop is haar oorweldigende bewustheid van God se roeping om om te gee vir mense vertel Jaco Strydom. Foto's: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Jacqueline de Lange oor haar Kolkata in Pretoria


Nou die dag loop ek Moeder Teresa hier in die Moot in Pretoria raak. Wel, dit is wat die meeste mense wat dié vrou ken haar noem. En met goeie rede, want net soos by die heilige van Indië, is omgee haar hele lewe.

“Go find your own Calcutta,” sou Moeder Teresa dikwels sê. En dit is presies wat Jacqueline de Lange gedoen het. Haar Kolkata is die eensame en weerlose bejaardes van die stad.

Reeds vroeg in haar lewe het sy kennis gemaak met die wrede kant van die lewe en ’n belangrike besluit geneem.

Die storie oor haar kinderjare is tragies, om die minste te sê. Maar ironies genoeg – juis omdat haar verhaal nie daar eindig nie — is dit ook dié tipe storie wat jou weer in God se goedheid laat glo, aan die wonderwerk van ’n nuwe begin en dat die lig steeds mag het oor duisternis.

“Ek was amper ses toe my pa my ma doodgesteek het. Hy het haar dertien keer met ’n jagmes gesteek en ek en my babasussie was daai aand daar in die woonstel. Hy het ’n onverstaanbare ligte vonnis gekry – baie vreemd in ’n tyd toe die doodsvonnis nog in was. En toe, nadat my pa ’n paar jaar later uit die tronk vrygelaat is, is ek en my sus weer terug in sy sorg geplaas. Dis ’n lang storie, maar hy het ons erg mishandel en hy sou dikwels sê hy gaan aan ons doen wat hy aan my ma gedoen het, en hoe sy dit verdien het.”

Nêrens is Jacqueline se passie duideliker as wanneer sy oor die mense met wie sy elke dag te doen kry praat nie.

Teen matriek kon sy dit nie meer hou nie en het sy via die skool die welsyn se hulp ingeroep. “Veral ter wille van my sussie wat nog vyf jaar by my pa sou moes bly,” sê sy.

Binne ’n week is hulle in ’n plek van veiligheid geplaas. Jacqueline se suster is later na ’n kinderhuis en sy het na skool by Unisa begin werk en onder andere sielkunde gestudeer.

Sy vertel van die goeie mense wat die Here oor haar pad gestuur het, vriende, onderwysers, ’n maatskaplike werker, haar oom, Chris van Rooyen. Terwyl haar pa in die tronk was het hulle vir ’n tyd lank by familie gewoon en dit is hier waar haar oom gereeld vir hulle stories uit die Kinderbybel gelees het.

“Die stories het my gefassineer en ek het gou lief geraak vir die Bybel. Oom Chris het ons ook geleer dat harde werk deure oopmaak. Die twee beginsels het die fondasie van die res van my grootwordjare geword. Nadat my pa uit die tronk is, was my ondersteuningsnetwerk en familie skielik weer weg, maar God self het my ouers en familie se plek ingeneem.

As ’n klein dogtertjie het sy gereeld in Sunnyside rondgedwaal, enigiets om nie by die huis te wees nie. “Op ’n dag, in graad 7 het ek ’n groep mense gesien en nader gestap. Daai dag het ek my lewe vir die Here gegee in die Wesley Methodist Kerk langs Burgerspark. God was deur al my donker jare my konstante vriend en krag.”

Die lewe maak jou bitter of beter. Jacqueline het beter gekies.

Sy het ’n lang pad gestap tot waar sy vandag is. Iets wat soos ’n goue draad deur haar storie loop is haar oorweldigende bewustheid van God se roeping om om te gee vir mense. Oral, maak nie saak waar sy haar bevind het nie. Van destyds toe sy by Unisa in die biblioteek gewerk het, tot later toe sy onder andere mediese bemarking gedoen het, tot vandag waar sy heeldag tussen bejaarde mense beweeg.

Sy en haar span is veral betrokke by drie ouetehuise.

Lees ook: Elders gesien : Verskilmaker Marietjie Buys help jongmense se drome waar maak

“By die meeste van die plekke is daar goeie fisiese sorg, maar baie oumense vereensaam,” sê sy. “Ek het deeglik hiervan bewus geword in my jaar by Kind2Hearing waar ek bejaardes moes ondersteun met hulle gehoorverwante issues. Die Good Mood Club/ekerk tuisversorgers hou die bejaardes by Huis Herfsblaar, Huis Janri en The Inn konstruktief besig met voorlesing, speletjies, konserte, sprekers, kunswerkies, pretstap, Woefiedag ens ens. Wonderlike vrywillige werkers gee hulle tyd/geld en ons is heerlik besig. Die ekerk-tuisversorgerspan bak gratis pannekoek elke tweede week en elke dag is daar iets lekker om te drink en te eet. Vir die introverte doen ons individuele besoeke. Die einddoel is om die bejaarde uit hulle kamer te kry, al is dit op ’n individuele basis deur in die tuin te gaan stap en te gesels.”

Die ekerk-tuisversorgerspan bak gratis pannekoek elke tweede week en elke dag is daar iets lekker om te drink en te eet.

 

Sy vertel van ’n ouetehuis in die middestad waar dit tans finansieel rof gaan, soveel so dat die krag nou die dag afgesit is. Nou probeer hulle help met kos, klere en komberse.

Die eerste paar jaar het sy alles op haar eie gedoen, met net haar man en kinders se ondersteuning, maar op ’n dag kontak prof Stephan Joubert haar en vra hoe ekerk kan help.

“Hulle het vir my personeel aangestel om my te help. Ekerk voorsien ook hulp met ander goed wat ons nodig het soos inkleurboeke en potlode en baie meer. Marietjie Joubert en van hulle ander mense kom kuier gereeld by ons. Dankie, ekerk!”

Nêrens is Jacqueline se passie duideliker as wanneer sy oor die mense met wie sy elke dag te doen kry praat nie. Sy vertel van Oom Jan:

“Hy is Huis Herfsblaar se mees geliefde inwoner. Jan het MS in ’n gevorderde stadium. In die sewe jaar by Huis Herfsblaar het ek hom nog nooit hoor kla nie. Al behoefte wat hy het, is om vir twee of drie ure in die oggend in die sitkamer te sit in sy rolstoel en oor die tuin uit te kyk. Al kan hy eintlik nie meer so goed sien nie. Hy is altyd tevrede en vol lewensvreugde. Hy is een van my beste vriende. Ons gaan op uitstappies (met sy rolstoel) na die nabye winkelsentrum, lag baie saam en hy inspireer my. Wanneer ek by Jan is, wil ek ’n beter mens wees. Elma is die mooiste en beste kind wat Jan ooit voor kon droom. Haar diep omgee vir haar pa is werklik pragtig om te aanskou. Ek wens al die kinders was so!” sê sy – en ék wens al God se kinders was soos Jacqueline.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugontwikkeling en die NG Gemeente Villieria.

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.